Jhb tot plaaslike rampgebied verklaar

Herman Mashaba, die burgemeester van Johannesburg, het Sondag gebiede besoek wat deur die erge storm geraak is wat Saterdag in dele van die stad gewoed het. Foto: Herman Mashaba/Twitter

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het dié stad tot ʼn plaaslike rampgebied verklaar ná ʼn verwoestende storm verlede naweek groot skade aangerig het.

Die verwoestende storm, wat grotendeels die weste en die suide van Johannesburg geraak het, het honderde haweloos gelaat nadat die storm dakke afgewaai het en huise inmekaar laat stort het.

Groot dele van Lenasia, Tshepisong, Thembelihle, Alexandra, Maria Lewis, Protea Glen-uitbreiding, Westbury, Roodepoort, Kagiso en Bram Fischerville is in puin gelaat.

Twee mense van Lenasia is ook dood toe ʼn boom op die motor geval het waarin hulle gereis het.

Mashaba het in ʼn verklaring gesê die skade word in dié stadium op R186,5 miljoen geraam. Hy het egter gewaarsku dat dié getal nog sal styg aangesien die skade nog nie klaar geëvalueer is nie.

“Gegewe die skade, die bepalings van die Wet op Rampbestuur en uitgebreide gesprekke met belanghebbendes wat die Gautengse provinsiale rampbestuursentrum insluit, is daar besluit om die stad tot ʼn rampgebied te verklaar,” het hy gesê.

Hy het gesê dat die skade hoofsaaklik aangerig is aan dakke en grensmure. Mashaba het gesê die stad se belangrikste prioriteit in dié stadium is om te verseker dat inwoners wat deur die storm geraak is, hulp sal ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Houtoog ·

Derde par.: Spelling van plekname is pateties.
Laaste foto se onderskrif: ‘ . . . was beskadig is.’?

Cyril Blackburn ·

Dagsê Houtoog
Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die glips – die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

mc ·

Herman Mashaba is voorwaar iemand om na op te kyk. Sterkte met.jou groot taak. Wens ons kan iemand soos hy in di Kaap kry want mens het nou al heeltemal jou respek v Patricia de Lille verloor. Die DA sal moet.huis skoonmaak hier want hulle gaan bitter baie steun verloor oor hulle bestuursdramas.

Muffin ·

Cyril van Maroela,
Baie dankie vir jou pragtige terugvoer op Houtoog. Ek glo Houtoog is seker maar n onderwyser met n valkoog ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.