Jhb-verkeersligte ʼn prioriteit, sê Gautengse regering

Argieffoto (Foto: Siobhan Dolezal/Pixabay)

Die Gautengse regering het sy toewyding bevestig om met gemeenskappe saam te werk om probleme met verkeersligte te takel.

Die provinsiale departement van paaie en vervoer sê hy wil die probleme op provinsiale paaie in die Johannesburgse munisipaliteit aanspreek ná hy die instandhouding oorgeneem het van die Johannesburgse Paaie-agentskap (JRA).

Jacob Mamabolo, LUR vir openbare vervoer en padinfrastruktuur, het in ʼn verklaring gesê sy departement het die instandhouding van 250 verkeersligte (uit meer as 2 000 verkeersligte) by die JRA oorgeneem ná die entiteit versuim het om te voldoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die departement kon dus nie die JRA betaal nie.

“Die departement het besluit om padveiligheid en slim mobiliteit te prioritiseer ná JRA se probleme met die SAID aan die lig gekom het. Interne kapasiteit is geskep om die 250 verkeersligte uit meer as 2 000 in die stad oor te neem.”

Sedert die departement die instandhouding in April 2022 oorgeneem het, is beduidende vordering reeds gemaak om verkeersligte te herstel, insluitend Columbinelaan en die R82, die R101 en Olifantsfonteinweg, Swartkoppiesweg en Kliprivierrylaan, asook Witkoppenweg en Montecasinorylaan.

“Ons het ook ʼn rits digitale platforms beskikbaar gemaak vir padgebruikers om foute aan te meld of verkeersligte wat buite werking is. Ek is baie tevrede met die werk wat ons tegniese spanne reeds verrig het om seker te maak foute word binne ʼn redelike tydperk herstel,” het Mamabolo bygevoeg.

Lede van die publiek word aangemoedig om foute met verkeersligte per e-pos aan te meld by [email protected] of gebruik die Android-app PotholeFixingGP om instandhoudingskwessies soos slaggate, padmerkers of gras wat gesny moet word, aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Die krag of tekort daarvan is die grootste probleem so privatiseer Escom en probleem is opgelos.

Santjie van Soendal ·

Nie miskien Pretoria nie, definitief asseblief… daar is heelwat kruisings waar waar mens soek om die verkeersligte raak re sien…veral in die Wilde Weste waar die Wilde taxi’s Woema oor die kruisings….en baie vragmotors die paaie vol gate en slote ry, tot in Kerkstaat van vroeër jare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.