Jhb vra tydelike kwytskelding van beurtkrag

Argieffoto (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Die burgemeester van Johannesburg het Maandag dringend versoek dat Eskom die stad kwytskeld van beurtkrag, totdat die meeste van die uitdagings met die kraginfrastruktuur uit die weg geruim is.

Mpho Phalatse, die burgemeester, het in ʼn skrywe aan die kragvoorsiener gevra dat die stad vir die volgende drie dae geen beurtkrag kry nie, in ʼn poging om die “byna onoorkomelike uitdaging van eskalerende foute en kragonderbrekings ná stortreën in Gauteng die hoof te bied”.

Hoewel die stad die kragverskaffer, City Power, vordering maak om aandag te gee aan die duisende onderbrekings wat verlede week se gure weer en oorstromings tot gevolg gehad het, word herstelwerk gekniehalter deur voortdurende reën en beurtkrag.

“Dit is ʼn saak van dringendheid dat City Power aandag gee aan die wydverspreide en eskalerende foute. Dit is dus kommerwekkend dat beurtkrag nie net bykomende foute en spanning op die netwerk veroorsaak nie, maar ook die stad se kragverskaffer verhoed om effektief aandag te gee aan die onderbrekings om die situasie te stabiliseer,” sê Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuur.

“Die feit bly staan dat City Power nie aan kraglyne en infrastruktuur kan werk wanneer daar beurtkrag is nie, en kabeldiefstal neem eksponensieel toe in hierdie tyd.”

Sedert Maandagoggend probeer City Power aandag te gee aan meer as 4 000 oproepe wat verband hou met kragonderbrekings. Die meeste van die onderbrekings verg egter herstelwerk wat oor ʼn paar dae strek.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, het vroeër gesê dat Roodepoort en Hurtshill, en nou ook Northcliff en Lenasia, die ergste deur die kragonderbrekings geraak word.

Hoewel die verwoestende storms ʼn groot rol in die kragonderbrekings speel, het Tshifularo Mashava, uitvoerende hoof van City Power, Sondag tydens ʼn perskonferensie onthul dat al hoe meer onderbrekings aangemeld word weens kabeldiefstal.

City Power moes reeds Sondag van sy tegnici aan Jeppestown digby die Ellispark-stadion onttrek nadat hulle met vuurwapens aangehou is, asook beroof en aangerand is.

“Tegnici meld daagliks aan dat hulle allerlei dreigemente ontvang en deur lede van die publiek wat hulle probeer help deur kragtoevoer te herstel, geïntimideer word,” sê Sun.

“Om infrastruktuur soos ʼn mini-substasie te vandaliseer uit woede oor die voortslepende kragkrisis sal die herstel van kragtoevoer net nog langer vertraag en honderde ander inwoners in donkerte dompel.”

Sun het opnuut ʼn beroep op alle Johannesburgse inwoners gedoen om te help om City Power se tegnici en infrastruktuur te beveilig “sodat ons saam deur hierdie krisis kan kom”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SwartBees ·

Hulle het baie meer as drie dae nodig om al die probleme uit te sorteer.

Pieter ·

Hou op nonsens praat ,en sny die onwettige konneksies af. Hoekom word die plakkerskampe nie geloadshed nie, hulle betaal nie eers vir krag nie.

Elma ·

Nee. Toe Potchefstroom vir dae lank n krisis beleef het met watertoevoer agv beurtkrag en die invloed op die waterpompe het Eskom ons n middelvinger gegooi.

Jacobus ·

Hier op die platteland wurg Eskom ons tot op ons knië. Vorder die agterstallige in, sny onwettige af en vermorsel kabeldiewe. Persoonlik moeg vir krag wat ‘n politieke speelbal geword het terwyl wetsgehoorsames deur al wat politikus tot by die President vertrap word.

Danie ·

Gee my net n kragopwekker en gratis diesel dan bly ek ook stil.

Pietertjie ·

Ek lag my ‘n papie! Skeld ons vry van beurtkrag, want ons krag is af!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.