Jhb-vrou op Oukersaand aan die brand gesteek

Tracy Samuels. Foto: Instagram

ʼn Johannesburgse vrou het ernstige brandwonde opgedoen nadat daar op Oukersaand ʼn vlambare vloeistof oor haar gegooi en dit aan die brand gesteek is.

Tracy Samuels (39) van Florida in Roodepoort is ná die aanval in ʼn kritieke toestand in die brandeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto opgeneem waar sy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel is.

Leonard Scott Turner, Samuels se oom, het Vrydag aan Maroela Media gesê Samuels het met iemand rusie gemaak, glo oor ʼn WhatsApp-gesprek op haar foon, toe die voorval gebeur het. Volgens Scott Turner is die vloeistof wat oor Samuels gegooi is ʼn rou vorm van asetoon wat gebruik word om oppervlaktes mee skoon te maak voor gespesialiseerde materiaal neergelê word. Scott Turner het gesê dié vloeistof is hoogs vlambaar.

Volgens Scott Turner is hy tans in Durban en kon hy daarom nog nie persoonlik vir Samuels in die hospitaal besoek nie, maar volgens familie en vriende is sy intussen van die asemhalingsmasjien afgehaal en is die verbande van haar gesig verwyder. Scott Turner sê hy verstaan Samuels is deur die kritieke tydperk ná so aanval.

Volgens berigte het Samuels 40% brandwonde oor haar lyf opgedoen, maar Scott Turner sê dit is nog te vroeg vir dokters om die presiese omvang van die brandwonde te bepaal. “Ek weet nie eintlik wat om hieroor te sê nie. Uiteraard is ek verskriklik ontsteld oor wat gebeur het,” het hy gesê.

Hy het gesê Samuels se 11-jarige seun was glo by toe die aanval gebeur het. Van Samuels se familielede sien tans na hom om terwyl sy ma in die hospitaal is.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ʼn verdagte ná die aanval op Samuels in hegtenis geneem is. Die verdagte sou Donderdag in die landdroshof in Roodepoort verskyn het, maar die saak is van die rol geskrap.

Masondo kon nie onmiddellik redes verskaf hoekom die saak van die rol geskrap is nie en het gesê die polisie wag steeds vir die dossier om van die hof af terug te kom met die redes daarvoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

zoom zoom ·

Ek voel jammer vir dame. MM hierdie berig het al in ander nuus platforms verskyn. Moet asb nie ou berigte plaas nie. Soek nuwe scoops asb

Koos ·

Zoom zoom, Van ons ander lees nie ander nuus nie, behalwe Maroela, so ek is dankbaar vir die plasing van enige berig. Ek bly nie onder n klip nie, maar ver, so was dit nie vir Maroela nie, sal ek nie sulke goed weet of van dit hoor nie.

Willem ·

Sal seker weer hierdie comment ook delete, maar hier gaan ek inelkgeval…

Ek sien ook al hoe meer “ou” nuus wat MM n dag of 2 later eers plaas. Laat mens wonder of hulle regtig dit wil doen want hulle berigte is baie half en onduidelik, doen nie regtig baie werk nie, net die gereelde “die saak word ondersoek” of “die verdagtes word ondersoek vir poging tot moord” as daar n moord was…

Nee ·

Nee ons as publiek kan nie en mag nie aanvaar dat sie saak van die rol geskrap word nie. Die vrou word lyk my deur iemand wreed verhoed om geregtigheid te laat geskied.

Koos ·

Zoom zoom, Van ons ander lees nie ander nuus nie, behalwe Maroela, so ek is dankbaar vir die plasing van enige berig. Ek bly nie onder n klip nie, maar ver, so was dit nie vir Maroela nie, sal ek nie sulke goed weet of van dit hoor nie.

Justice ·

Ek sekondeer jou Koos hier vanuit die afgelee Limpopo bosveld.

M ·

Ek het vandag nog net negatiewe kommentaar op die MM berigte gelees… mense – as jy nie hou van MM se manier van beriggewing nie – gaan betaal gerus jou R100+ vir die betaal mediahuis se koerant – moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie – ek is baie dankbaar vir die beriggewing wat MM gee.

Nita ·

Ek is ook baie bly oor die “ou” nuusberigte. Op Netwerk24 kry ek net opskrifte en is dan baie bly om later op MM die volle storie te kan lees.

Juliet ·

My vriendin jou liefde vir diere, jou kind, die dag wat ek jou ontmoet het! Onse HERE slaap nie. Sien jou more! Wees bereid vir baie chocolates!

Rikag ·

Stem saam gaan soek ander berigte los MM uit ek waardeer die berigte wat hulle plaas. Dankie MM.

Wonder ·

Hier gaan die polisie. Doen ‘n arrestasie en al wat die hof doen is gooi dit uit. Sal graag die rede wil hoor. Maak nie saak wat aanleiding gegee het tot die voorval nie, dit is nogsteeds ‘n poging tot moord. Wonder of dit iets eenvoudigs kan wees soos ‘n dossier wat nie volledig ingevul is nie, of dat die hof werklik waar nie die persoon gaan vervolg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.