Jhb-vrou skiet twee huisrowers dood

Een van die rowers wat geskiet is. Foto: Glenvista-gpf

Een van die rowers wat geskiet is. Foto: Glenvista-gpf

ʼn Inwoner van Glenvista in die suide van Johannesburg het Maandagoggend twee vermeende rowers in haar huis doodgeskiet.

Bruce Lennox, woordvoerder van die Glenvista-gemeenskappolisiëringsforum, het aan Maroela Media gesê die vrou en haar man, vermoedelik in hul 50’s, is omstreeks 04:20 deur drie gewapende mans wat klapmusse gedra het, oorval terwyl hulle geslaap het.

“Die verdagtes het die egpaar in hul slaapkamer oorweldig en gedreig om hulle dood te skiet,” het Lennox gesê. “Die vrou kon daarin slaag om haar gelisensieerde vuurwapen in die hande te kry, waarna sy twee van die mans geskiet het. Albei is op die toneel dood. Een se liggaam is in die slaapkamer aangetref en die ander een net buite die huis se voordeur.”

Lennox het gesê die derde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek. Sover vasgestel kan word, word net ʼn skootrekenaar vermis.

Hy het gesê die Mondeor-polisie het op twee vuurwapens, wat in die verdagtes se besit was, beslag gelê.

Ao. Jerbes de Bruyn, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en moord. “Dit is roetine in ʼn geval waar iemand doodgeskiet is, dat ʼn moorddossier oopgemaak word. As die ondersoek gedoen is sal die nasionale vervolgingsgesag besluit of die skieter vervolg gaan word,” het De Bruyn gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

52 Kommentare

Kolskoot ·

Nee wat die vervolgingsgesag kan die een maar begrawe want die vrou het gedoen wat sy moes om haarself, haar man en haar eiendom te beskerm! Mooi so suster dis tyd dat die kriminele begin reg op sit en besef dat onskuldige mense nie meer handjies gevou agteroor gaan sit en toelaat dat daar gemaak en breek word soos voorheen nie!

stoney steenbergen ·

Dit is bog dat n moord dossier in so n geval oopgemaak moet word. As dit duidelik blyk dat die vrou in noodweer opgetree het kan daar net n geregtelike doodsondersoek gedoen word en kan n landdros besluit of vervolging ingestel moet word.

PIXIE ·

EK GLO NIE WAT EK LEES NIE. DIE VERVOLGINGSGESAG SAL BESLUIT OF DIE SKIETER VERVOLG GAAN WORD OF NIE? HOE DE DUIWEL IS DIT MOONTLIK DIT IS MOS UIT SELFVERDEDIGING ! DIT WAS OF SY EN HAAR MAN SE LEWE. STERKTE EK DINK JY WAS BAIE BRAAF. EK BID DAT DIE DERDE GEMORS NIE GAAN TERUG KOM NIE. MET LIEFDE EN GEBEDE VIR JOU EN JOU MAN.

Liewe lulu ·

Eers was ek baie vies oor die vuurwapen opleiding, wat verpligtend is as jy jou vuurwapen wou behou. Nou is ek dankbaar, want dit is juis deesdae die swakkere geslag wat skiet. Sterkte vir die dame.

George ·

Ek raai die polisie gaan of het haar wapen geneem vir “balistiese toetse” en gaan haar soos ‘n krimineel behandel tot daar eendag besluit is dat sy nie skuldig is nie. Dit maak my siek om net daaraan te dink.

Hendrik ·

‘n Mens mag/moet jouself en gesin beskerm. Baie goeie nuus dat die onskuldige mense die oorhand oor hul aanvallers gehad het.

Anoniem ·

Nou is my Maandag nie meer blou nie. Laat die skurke besef ons is ernstig oor ons veiligheid. Hopelik sal die regering wakkerskrik as die misdadegers in eie munt terug betaal word.

neelsie ·

Ons het nie meer n keuse nie….VERDEDIG JOUSELF.
Tog jammer dat so baie van ons mense nie daarmee saamstem nie.

ELSABE ·

MOOI SO MAAR JA SY SAL SEKER VERVOLG WORD GELISENSIEERDE WAPEN OF NIE

PIXIE ·

Elsabe, ek dink jy praat die waarheid. Hulle gaan haar aankla vir poging tot moord maar ek is baie dankbaar dat sy en haar man se lewens gespaar is vir hul familie / kinders. Ek is baie bekommerd oor nommer 3 wat weggekom het. Jy weet sulke mense kom terug om wraak te neem. Hulle kom dan terug en vergiftig die honde-kinders van die dame. So terloops pasop vir GC se kommentaar hy/sy kla oor CAPS LOCK gebruik nou-nou word jy ook oor die kole gehaal. Ek is nie gepla oor sulke aanmerkings nie want ek is 67 jaar oud en sulke mense kry ‘n mens oral in die samelewing. Wat se hulle: small things amuses small minds. Liefde, mooi dag en pas jouself op.

Wessel Pretorius ·

Dagsê Maroala Media.

Kan julle dalk vir ons ingelig hou deur op te volg oor wat alles met die dame gaan gebeur ?
Ek dink dis hoog tyd dat die onskuldige mense presies meegedeel word met alles met mens gebeur na so ‘n geval asseblief. Mens lees nêrens ooit wat van die persoon geword het wat die skiet werk gedoen het is so ‘n “self beskermings geval”. Ons het nodig om die algemene publiek daarvan in te lig sodat hulle weet wat om te kan verwag… Baie dankie vir julle harde werk !

Erwin ·

Stem saam – sal defnitief meer wil hoor van wat gebeur het na die tyd.
ek vermoed as mens wel by die reels hou , en nie die toneel besoedel nie – dan sal die Polisie die nodige bewyse he om die saak te laat skrap.
as ons meer en meer terugvoer kry wat wys mens mag jouself en jou gesin verdedig met geweld, dink ek ons kan dalk n omdraai maak.

jacques ·

Jy is nogal reg mens hoor nooit wat gebeur het nie,wonder hoekom nie.

At ·

Omdat die mense nooit aangekla word nie, dis mos voor die hand liggend, ken julle nie die wet nie. Koerante skryf ook nie daaroor nie want dis nie sensasie nie

AmY ·

Vermeende rowers? Genade! Hulle was 04:20 die oggend in die mense se huis. Hulle het beslis nie kom koffie drink en kuier nie. Hulle het gekom om te beroof en dood te maak.

Willie Olivier ·

So, nou word ou mense van moord aangekla wanneer hulle hulself verdedig in hulle eie huis teen twee gewapende diewe! Hoe siek het ons gemeenskap geword?

Cheryl Saunders ·

Ja, hulle het skaars tyd om die gevaarlike elemente vas te vat, maar nou het hul baie tyd om te besluit of die dame skuldig is aan moord. Haai, hoe werk dit dan, ouens? Daardie mans het nie gekom om ‘cowboys en kroeks’ te speel nie. As iemand jou huis invaar met ‘n vuurwapen in sy hand, is hy mos van plan om iets daarmee te doen!!

Bruce ·

Welgedaan mevrou!!!
As alle onskuldige slagoffers tog maar net jou voorbeeld wil volg sal die misdaad syfer in Suid Afrika DEFNITIEF afneem.

Jacomien ·

Dit gaan al hoe meer gebeur . Mense is keelvol vir misdaad en kan nie staat maak op ons polisiemag nie.

christine mathom ·

Mooi mevrou daai tyd in oggend kom hulle nie in vrede al die pad reg na julle toe. Check jou huiswerkers net te maklik,niks is net toevallig nie die gevaar nader aan jou as wat dit lyk.hoekom juis julle huis?

Marlene Oosthuizen ·

Vat so katvis! Laat dit nou ‘n les wees vir alle voornemende skurke. Ons het nou genoeg gehad en sal ons nou maar self verdedig aangesien ons slap regering net handjies gevou sit en niks doen. Tot iemand na aan hulle iets oorkom dan sal berge versit word om die skuldiges aan te keer.

Karien ·

Ek sou net graag wou weet. Gaan die vrou nou opgesluit word tot die saak voorkom en dan bail moet betaal om uit te kom. Indien wel,wat word van haar in die tyd wat sy toegesluit word? Ons almal weet hoe dit gaan in die selle waar jy aangehou word.

Veronica ·

2 rowers minder !!!! En syt n gelisensieerde wapen gebruik . . . . . . en twee vuurwapens wat in verdagtes se besit was . . . . . . en hulle was oorval in hulle eie huis . 4 feite wat niemand kan betwis nie . Jyt geen misdaad gepleeg nie Mevrou , net uit noodweer opgetree , SAAM JULLE DANKBAAR JULLE LEEF !!!!!!!!

Grassie ·

Bravo, dapper dame. U stel ‘n voorbeeld vir andere wat te lui of te bang is om die nodige voorsorg te tref.

ELAINE ·

Good for you Laat 12 haar nou judge as wat 6 haar moet dra!!!!

Pieter ·

Trots op die dame wat betyds kon reageer en haar gesin kon beskerm! Tog wil ek graag as regskundige in paar (onkundige?) punte van vorige kommentaar in perspektief stel. In enige kriminele voorval moet al die feite eers deur deeglike polisie-ondersoek bevestig word, insluitend ondersoek van alle vuurwapens betrokke. Indien enigiemand sterf (ongeag die omstandighede), word ‘n moorddossier geopen. Intussen word na “verdagtes” en “vermeende rowers” verwys tot die ondersoek voltooi is. Na die voltooide ondersoek word die dossier aan die vervolgingsgesag voorgelê, om op die bevestigde FEITE te besluit of enige vervolging oorweeg moet word. In geval van selfverdediging sal geen vervolging ter sprake wees nie en die persoon se vuurwapen teruggehandig word. Alhoewel so ‘n voorval uiters traumaties is (selfs vir ons lesers) en dikwels op die oog af ‘n “close and shut case” blyk te wees, kan almal rustig wees oor die korrekte wetlike prosedures wat gevolg moet word om tot ‘n korrekte bevinding te kom. Baie sterkte aan die betrokke gesin met die verwerking van hierdie nare voorval!

Dave ·

Pieter, mens hoef nie ‘n regskundige te wees om hierdie dinge soos deur jou beskryf te kan beredeneer nie. Dit is tog logika. Selfs die ondersoek van die wapen want al erken die een wat die skietwerk gedoen het dit, is daar steeds fsktore soos afstand wat geskiet is en dies meer. Wat egter uiters lastig is in ‘n geval soos dit waarvan gepraat word, is die tydperk tussen konfiskering van die wapen en terughandiging met nikswerd polisie agter hul toonbank en vuurwapeneienaars wat vir daardie tyd ongewapen is. Lees die kommentaar van die vrou wat ‘n rower vanuit haar hangkas geskiet het mbt tot hoe sy behandel is in ‘n polisiestasie.

Pieter ·

Dave, ek stem heeltemal met jou saam. Baie faktore kan ‘n rol speel. Maar vir sommige persone is dit nie so logies nie, vandaar die emosioneel-gelaaide vrae en onsekerheid deur sommiges – daarvoor het mens ook begrip. Daarom my poging tot meer perspektief. Die ander berig waarna jy verwys, het my ook lelik omgekrap – ek het ook al onder patetiese behandeling deur die polisie deurgeloop, met vele verskonings daarna. Niemand het so iets in hul lewe nodig nie. Mag hierdie swak behandeling deur sekere polisielede nou end kry (soos onlangs weer deur polisie-topstruktuur belowe)!

Dave ·

Susan, lees Pieter se kommentaar (veral die eerste een). Daar moet ten minste ‘n geregtilike ondersoek wees. Die polisie in hierdie land is wel uters swak maar as dit sò ver sou gaan dat húlle ‘n besluit kan maak of dit hof toe moet gaan of nie, behoort ons te vlug. Ten minste behoort daar ‘n ondersoek te wees wat haar onskuldig bevind. Daar moet net nie tyd gemors word daarmee en myns insiens behoort dit nie eens nodig te wees vir haar om in ‘n hof te verskyn.

Goddi ·

N Vrou wat respek verdien en so na haar man se hart. Hou net op om die wreedaards rowers te noem.
Jammer hulle sal die surprise nie kan onthou nie

Pieter ·

Susan, dis jammer dat jy blykbaar nog steeds nie verstaan wat ek in eenvoudige taal in my eerste kommentaar probeer verduidelik nie – het jy dit wel gelees, of net die tweede een in antwoord op Dave? Indien wel, glo ek nie jy sou sulke stellings maak nie. Ons is almal trots op haar optrede en die regsproses sal dit ook korrek saam met alle feite in die ondersoek hanteer. En die ander inligting wat sogenaamd nog nie bekend gemaak is nie? Gee kans – die voorval het eers vroeg vanoggend plaasgevind!

CHRISTA ·

Pieter, weet jy dalk wat met die wildbewaarders gebeur wat die wilddiewe bykom? Word daar ook eers ‘n moord-dossier geopen voordat die saak afgehandel kan word? Dankie.

PIXIE ·

Hi Johan, ek raak nou kriewelrig met die alleen blyery op die kleinhoewe waar ek huur. Sebokeng (Vereeniging) is net oorkant my cottage. Vanoggend net na 12 het my honde geblaf na die filistyne klippe op die dak gegooi het. Ek het my alie afgeskrik en het ‘n paar skote afgetrek met my Baby Browny en alles het doodstil geraak maar ek kon nie weer slaap nie. Ek was bang ek het ‘een’ doodgeskiet maar vanoggend het ek rondom die huis geloop en geen dooie filistyne gesien nie. Waar gaan dit alles eindig? Ek is by die werk maar voel onrustig ek is so bang hulle gee my honde kinders gif, hulle is al wat ek het. Pas jouself op, groetnis en liefde.

PIXIE ·

Hi Riaan, dit is waar maar daar is nog honderde sulke moordenaars wat daagliks hier tussen ons beweeg. Ek bid dat die arme vrou nie nagmerries gaan kry EN skuldig voel omdat sy sulke gemors doodgeskiet het nie. Sy was baie braaf. Ek trek ‘n skoot of twee af soos vanoggend na 12 toe HULLE my kom pla het op die kleinhoewe maar weet nie of ek die GUTS het om aangesig tot aangesig iemand te skiet nie. Ek hoop en bid dat ek nie in so ‘n situasie sal kom nie.

Olivia ·

Dieselfde het met die man gebeur wat onlangs by die huis gekom het en die rower en verkragter (wou sy vrou verkrag) toe doodgesteek het met sy eie mes. Hy is aangekla vir moord. Nie eers gekyk na selfverdeding nie.

PIXIE ·

Hi Olivia, dit is skokkend. Wat het toe van die saak van poging tot moord geword teen die man? Ek lees nou eers daarvan en wil graag weet of die man O.K. is. Groetnis.

Hennie van der Merwe ·

Dit is vir my duidelik dat rasisme ‘n baie groot rol speel in al die aksies na die noodweerskietery! Gaan dit ooit verander?

richie ·

Ek is baie trots op wat gebeur het,maar my bekommernis is dat die vuurwapen vir ballisties moet gaan reg ja,maar nou is daardie gesin sonder beskerming, hoekom is daar nie wetgewing wat die SAPD verplig om dieselfde soort vuurwapen aan so iemand te gee nie tot tyd en wyl daar gewag word op die wapen se terug keer ,en dit is beslis nie afgehandel binne n dag of twee nie.Vra maar net

hennie ·

Dis n LEUEN dat dit normale prosedure is om n moorddosier te open waar person (Krimineel) gedood in noodweer! Slegs n nadoodse ondersoek dossier word ge-open of veronderstel was ge-open te word! Dit is duidelik dat rassisme hier n rol speel!Polisie van vandag ken nie die wet nie en weet nie hoe om op te tree nie asgevolg van swak of geen opleiding!

Jakkals ·

Almal moet die betrokke polisiestasie bel en hulle die vrae vra.As hulle agterkom baie mense vram vrae kry hulle dalk hul agterente in rat

PIXIE ·

Hi Jakkals, jy maak ‘n grap, hulle sal nooit hulle agterente in rat kry nie. Ons moet probeer om daarmee saam te leef en te OORLEEF sover as wat ons kan. Hou maar jou ogies oop wanneer jy naby jou huis kom. Nou die dag het HULLE “video tape” die hele pad langs die kleinhoewe se DRIVEWAY geplaas ek het toe die een punt opgetel so in die ry en die hele boksemdais bymekaar gemaak en HULLE geskakel en wag nou nog vir hulle reaksie. Toe skiet ek maar ‘n paar skote die aand en nou is dit darem stil.

Tinus ·

Mag jy ’n inbreker wat jy in jou huis betrap, summier doodskiet? Philip de Bruin het die kenners gevra.

Foto ter illustrasie.

Die kort antwoord is: Ja, jy mág ’n inbreker in jou huis skiet en selfs doodskiet.

Maar met dié antwoord saam kom ’n norring regsreëls en regsbeginsels wat ook in ’n paar woorde saamgevat kan word: wederregtelikheid en die redelike man.

Prof. Tom Coetzee van Potchefstroom, wat sy doktorsgraad in strafreg behaal het en wat lank as streeklanddros waargeneem het, stel dit só:

“As ’n lid van die publiek bewus word van ’n inbreker in sy huis, of dit nou in die dag of die nag is, en so ’n inbreker betrap, wéét hy mos dat daardie inbreker nie daar is om ’n koppie koffie te kom drink nie.

“Dit help jou niks nie jy stap na die inbreker toe en sê vir hom nie: ‘Hallo, my naam is Tom Coetzee. Waarmee kan ek help? O, jy breek in? Nou beplan jy om my of my vrou of my kinders te beseer of te vermoor of te verkrag? Indien dit die geval is, wys my asseblief net gou eers jou wapen, sodat ek ’n soortgelyke wapen kan gaan haal om myself mee te verdedig.’

“Teen daardie tyd is die huisbewoner lankal ’n lyk. In ’n land soos Suid-Afrika, waar die howe geregtelik kennis kan neem van die geweldige hoeveelheid inbrake in die land waarvan die meeste met baie ernstige geweld gepaardgaan, sal die redelike man se eerste gedagte wees dat hy homself, sy vrou en sy kinders moet beskerm teen ’n moontlike aanval van geweld.

“Onthou dat wat ook al die huiseienaar besluit, hy letterlik breukdele van sekondes het om te besluit of hy gaan skiet of nie. Hy het nie die voordeel van regters en aanklaers wat later in gemakstoele by hul lessenaars rustig die feite kan oorweeg om te besluit of hy billik opgetree het deur die inbreker te skiet nie.

“Dis in die meeste gevalle letterlik ’n geval van dis jy of ek. Dit is waar die geykte regsreël inkom van die redelike-man-toets. Die redelike man sal in sulke omstandighede nie huiwer om sy eie lewe, sy gesin se lewens en sy eiendom teen die inbreker te beskerm nie.

“As die huiseienaar ’n vuurwapen by hom het, is daar net een manier om die inbreker te stuit: Skiet hom! Dit maak nie saak of die inbreker ’n wapen van watter aard ook al by hom het nie.

“Dit kan nie van die redelike man verwag word om eers vir die inbreker te vra watse wapen hy by hom het nie.

“Dit is redelik dat die huiseienaar onmiddellik skiet, al is dit ook ’n doodskoot. Van moord op die inbreker is daar in sulke omstandighede geen sprake nie, want die huisbewoner se handeling was nie wederregtelik nie.

“Hy het nie geskiet omdat hy gatvol is vir misdaad nie, hy het geskiet omdat hy wettig sy lewe en dié van sy gesin en sy eiendom wou beskerm.”

Die strafregkenner prof. Callie Snyman, voorheen van Unisa, stel dit in sy gesaghebbende boek Strafreg – wat in regskringe bekend staan as “die bybel van aanklaers”, só:

“Veronderstel dat X, terwyl sy in haar huis slaap, in die middel van die nag wakker word en agterkom dat ’n inbreker haar kamer of dié van ’n familielid nader. Mag X summier skiet, of moet sy die inbreker eers vra om hom te identifiseer en die doel van sy besoek te verduidelik ten einde te kan besluit wat, objektief beskou, in die omstandighede die gepaste afweerhandeling sal wees?

“Moet sy eers die inbreker in hegtenis probeer neem en dan die polisie bel?

“Daar word aan die hand gedoen dat X in so ’n situasie geregtig is om summier op die inbreker te skiet. Selfs al kom dit later aan die lig dat die inbreker ongewapen en fisiek swak was en maklik deur X oorrompel kon gewees het . . . is dit uiters onwaarskynlik dat ’n hof sal beslis dat X wederregtelik opgetree het deur na die inbreker te skiet.

“ ’n Mens se huis is jou kasteel. Dit is die laaste bastion van jou veiligheid. Ondervinding leer dat selfs ’n oomblik se huiwering deur X in dié soort omstandighede fataal vir X mag wees.

“Om aan X die reg te weier om in sulke omstandighede te skiet, sou daarop neerkom dat van haar verwag word om met haar lewe of dié van haar familie te dobbel, en dit kan die reg nie van haar verwag nie.”

Dié siening bevredig ook die regsgevoel van Johann Gresse, voorsitter van die strafregkomitee van die prokureursorde van die noordelike provinsies.

Hy voeg by dat ook die openbare belang en mening ’n rol sal speel. Geen lid van die publiek sal ontevrede wees omdat ’n inbreker in ’n huis doodgeskiet word nie.

Coetzee en Snyman is dit eens dat nie van die huisbewoner(s) regtens verwag kan word om aan die moontlike dreigende aanval op hulle te ontkom deur eers te probeer vlug nie.

“Dit sal daarop neerkom dat sulke onskuldige mense gedwing word om die veiligheid van hul eie huis te verlaat sodat ’n inbreker sy sin kan kry. Reg moet dus die knie buig voor onreg, wat regtens onaanvaarbaar is,” sê Coetzee.

Snyman stel dit só: “Die reg verwag nie van X om uit haar eie huis te vlug as sy daar aangeval word nie. Haar huis of woonplek is haar laaste toevlugsoord – haar ‘kasteel’ – waar sy haar teen alle onreg kan beskerm.

“Boonop erken ons howe die beginsel dat as dit vir X gevaarlik is om te vlug, in die sin dat sy haar dan blootstel aan byvoorbeeld ’n messteek of ’n koeël in die rug, sy nié hoef te vlug nie, maar haar aanvaller buite aksie kan stel. Dit is die aanvaller (die inbreker) wat opsetlik die wederregtelike aanval loods wat die risiko van besering of dood dra, nie die aangevallene nie.”

Coetzee en Gresse beklemtoon dit egter dié uitleg van die reg gee in geen omstandighede aan enigiemand die reg om links en regs mense te skiet nie.

Daar is byvoorbeeld ’n groot verskil tussen ’n inbreker in jou huis wat doodgeskiet mag word en iemand wat buite in jou tuin rondsluip, klaarblyklik met die bedoeling om te steel of in te breek.

“As ’n huisbewoner so iemand in sy tuin sien, is daar, weer volgens die redelike-man-toets, geen rede om te glo dat daardie persoon inderdaad gaan inbreek nie.

“Tweedens het die huisbewoner genoeg tyd om die polisie te ontbied of sy alarmstelsel te aktiveer. Hy kan selfs waarskuwingskote in die lug afvuur om die sluiper te probeer verjaag.

“Die feit dat ’n inbreker binne in jou huis doodgeskiet mag word, mag nooit ’n free for all word waarin later dan selfs mense op jou sypaadjie voor die huis doodgeskiet word nie.”

Die doodskiet van ’n inbreker in jou huis is reeds in 2003 deur oudregter Johann Kriegler in ’n uitspraak in die konstitusionele hof onregstreeks bevestig toe hy gesê het polisielede mag slegs tydens inhegtenisnemings waarteen verdagtes hulle verset, op verdagtes skiet as die beampte “redelike gronde het om te glo” dat die verdagte ’n onmiddellike gevaar van ernstige liggaamlike leed vir die beampte of ander lede van die publiek inhou.

Dié “redelike gronde om te glo” kan net so van toepassing gemaak word op ’n huisbewoner wat ’n inbreker in sy huis betrap, sê Coetzee.

De Bruin is ’n vryskutjoernalis

Pieter ·

Hennie, jy het blykbaar van sekere terme gehoor, maar jou kennis om iets as ‘n LEUEN af te maak, is (met respek) betreurenswaardig. Daar bestaan nie iets soos ‘n “nadoodse ondersoek-dossier” nie – ‘n nadoodse ondersoek is ‘n lykskouing, wat deel van die normale ondersoek is waar iemand weens onnatuurlike oorsake sterf. Indien na voltooiing van die moordondersoek nie duidelik voldoende gronde bestaan (“prima facie-bewys) om iemand krimineel aan te kla nie, word die saak deur die Vervolgingsgesag vir ‘n Geregtelike Doodsondersoek verwys, waar getuies ook geroep kan word. Die voorsittende beampte moet dan ‘n finale bevinding maak van kriminele aanspreeklikheid, al dan nie. Indien geen sodanige aanspreeklikheid, is die saak afgehandel. Sou hy/sy wel aanspreeklikheid bevind, word die saak na die Vervolgingsgesag terugverwys waarna ‘n strafsaak mag volg. ‘n Bevinding van noodweer of nie, kan eers na volledige ondersoek aan die hand van al die feite tydens die Geregtelike doodsondersoek of die strafsaak, gemaak word. Rassisme het niks met die regspleging te doen nie. Swak polisieopleiding laat wel groot kommer, maar die wetlike prosedure kan nie daardeur verander word nie.

Pieter ·

Christa, op jou vraag rakende wildbewaarders, sou dieselfde prosedure as by enige dodelike skietvoorval volg. Kortom, na enige onnatuurlike sterfgeval moet ‘n volledige ondersoek volg. Die wildbewaarders is ook onderworpe aan die vereistes wanneer doodgeskiet mag word en wanneer nie. Indien hulle in dreigende lewensgevaar verkeer, mag hulle in noodweer optree. Om slegs ‘n arrestasie van ‘n vlugtende stroper uit te voer, geld weer verskeie ander vereistes voordat geskiet mag word, maar dan met die oog op arrestasie en om te dood nie. Elke geval word dus volgens sy eie meriete hanteer.

francois ·

Kan iemand my se waar kan mens deeglike statistieke vind van aanvaĺle wat in stede plaasvind
Weet nie of die inligting beskikbaarr is nie maar ek sal wil uitvind wat was die bettokkenheid van huishulp of tuiniers in elk van die gevalle
Vriende van my is aangeval en na n leunverklikker toets het die huishulp bevestig dat sy die moordenaars ingelig het van waar die kluise is en wat hulle als in die huis aanhou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.