Jhb wil omvang van PSHB-plaag bepaal

Kaliforniese plataanboom besmet met PSHB (Foto; gregoryarborist
/Instagram)

Die Stad Johannesburg probeer nog die omvang bevestig van die plaag polifaag-boorderkewers, oftewel PSHB (polyphagous shot hole borer), wat bome in die stad laat vrek, voor dit as ‘n ramp verklaar word.

Raadslid Nonhlanhla Sifumba, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling, het gesê Johannesburg se stadsparke en dieretuin (JCPZ), die beskermhere van Stad Johannesburg se straatbome, vergader steeds met sy eweknieë vir stedelike bosbou in die regering, navorsingsinstansies, diensverskaffers vir boominstandhouding en sy interne spanne om die omvang van die plaag te bepaal.

Die PSHB is ʼn klein kewer wat sy larwes in die boom lê. Die larwes, sodra hulle volwassenheid bereik, boor dan tonnels uit die boom. Die merke op die bas verskil van boomsoort tot boomsoort en kan lyk soos klein speldekoppies of ʼn reeks geweerskote wat die voedingstowwe deur die vaskulêre stelsel van die boom beperk.

Die boomsoort, seisoen, ligging en ouderdom van die boom bepaal hoe vatbaar ʼn boom sal wees vir die kewers.

“Daar is nog nie ʼn chemiese oplossing om die probleem suksesvol te takel nie,” het Jenny Moodley, woordvoerder van JCPZ, gesê. “Alhoewel nuwe gevalle van die uitbreking steeds aangemeld word, het JCPZ opgemerk dat sommige grootplatane in Jan Smutsrylaan in Saxonwold ʼn immune-meganisme ontwikkel het, aangesien dit wil voorkom of daar tekens is dat die boom herstel ná die infestasie.”

Moodley het gesê dié bome word steeds gemonitor om wetenskaplik te bevestig dat hulle besig is om te herstel.

Sifumba het gesê alhoewel dit ʼn “opwindende en positiewe deurbraak is wat hopelik die einde van die uitbreking aandui”, is Stad Johannesburg steeds versigtig om seker te maak dat hy deur navorsingsbevindings gelei word om te bepaal dat dit inderdaad die einde van die uitbreking beteken.

“Daar is geen plaagdoders wat deur die departement van landbou, bosbou en visserye goedgekeur is nie,” het Sifumba bygevoeg. “Inwoners met besmette bome op hul eiendom word gemaan om nie die boom te verwyder as hy nog nie dood is nie, tensy dit ʼn Afrikaanse buksboom (buig-my-nie) is, aangesien dié bome baie vatbaar is vir die boorderkewer.”

Straatbome, buiten buksbome, wat deur die boorderkewer besmet is maar nog nie gevrek het nie, sal ook nie verwyder word nie.

Inwoners wat ʼn besmette boom, wat reeds gevrek het, wil verwyder, word gemaan om op ʼn verantwoordelike manier van die dooie takke ontslae te raak op hul privaat erf deur dit met ʼn swaar plastiekseil te bedek en dit nie onwettig iewers af te laai nie. “Die hitte onder die plastiekseil sal help om die PSHB te versmoor en die hout kan daarna herwin word. Die simptome van PSHB verskil van boom tot boom.”

Inheemse bome word ook deur PSHB geraak soos die papierbasdoring, koorsboom, soetdoring, apiesdoring en buig-my-nie. Klik hier vir meer inligting en om nuwe voorvalle aan te meld.

ʼn Opedag word op 11 Maart by die Zoo Lake-opleidingsentrum gehou vir alle belanghebbende inwoners hoe om dooie takke te identifiseer en verantwoordelik daarvan ontslae te raak.

Inwoners wat besmette bome wil aanmeld, kan ook ʼn e-pos stuur aan [email protected] met die ligging van die boom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Boy van die Suburbs ·

Begin sommer by die rotplaag en die grond-, lug- en waterbesoedeling ook asb!

Stretch ·

Gelukkig het Raadslid Sifambu reeds 2018 Carte Blanche gekyk en daarom die indringende aksie ná die wortel van die probleem.

Plaag ·

Imidacloprid, saam met ‘n bietjie seeplant ekstrak, om die boom se stam en water dit dan in, sal help. Sal dit nie uitwis nie, maar sal verseker die populasie verminder en aldus verspreiding vertraag.

dup ·

Buksboom = Buig-my-nie , moet dit nie wees dalk , Kruitjie-roer-my-nie.

Snowflake ·

Enige iemand wat weet hoe lyk jhb middestad en van die buite wyke sal ook weet dat GEEN instandhouding gedoen word nie.. en hou in gedagte dat hierdie “Luis” deur wind versprei word na alle omliggende areas….. daar gaan tot ons bome…. en niemand hoef te stry nie….. agv verwaarloosing… skandelik

B ·

Is dit dieselfde gogga wat in sommige huise se hout- of gelamineerde vloere intrek?

Carl ·

Ek het die torre op my plaas sommer met die heel goedkoopste gif “Cypermetrine” dood gespuit. Dalk nie die langslewenste gif nie maar dit is goedkoop en effektief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.