Jhb wil onwettige mynbedrywighede hokslaan

Argieffoto

Argieffoto

Die Stad Johannesburg het Vrydag gesê hy gaan onwettige mynbedrywighede en die gevolglike watermisbruik en elektrisiteitsdiefstal in die westelike dele van die stad hokslaan.

Beamptes van organisasies soos Johannesburg Water, Johannesburg-metropolisie, City Power en die Johannesburgse padagentskap (JRA) het vandeesweek op Matholesville in Roodepoort toegeslaan, ʼn berugte onwettige mynbougebied aan die Wes-Rand.

Die beamptes is ondersteun deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Gauteng Verkeer om die onwettige bedrywighede te bekamp.

Alhoewel geen onwettige myners tydens die klopjag teenwoordig was nie, het beamptes van die Immigrasie-eenheid van die departement van binnelandse sake altesaam tien persone in hegtenis geneem wat die land onwettig betree het en hulle sal onmiddellik gedeporteer word.

Cassius MacKay, bestuurder van die JRA se infrastruktuurbeskermingseenheid, het gesê onwettige mynaktiwiteit mors groot hoeveelhede water, aangesien water 24 uur lank sonder ophou bly loop om die onwettig gemynde goud te prosesseer. MacKay het gesê die besoek aan die perseel is ʼn voorloper tot ʼn wetstoepassersoperasie wat sal plaasvind op ʼn datum wat nog bevestig moet word. “Ons besoek aan Matholesville in Desember het die omvang van die probleem aan die lig gebring, daarom die besoek om die kwessies van watermisbruik en elektrisiteitsdiefstal aan te roer.”

Hy het gesê die span is tevrede met die werk wat hulle Vrydag gedoen het. “Die lede van die gemeenskap is ook beïndruk. Dit is nie ʼn eenmalige operasie nie. Dit sal ʼn deurlopende proses wees. Ons sal gereeld terugkom totdat ons die verlangde resultate sien.”

Dit is die tweede keer dat die stad dié perseel besoek. Die eerste keer was in Desember toe beamptes bewus gemaak is van die impak van die watermisbruik en elektrisiteitsverbruik op die stad se verskaffingsnetwerk.

Daar is na raming 2 000 onwettige myners, ook bekend as zama zamas in Matholesville. Talle kom van lande soos Lesotho, Zimbabwe en Mosambiek.

Die beamptes het ʼn hele aantal “James Tables” vandeesweek gebreek, wat deur die myners gebruik word om die goud te prosesseer. Joburg Water het ook die waterverskaffing na ʼn aantal nabygeleë huise afgesny omdat hulle glo water verskaf aan die onwettige myners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johanna Botha ·

Hulle kan nie eers die mees basiese regkry dat mense nie so rommel strooi en illegal dump nie ….asb ek wil dit nog sien ek glo dis n grappie !

julius ·

Janee hulle is hier om te plunder want julias gee hulle die reg want dis hulle goud.

Bekommerd ·

Rome is nie in een dag gebou nie Johanna. Gee die mense ‘n kans. Onthou die verval kom al jare.

Magda ·

Dit help nie hulle deporteer hulle nie, want more is hulle weer terug in SA.

Jan maak n Plan ·

Die klomp zama zamas is almal deel van n sindikaat stelsel en hulle baas is baie hoog op in die politiek.

Johanna Botha ·

Mens begin met die mees basiese goed wat duidelike verskille kan maak in almal se lewens .. mens begin tog nie n kleuter Algebra leer voor hy kan loop nie

janneman ·

Ek het konstruksie werk in daai areas gedoen. Hulle moet eers die poliesiemanne van Meadowlands en Dobsonville almal verplaas en vreemde manne inkry, dan sal hulle beheer oor die Zama zama’s kry. Daar is goeie polisiemanne, maar hulle is in die minderheid. Die amder staan en kyk ho3 di2 zama zama manne werk, en doen niks. Hulle het langs die skreeuende stakers gestaan terwyl my masjiene met petrol bomme uitgebrand is, en nie n vinger verroer nie, want die voorbok wat eerste gegooi het was n “community leader”. Sterkte Jhb, ek sal dit glo as ek dit sien

Pik ·

Dink op die oos rand help die polisie skofte beheer en plasings te doen hier gebeur ook net een groot KOL

John ·

2,000 onwettige skatttejagters, waar woeker die res van die 10+ mijoen? Of is hulle reeds
ge-ID en in die polisiemag opgeneem en beskerm nou hul maters vir so ‘n klein meevallertjie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.