Jiba: ‘Daar was geen bewyse teen Mdluli’

Adv. Nomgcobo Jiba voor die kommissie van ondersoek wat gelei word deur afgetrede regter Yvonne Mokgoro. Foto: Oupa Mokoena/ANA

Adv. Nomgcobo Jiba, die beleërde nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, het Donderdag voor die Mokgoro-kommissie van ondersoek volgehou sy het besluit om die vervolging van Richard Mdlulu, voormalige hoof van misdaadintelligensie, te laat vaar omdat die staat die saak sou verloor.

Jiba het voor die kommissie getuig in hul ondersoek na haar en adv. Lawrence Mrwebi se bevoegdheid om hul amp by die NVG te beklee. Sy het al die beskuldigings teen haar ontken en gesê haar kollegas koester ʼn wrok teen haar.

“Ek moes onregverdige en ongegronde aanvalle verduur. Hierdie aanvalle was so erg dat die minister van justisie ʼn verklaring moes uitreik om my te verdedig,” het sy gesê. Sy sê haar bevordering is nie verwelkom nie en sy was geskok om nou by die Mokgoro-kommissie te hoor haar kollegas dink sy is nie gekwalifiseer vir haar pos nie.

Die kommissie van ondersoek kyk onder meer na Jiba en Mrwebi se besluit rakende verskeie hofsake, waaronder die besluit om die aanklagte teen Mdluli terug te trek en hul pogings om Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op aanklag van rampokkery te vervolg sonder enige bewyse.

Jiba het Donderdag Mrwebi se getuienis herhaal deur te sê die saak teen Mdluli sou in gedrang wees omdat daar nie direkte bewyse teen hom was nie. “Ons was besorg dat hulle bewyse aan die hof sou voorhou wat nie direk met Mdluli verbind kan word nie,” het sy gesê.

Hoewel ʼn regter in die Durbanse hooggeregshof vroeër Jiba se besluit om Booysen te vervolg veroordeel het, het sy gister volgehou daar was niks onwettigs oor haar besluit nie.

Sy het verduidelik sy het ʼn span senior advokate saamgestel om te help met die ondersoek na die Cato Manor-eenheid vir geweldsmisdaad waarvan Booysen die hoof was, omdat die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) gekla het dat die saak sloer.

“Daar is 28 mense in daardie saak doodgemaak en nie een van die polisiebeamptes het enige beserings opgedoen nie. Hulle is doodgemaak in omstandighede waar hulle in bedwang was en nie ʼn bedreiging vir die polisiebeamptes ingehou het nie. Daar was nie bewyse dat die polisiemanne aangeval is nie,” het Jiba gesê.

Jiba het gesê die enigste verdediging wat die Cato Manor-eenheid kon aanvoer, is dat hulle uit selfverdediging opgetree het toe landsburgers doodgeskiet is.

“Nie een van hulle is beseer of selfs net op geskiet nie. Ek kon nie net sê ek gaan hulle nie vervolg nie, want hulle beweer dit was selfverdediging nie,” het Jiba gesê.

Regter Trevor Gorven het destyds die saak teen Booysen, wat toe geskors was, uitgegooi. Die regter het Jiba se besluit om Booysen aan te kla as “arbitrêr” bestempel en gesê dit is in teenstelling met die beginsel van wetlikheid, die oppergesag van die reg en was ongrondwetlik.

“Ek het nog nooit in my lewe so verraai gevoel deur my eie instansie soos toe ek voor ʼn hof moes gaan staat as ʼn oortreder omdat ek my diskresie gebruik het nie. Ek kon dit net nie verstaan nie,” het Jiba gesê.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

BARRIES ·

En daar le die kruks van die saak, jyt soos baie ander van jou vennote, nie jou diskresie gebruik nie maar eerder misbruik…kry bietjie outoriteit en die tor beginne te spin

Cherokee ·

Wàt ‘n verrassing BARRIES, dat Jiba nie slegs Afrikaans verstaan maar selfs Maroela lees!

Johan H. ·

Stem volkome saam Barries!!” Beleerde,” nogal! Ek jan publiek sien maar net baandjies vir boetties, terwyl die lot nou so voor verkiessing wakker word. Bekyk asb net tog daaie korrupsie rondom ou Shake se vrylating asb net weer, hy trek die dooie skaal nou al hoe lank??? Bloedruk! Ga!!

Isobel Carrie-Wilson ·

Hoe week Adv.Jiba dat die staat die saak teen Mdluli sou verloor ? Al wat nodig was is dat die staat ń prima facie saak moet hê. Verder, as bewyse aan die hof voorgehou sou word wat nie direk met Mdluli verbind kan word nie, kon sy regsverteenwoordiger beswaar gemaak het en kon die hof besluit het of dit toelaatbaar is.

Gert J ·

Commonsense is bonatuurlike ding… Ek wonder is of sy regtig n advokaat is?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.