Jiba dalk deur NVG vervolg

Advokate Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi. Foto: ANA

Die ondersoek na die bevoegdheid van advokate Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi is Woensdag verdaag om die kommissie kans te gee om vas te stel of Jiba deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolg gaan word.

Adv. Thabani Masuku, wat Jiba verteenwoordig, het die kommissie Woensdag ingelig die moontlikheid bestaan dat die NVG Jiba op aanklagte van bedrog en meineed gaan vervolg. Masuku het gesê hy is bekommerd dat dit die werk van die kommissie kan beïnvloed.

Jan Ferreira, een van die getuies wat Woensdag getuig het, was die aanklaer wat aanbeveel het dat dié aanklagte teen Jiba ingestel moet word.

Jiba is voorheen van bedrog en meineed beskuldig nadat sy die aanklagte van rampokkery teen Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, in 2012 goedgekeur het. Die hooggeregshof in Durban het gevolglik beslis dat Jiba se besluit die beginsels van wetlikheid oortree het en ongrondwetlik was.

Masuku het gesê dat hul regspan gevolglik nou met ʼn probleem sit oor hoe hulle Ferreira gaan kruisondervra. “As die NVG besluit dat Jiba vervolg moet word, het ons probleme. Ons wil nie verklarings by Ferreira aflê wat ons regte gaan beïnvloed nie, veral nie as Ferreira heraangestel word om die saak te vervolg nie,” het Masuku gesê.

Hy het oudregter Yvonne Mokgoro, wat voorsitter van die kommissie van ondersoek is, versoek om die NVG te vra of die saak teen Jiba sal voortgaan. Ná ʼn verdaging om die pad vorentoe te bespreek, het Mokgoro die getuienisspan en Jiba se regsverteenwoordigers opdrag gegee om argumente voor te lê oor waarom Ferreira toegelaat moet word om te getuig al dan nie, asook die status van Jiba se saak by die NVG te bepaal.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Niks gaan gebeur met die jiba nie…..sy is ook soos zuma untouchable…..

Stripes ·

Hoekom moet sy bevoordeel word? Is daar ander betrokkenes wat bang is sy sê dalk wat sy nie moet sê nie? As sy aangejaag het moet sy verantwoording doen. Kla haar aan.

zoom zoom ·

Volgens my het die NVG nog niemand wat bande met zuma en hoë profiel kaders in die regerende party inhegtenis geneem en suksesvol vervolg nie.

aj ·

Alle KOMMISIES VAN ONDERSOEK wat die (ANC) regering aanstel het ten doel om VERVOLGING te dwarsboom.

Oëverblindery!

WHITEWASH van die misdade.

Carl ·

As selfs net n gedeelte van die getuienis voor die Zondo kommissie waar is, dan is die NVG ernstig gekompromitteer. Dan het dit n orgaan geword wat die misdadigers bedien het. Dan kan mens verstaan dat die Guptas nooit aangekla is nie en die land verlaat het, dan behoort daar talle ander ook vervolg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.