Jiba hof toe om parlement te stuit

Adv. Nomgcobo Jiba.. (Foto: Oupa Mokoena/ANA)

Adv. Nomgcobo Jiba, voormalige adjunkdirekteur van die Nasionale Vervolgingsgesag, het ʼn dringende hofaansoek gebring om ʼn interdik te kry om ʼn parlementêre proses te stuit.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste sou Dinsdag vergader het om te besluit of Jiba en Lawrence Mrwebi in hul poste heraangestel moet word.

Volgens Bulelani Magwanishe, voorsitter van die komitee, is hulle egter ingelig dat Jiba die aansoek laat Maandag by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien het om die komitee te verbied om met die proses te begin om haar heraanstelling te oorweeg.

“Die komitee is ingelig dat die dringende aansoek vandag aangehoor sal word en het om die rede besluit om die proses eers te staak tot uitspraak gelewer is.”

Magwanishe het gesê die komitee sal sy program herevalueer sodra die hof die dringende aansoek hanteer het.

ʼn Kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van oudregter Yvonne Mokgoro het in April bevind dat Jiba en Mrwebi, spesiale direkteur van openbare vervolgings, albei deur pres. Cyril Ramaphosa uit hul poste ontslaan moet word. Hulle is daarna die trekpas gegee.

Jiba het egter die Wes-Kaapse hooggeregshof versoek om die Mokgoro-verslag tersyde te stel.

Ramaphosa moes ingevolge wetgewing sy besluit na die parlement verwys het vir goedkeuring.

Die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste het tydens ʼn vorige gesamentlike sitting met die verkose komitee oor veiligheid en justisie besluit dat Jiba en Mrwebi tien werksdae het om voorleggings te doen met redes waarom hulle nie uit hul voormalige poste verwyder moet word nie.

Die komitees het ʼn voorstel dat die twee mondelingse voorleggings moes doen, van die hand gewys en aangevoer dat geskrewe voorleggings voldoende sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fool Circle ·

n Hofaansoek om n kommissie van onderoek te keer om n hofuitspraak te keer om n kommissie van ondersoek deur n hof om te keer om n kommissie van ondersoek se bevinding deur n hof deur n ander hof deur n ander hof te verander sodat die beslissing in jou guns is! BELAGLIK!

JohanL ·

Ek hoop die hof gooi haar aansoek so ver uit, dat sy hom nie eers sal kan sien nie :) En met ‘n hengse onkoste.

Terwyl die hof sekerlik daar is om te sorg dat selfs die Parlement hul werk reg doen, moet die huidige spul politici (aka hansworse) waak daarteen om die regstelsel te ver-politiseer. Die Hof kan nie elke liewe proses en besluit in Parlement reguleer nie.

Zumie ·

Die hof verkoop nie kaartjies vir die soustrein nie….. ek hoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.