Jiba, Mrwebi nie nou geskors

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Pres. Jacob Zuma het besluit om Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, twee hooggeplaaste amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), nié te skors of ʼn ondersoek te doen na hul bevoegdheid om hul amp te beklee nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het in September uitspraak gelewer rakende ʼn aansoek deur die algemene balieraad van Suid-Afrika teen Jiba, Mrwebi en adv. Sibongile Mzinyathi. Die hof het beveel dat Jiba en Mrwebi se name van die rol van advokate geskrap word. Die balie se saak teen Mzinyathi is van die hand gewys.

“Die hooggeregshof het die twee amptenare verlof gegee om te appelleer teen die vorige besluit. Zuma het voor dié besluit vir Jiba en Mrwebi die geleentheid gegee om voorleggings te doen oor hoekom hulle nie geskors moet word nie hangende ʼn ondersoek na hul bevoegdheid om hul amp te beklee,” het die presidensie gesê.

Zuma het intussen hul voorleggings oorweeg en besluit om weens die hof se toestaan van verlof tot appèl nie nou stappe te doen nie. Jiba en Mrwebi is steeds met spesiale verlof.

Die balieraad se aansoek het verband gehou met Jiba en Mrwebi se betrokkenheid by die besluit om die korrupsie-aanklagte teen die geskorste hoof van misdaadintelligensie, Richard Mdluli, te laat vaar. Jiba en Mrwebi het ook goedkeuring gegee dat Johan Booysen, die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, op ʼn aanklag van rampokkery vervolg word.

Die hof het bevind Jiba het “ʼn verskuilde motief” gehad in die Mdluli-saak en dus die wet en die Grondwet oortree. Die hof het gesê Jiba en Mrwebi is nie meer geskikte en gepaste persone om op die rol van advokate te wees nie.

Jiba is die adjunk-direkteur van openbare vervolging, terwyl Mrwebi aan die hoof staan van die eenheid vir gespesialiseerde handelsmisdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Will i am ·

Steeds met verlof. Volle betaling en werk nie. Gaan darem maar lekker in die land

SP ·

Eendag as ons terugkyk na die Zuma era,sal dit baie interresant wees om te sien hoe al hierdie gekonkel inmekaar steek en watter rol elkeen gespeel het,absolute skande!

Wern ·

Ja en reg sal nog geskied, hierdie korrupte spul sal nog swaer boet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.