Jiba nié op bedrogaanklag vervolg

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Die Mokgoro-kommissie van ondersoek na die geskiktheid van advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi het Donderdag gehoor die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om Jiba nie op aanklagte van bedrog en meineed te vervolg nie.

Oudregter Yvonne Mokgoro het Woensdag die kommissie se verhoor tydelik verdaag sodat duidelikheid gekry kon word of Jiba wel vervolg gaan word. Dit was nadat Jiba se regsverteenwoordiger aan Mokgoro gesê het die NVG oorweeg om die aanklagte weer teen Jiba in te stel.

Adv. Zola Majavu, wat Jiba verteenwoordig, het egter vandag aan die ondersoekkommissie gesê hy het nog nie formele terugvoer van die NVG oor die aanklagte teen Jiba gekry nie, maar is wel deur die waarnemende direkteur van openbare vervolging in Noordwes ingelig dat daar reeds in Augustus verlede jaar besluit is om Jiba nie te vervolg nie.

Jiba is voorheen vervolg rakende haar betrokkenheid by die sage waarin genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, aangekla is. Haar vervolging is gestaak nadat adv. Shaun Abrahams as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) oorgeneem het. Abrahams se aanstelling as NDOV is egter verlede jaar deur die konstitusionele hof ongeldig verklaar en daar was daarna sprake dat die aanklagte weer teen Jiba ingestel kan word.

Toe destyds ondersoek ingestel is na Jiba se betrokkenheid by die vervolging van Booysen, het adv. Jan Ferreira aanbeveel dat Jiba vervolg word.

Ferreira sou Woensdag voor die kommissie getuig het oor Jiba se geskiktheid om haar amp te beklee, maar Majavu het hierteen beswaar aangeteken omdat sy moontlik in die toekoms tereg sou staan op dieselfde aanklagte en Ferreira dalk die aanklaer sou kon wees. Majavu het aangevoer dit sal dus tot Jiba se nadeel wees as Ferreira nou toegelaat word om voor die kommissie te getuig.

Mokgoro het vanoggend beslis die getuienis rakende die aanklagte wat teen Jiba laat vaar is, mag gelewer word. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Irma ·

Verstommend !! Ek het nie woorde nie. Die kode naam “snake” dui net op gevaar !!

Koos Ubuntu ·

So wat kon n mens verwag, moordenaars kry borgtog van R1000, sys n hooge kader, sal niks oorkom nie?

Snoefie ·

Dalk kan gerrie nel toesien day sy vervolg wors. Dit behoort hom en afriforum henoeg mediadekking te gee.

Ekke ·

Syt na aanleiding van jul ander berig R100 000 n maand van bosassa ontvang. Die land is in n donker wolk gehul van korupsie en almal word deur die in gesag beskerm want hul is almal kop in een mus. Asseblief God ons Vader help ons sodat die ANC nie die opkomende verkiesing wen nie. Almal moet bid vir dit in Jesus se naam ons enigste hoop.

Andrea van Vuren ·

Soos ek verstaan het Gerrie Nel aangedui dat hy en sy span Jiba gaan vervolg indien die NGV dit nie doen nie. Hoe op aarde kan die korrupte vrou daarmee wegkom?

Doris Gouws ·

Dit is deur sulke mense soos sy dat sake wat terug verwys word na die NVG net gesluit word en geen aandag aangegee word nie dan is dit hoê profiel sake met baie ongerymhede. So vat hulle maar n bietjie vas want dit is nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.