J&J-entstof werk teen ernstige Covid-19 – FDA

Die Johnson&Johnson-entstof wat in Suid-Afrika gebruik word. (Foto: Phill Magakoe/ AFP)

Die enkeldosis Johnson & Johnson-entstof is hoogs doeltreffend in die voorkoming van ernstige Covid-19, waaronder die nuwe variante, het die Amerikaanse voedsel-en-dwelmowerheid (FDA) Woensdag bevestig.

In groot kliniese proewe was die entstof se doeltreffendheid teen ernstige siekte 85,9% in die VSA, 81,7% in Suid-Afrika en 87,6% in Brasilië.

Onder die altesame 39 321 deelnemers in al die streke was die doeltreffendheid teen Covid-19 gemiddeld 85,4%. Dit het egter tot 66,1% gedaal wanneer matige variasies van die siekte ingesluit is.

ʼn Ontleding van die verskillende demografiese groepe het geen merkbare verskil tussen ouderdom, ras of diegene met onderliggende siektetoestande gevind nie.

Mense het in die algemeen ook goed op die entstof gereageer, met geen berigte van ernstige allergiese reaksies soos in skaars gevalle met die Pfizer- en Moderna-entstof nie.

Matige reaksie, soos pyn waar die inenting toegedien word, hoofpyn, moegheid en spierpyn was meer geneig om by jonger proefdeelnemers as ouer mense voor te kom. Geen sterftes in die entstofgroep is aangemeld nie, terwyl daar vyf in die plasebogroep was.

“Die ontleding steun ʼn gunstige profiel met geen spesifieke veiligheidskommer wat geïdentifiseer is om die uitreik van noodgebruikgoedkeuring te verhoed nie,” sê die FDA.

“Die entstof is doeltreffend in die voorkoming van Covid-19 wanneer ʼn minder beperkende definisie van die siekte gebruik is. Dit sluit in Covid-19 waar mediese ingryping nodig is en die oorweging van alle gevalle 14 dae ná inenting.

“Hoewel ʼn laer doeltreffendheid in Suid-Afrika opgemerk is, was daar ʼn voorafoorheersing van die B.1.3.5-stam gedurende die tydperk van die studie. Die doeltreffendheid van die entstof teen ernstige/kritieke Covid-19 was ewe hoog in die VSA, Suid-Afrika en Brasilië,” lui die FDA-dokument.

Gegrond op voorlopige data, is daar ook aanduidings dat die entstof moontlik doeltreffend teen asimptomatiese infeksie kan wees. Hierdie bevinding moet egter met bykomende data verder ondersoek word, het die maatskappy gesê.

Die J&J-entstof gebruik ʼn adenovirus – wat gewone verkoue veroorsaak en in dié geval aangepas is sodat dit nie kan vermeerder nie – om die DNS vir ʼn sleutelproteïen van die koronavirus na menslike selle te vervoer. Dit laat die selle hierdie proteïen vervaardig wat dan die menslike immunstelsel voorberei, versterk en gereedmaak ingeval dit die regte virus teëkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Spyker

Goeie nuus maar wat nou van die Kubaanse kamarade se entstof?

Genis

Ek verstaan nou nie? Was dit eers nou die dag in SA geloods nie? Nou weet die regering al dis 81,7% effektief?

Elize

Fantasties. Nou moet hulle tog net die goed aankoop vir die res van die bevolking ook asb.

Star

Hoe lank was die inspuiting beproef,(3 dae)en op wie is dit beproef, ek glo nie in die studeering van die inspuiting nie, klink eerder of hulle mense wil oortuig.

gatgogga

Hoe weet ‘n mens dat die onderduimse regering nie die oneffektiewe (vervalde?) AZ entstof aan jou verskaf nie?