J&J-opvolgdosis nou beskikbaar

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Opvolgdosisse van die Johnson & Johnson- (J&J-)entstof teen Covid-19 sal van Dinsdag af aan gesondheidswerkers toegedien word. Dit vorm deel van die tweede fase van die Sisonke-studie.

Volgens die departement van gesondheid kan die gesondheidswerkers wat tussen Februarie en Mei  ʼn J&J-inenting as deel van die studie ontvang het, vir die opvolginenting gaan.

Swanger vroue of vroue wat borsvoed, kan ook die opvolgdosis kry.

Volgens die departement van gesondheid sal die opvolgdosisse later in 400 openbare en private inentingsentrums toegedien word.

Die departement sê die Sisonke-studie bied toegang tot ʼn opvolgdosis, voordat die moontlike vierde golf die land tref.

“Die besluit om ʼn opvolgdosis van die J&J-entstof te gee, is gegrond op data wat die veiligheid, immunogenisiteit en doeltreffendheid van ʼn tweedosis-regime toon,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

“Die J&J-entstof se kliniese proef het twee dosisse van die J&J-entstof geëvalueer, wat 56 dae uitmekaar toegedien is en het 100%-beskerming teen ernstige of kritieke Covid-19-simptome getoon. ʼn 75%-beskerming teen matige tot ernstige Covid-19-simptome is wêreldwyd aangemeld. Daar is ook bewys dat die opvolgdosis teenliggaamvlakke verhoog.”

Daar is ook sprake van ʼn Pfizer-opvolgdosis, maar volgens die departement sal dié besluit in die komende weke en maande uitgeklaar word. Die departement sê sy prioriteit bly vir eers om die eerste inentings aan volwassenes – veral diegene ouer as 50 jaar – voor die einde van die jaar af te handel.

Amper 16 miljoen Suid-Afrikaners het tot dusver minstens een dosis van die Covid-19-inenting ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.