ʼn Vroulike metropolisiebeampte en haar kêrel is dood aangetref by hul huis in Meadowlands in Soweto.
Mapule Maleho het nie Vrydag vir werk opgedaag nie, en haar kollegas het gaan ondersoek instel. “Haar kollegas het by haar huis opgedaag en haar kêrel is dood aangetref op die kombuisvloer,” het hoofsuperintendent Wayne Minnaar, woordvoerder vir die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Maleho se dienspistool het langs die man gelê.”
Maleho se liggaam is in die slaapkamer aangetref. Sy is in die kop geskiet.
ʼn Geregtelike ondersoek word gedoen.