JMPD-beamptes sterf toe voertuig in padblokkade inploeg

Foto: Verskaf deur die JMPD.

Twee beamptes van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) is Maandagaand op Witkoppenweg in Johannesburg doodgery toe ʼn voertuig in ʼn padblokkade ingeploeg het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is net ná 21:00 na die toneel in Paulshof ontbied.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, het aan Maroela Media gesê die twee JMPD-beamptes wat oorlede is, is albei vroue.

“Die voorval het plaasgevind toe ʼn vermoedelike dronk bestuurder van ʼn dubbelkajuit- Toyota Hilux-bakkie in ʼn groep beamptes, sowel as ʼn BMW, ʼn Hyundai en ʼn Porsche wat deur die beamptes afgetrek is, ingeploeg het,” het Minnaar gesê.

Volgens Minnaar is twee passasiers en die bestuurder van die Hyundai ernstig beseer. Die bestuurders van die BMW en die Porsche is ook beseer, asook twee ander vrouebeamptes.

“Die bestuurder van die Hilux is in hegtenis geneem. Daarna is ʼn bloedmonster geneem en hy is na die Sandton-polisiestasie vervoer.”

Vermaak het gesê drie insittendes van een van die stilstaande voertuie by die padblokkade moes deur brandweerbeamptes uit die wrak bevry word. Volgens hom was een van hulle in ʼn baie ernstige toestand. Drie ander beseerdes is op die toneel ondersoek en vir geringe tot matige beserings behandel.

Hulle is later na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir mediese behandeling.

David Tembe, die hoof van die JMPD, het gesê die voorval het hom sprakeloos gelaat. “Ek weet nie meer wat om te sê wanneer ons ons eie mense verloor terwyl ons die gemeenskap dien en so hard werk om ʼn einde te bring aan dronkbestuur en sterftes te verminder nie. Maar ons sal voortgaan om ons pligte uit te voer en die gemeenskap te dien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Oop oge ·

Daar is geen rede waarom enige dronkbestuurder van potensieele moord aangekla behoort te word nie. Borg behoort nie te bestaan nie en bestuursliksens moet permanent teruggetrek word.
Vandat motors bestaan is dit n probleem en tot vandag toe word hulle “regte” hoër geag as die van die slagoffers.
Dis ‘n blatante skande in die oë van die Here.

Cherokee ·

Oop oge, ek dink jy het jou oge geopen eers nadat jy die eerste sin geskryf het. Doen dit oor want ek wed jou jy het nie gesê wat jy wòu sê in die aanhef nie.

HPV ·

As jy gedrink het moet nie bestuur! As jy beplan omte drink vra iemand voor jy begin om jou huistoe te neem, maar moet nie self bestuur! Persoonlik dink ek dit is nie te moelik om te verstaan.

leon ·

Drank, bly weg. Die lewe is moeilik genoeg. Hoeveel dronk mense klim daagliks agter hulle motors se stuur in?

Luister ·

Baie tragies! Ons benodig BAIE swaarder straf vir
dronk- en nalatige bestuurders!

Antoinette ·

Ek voel soos Oop oge. Straf die bestuurder dieselfde as vir moord. Maak n slag n voorbeeld van iemand en hou daarby

Marius ·

Maak ook sommer n sak van nalatigheid teen JMPD oop. Te veel maar al gesien hoe hulle voor motors in spring, motors voor ander motors in stuur om ten alle koste af te trek, swak beligte en nie werkende toerusting in die aandete gebruik… Hier het onskuldige lede van die publiek nou betaal omdat JMPD nie n veilige omgewing wou skep nie.

Oop oge ·

Die feit van die saak is, dat ‘n DRONKAARD agter die stuur van ‘ n voertuig, het geen behoorlike beheer oor sy sintuie nie, ongeag die situasie op die pad.
Toe hy begin drink het, het hy alreeds geweet hy moet nog bestuur. Daarom is dit uit en uit potensiele moord….GEEN verskoning of regverdiging nie.

Lee ·

Sterkte aan die beamptes wat oorlede is se families en vriende en so ook almal wat seergekry het in die ongeluk. So onnodig. Ek stem 100% saam, as jy dronk is en jy klim agter ‘n stuurwiel in en veroorsaak die dood van onskuldige mense moet jy aangekla word van moord en nie manslag nie.

Jannie ·

Stem saam met Maruis JMPD trek voertuie op die gevaarlikste plekke af en stel daardeur die publiek se veiligheid in gevaar, ek kan nie onthou wanneer laas ek ń goed opgestelde georganiseerde padblokkade gesien het nie.
Moet altyd wonder by ń sogenaamde padblokkade wie moet aftrek ek, die voertuig voor, links, agter of regs van my.

Vies ·

Ek stem Marius!. Hier by Klapperkop op die R22 trek hulle taxis in die vinnige baan af, en wys dan dat hulle aan die linkerkant moet stop. Dit beteken almal in die regterbaan slaan briek aan, sowel as die arme mense in die linkerbaan, want sonder om te kyk draai die taxi uit die regterbaan uit, voor die verkeer in wat in die linkerbaan ry. Lekker chaos….!!!

Marga ·

Dit is ongelooflik hartseer wat gebeur het. Maar wat my laat dink…hoekom is al daardie ander motors agetrek? Ook afgetrek vir bestuur onder die invloed? Spoed? En ja, was die PLEK reg vir so operasie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.