JMPD-beamptes vas ná joernalis se moord

Godknows Nare. Foto: Facebook

Drie beamptes van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) sal Vrydag in die Roodepoort-landdroshof verskyn in verband met die moord op die bekende joernalis, Godknows Nare.

Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), het in ʼn verklaring gesê die drie beamptes is Donderdag in hegtenis geneem. Hulle sal in die hof verskyn op aanklagte van moord, aanranding en dwarsboming van die gereg.

Nare (40) is op 17 April 2017 in Florida, wes van Johannesburg, tydens ʼn oënskynlike skietgeveg met die polisie doodgeskiet. eNCA het berig die beamptes het na bewering aangevoer hulle het geglo Nare is ʼn kaper toe hulle op hom geskiet het. Opod het daarna ʼn ondersoek na die voorval van stapel gestuur.

Volgens Dlamini het bewyse aan die lig gekom wat teenstrydig is met die JMPD-beamptes se weergawe dat daar op hulle geskiet is. “Inteendeel, hulle het die oorledene doodgeskiet en het ʼn misdaadtoneel opgestel om hul spore dood te vee,” het hy gesê.

Robert McBride, hoof van Opod, het die ondersoekbeampte in die saak geloof en gesê: “Daar word van polisiebeamptes verwag om binne die grense van die Grondwet en die wette van die land op te tree. Hierdie saak toon, om met bewyse te peuter, sal nie diegene wat verantwoordelikheid is, teen aanspreeklikheid beskerm nie.”

Nare het as ʼn joernalis vir plaaslike en internasionale mediahuise gewerk, insluitend die SAUK, eNCA, BBC, Al Jazeera en die New York Times. Volgens berigte was hy bekend vir sy in diepte kennis van onwettige mynbedrywighede, smokkel van renosterhorings en onwettige handel van sigarette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Dit klink soos n riller!
Om n misdaadtoneel op te stel ten einde spore dood te vee.
Jy kan iemand vertrou nie.

Thea Gerber ·

Kyk mooi waaroor sy beriggewing gegaan en kennis gelê het. Soek die konneksie daar.

Daan ·

Die rippel effekte van de klerk en kie se ondeurdinkte plan om net alles te oorhandig en nie geleidelik die plan in te faseer om sukses te waarborg nie.

Pieter ·

Daar was onderduimse redes waarom die JMPD’s hom doodgeskiet het. Doen n lewenstyl oudit op daardie drie, en kyk met watter tipe karakters hulle gemeng het, en julle sal sekerlik omgerymdhede vind. Sekerlik net soos Jackie Selebi en Anglioti.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.