Joernalis verkla polisie, metropolisie oor ‘aanranding’

Frans Sello Machate. Foto: ANA

ʼn Joernalis van Pretoria beweer die polisie en metropolisie het hom in die middernagtelike ure ernstig in sy huis voor sy vrou en jong kinders aangerand nadat hulle die palissade, veiligheidshekke en deure van die huis afgebreek het.

Frans Sello Machate het Dinsdagaand ʼn besprekingsgeleentheid van die Nasionale Persklub in Centurion bygewoon en toe huiswaarts gekeer in Equestria, in die ooste van Pretoria. Hy sê op pad huis toe het hy daarvan bewus geword dat ʼn ongemerkte Ford Figo hom agtervolg.

“Dit was ná middernag en ek het opgemerk wanneer ek ook al draai, het die bestuurder van die [Figo] ook gedraai,” het Machate vertel nadat hy uit die polisie se aanhoudingselle vrygelaat is.

“Ek het verby my huis gery en omgedraai. Die motor was nie meer agter my nie en ek het in my erf ingedraai. Terwyl ek reggemaak het om te gaan slaap, het ek en my vrou geluide buite die huis gehoor.

“[Mense buite] het die tuinmuur, die veiligheidshekke en die deure begin afbreek. Ek het dadelik die SAPD se 10111-nommer gebel om hulp te kry.”

Hy vertel hy het sy kinders in hul slaapkamer ingebring.

“Sowat 15 polisiebeamptes het die kamer binnegestorm nadat hulle die deur oopgeskop het. Binne gekom, het hulle my gou-gou in boeie geslaan en die huis begin deursoek. Hulle het vuurwapens op ons gerig en my vrou en kinders was in trane.”

Machate sê die polisie het ook sy tuiskantoor deursoek en selfone en videokameras “rondgegooi”.

Hy sê nadat hy buitentoe geneem is, het ʼn beampte van die Tshwane-metropolisie hom met ʼn metaalflits oor die kop geslaan en het hy begin bloei. “My kopbeen het gekraak en hulle moes my na die [Steve Biko Akademiese] hospitaal neem sodat ek steke kon kry.

“Ons is 05:00 se kant by die hospitaal weg. Hulle het my toe aangekla en laat gaan.”

Machate is aangekla van roekelose en nalatige bestuur, dronkbestuur en die aanranding van ʼn polisiebeampte.

“[Maar] hoe kan ek iemand aanrand terwyl ek in boeie is?” wil hy weet. “Trouens, toe ons by Silverton se polisiekantoor kom, het hulle my in ʼn vertrek gesit waar vier beamptes my oral oor my lyf begin skop het terwyl my hande agter my rug geboei was. Ek was deur die hele gedoente baie styf geboei en het merke aan my hande daarvan.”

Bronne het aan African News Agency gesê ʼn klag van poging tot moord is by die ander aanklagte gevoeg omdat polisiebeamptes beweer Machate het met sy kar in hul rigting geswenk terwyl hulle hom probeer voorkeer het.

Sr.supt. Isaac Mahamba, metropolisiewoordvoerder, sê die saak van Machate se klagte oor hardhandige behandeling en die polisiebeamptes se bewerings sal deeglik ondersoek word.

“Die ondersoek is aan die gang. Ons kan noem dat die saak na die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat [Opod] verwys sal word vir verdere ondersoek.”

Die Education for Social Justice Foundation het Woensdag in die ʼn verklaring die polisie se beweerde optrede veroordeel.

“Ons is besorg oor die hoë voorkoms van polisiegeweld teen onskuldige mense,” sê die stigting se adjunkvoorsitter, Hendrick Makaneta. “Ons hoop Opod sal werk maak van die klagte wat mnr. Machate ingedien het soda die polisie… ʼn duidelike boodskap kry dat die dae van polisiegeweld verby is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pitty ·

Persklub besprekings hou nie tot middernagtelike ure aan nie…

PJC ·

Ek dink nie die publiek weet watter groot gevaar hou sommige elemente in die polisie en die metro polisie vir die publiek in nie. Daar is elke jaar honderde sulke gevalle en dit kos die belastingbetaler honderde miljoene rande weens eise. Ten spyte hiervan word daar weinig teen diesulkes opgetree.

Elize ·

Dit is hoekom ek nie sommer in die aand op die pad is nie. In die dag is die metro polisie so skaars soos hoendertande waar hulle benodig word maar o wee laat die son sak dan is hulle op hulle beste. Die polisie het hulle slaap klaar deur die dag gehad en is dit hoekom hulle in die nag kan rondry en ander stamp en slaan. Gee hulle gas meneer

TP ·

16+ polisiebeamptes omdat hy roekeloos bestuur??? Wow, kan ek vra dat NET EEN van die polisiebeamptes asb die taxis op Republiek gaan aftrek vir roekelose bestuur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.