Joernaliste by Nkandla aangeval, rondgepluk

Ondersteuners, talle van hulle sonder maskers, buite Nkandla in KwaZulu-Natal. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Verskeie joernaliste het die afgelope naweek onder skoot gekom buite oudpres. Jacob Zuma se opstal by Nkandla in KwaZulu-Natal, waar duisende van sy ondersteuners saamgetrek het. Vlak 4-afsonderingsregulasies verbied in hierdie stadium enige byeenkomste en daar was die afgelope dae heelwat kritiek oor die ooglopende verontagsaming van regulasies om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Die polisie se teenwoordigheid in Nkandla is Sondag verhoog.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) sê sedert Vrydag het joernaliste toenemend onder skoot gekom terwyl hulle gewag het vir wetstoepassingsowerhede om die oudpresident in hegtenis te neem.

Die Konstitusionele Hof het Zuma verlede week aan minagting van die hof skuldig bevind nadat hy geweier het om gehoor te gee aan ʼn hofbevel wat hom dwing om voor die kommissie na staatskaping te verskyn. Hy is 15 maande direkte tronkstraf opgelê en het tot Sondag tyd gehad om hom vir sy gevangenskap aan te meld. Indien hy dit nie doen nie, het die hof gelas dat hy aangekeer moet word.

Zuma het intussen ʼn hofaansoek ingedien om dié besluit ter syde te laat stel. Die hof het die aansoek toegestaan en dit word oor ʼn week aangehoor. Intussen is Zuma ʼn vry man.

Sanef sê nou hy is “diep bekommerd” en “woedend” oor die vreeslose fisieke en verbale mishandeling wat joernaliste deur Zuma-ondersteuners moes verduur.

Volgens die forum het ʼn Zuma-ondersteuner die SAUK-verslaggewer Samkele Maseko hardhandig hanteer nadat ʼn regstreekse uitsending deur dieselfde joernalis Saterdag onderbreek is.

Sanef se voorsitter, Sbu Ngalwa, het Sondag se voorval gesien en moes ingryp om Maseko te red.

“Ek het hom uitgepluk terwyl hy aangeval, gewurg en deur een van die ondersteuners geklap is.”

Sanef sê dit lyk of Zuma-ondersteuners Maseko spesifiek teiken. Beeldmateriaal van die afgelope paar dae se gebeure wys hoe ʼn ondersteuner hom wegstamp en vra om Nkandla te verlaat.

Benewens die gevloek op en uitlokking van joernaliste het Edward Zuma, die oudpresident se seun, boonop gedreig om een van die mediavoertuie buite sy pa se huis aan die brand te steek. Edward Zuma het vroeër boonop gesê hy sal sterf voor hy toelaat dat Zuma tronk toe gaan.

“Ons herinner alle ondersteuners, die Zuma-familie en ander voormalige ANC-leiers wat ook opgedaag het om hul steun aan die oudpresident te gee, dat joernaliste ʼn reg het om oor die gebeure verslag te lewer. Hulle het nie betree nie, en hulle het ook geen privaatheid- of hofbevel oortree nie,” lui Sanef se verklaring.

Phathiswa Magopeni, uitvoerende hoof van nuus en aktualiteit by die SAUK, sê ook hulle is uiters bekommerd oor die “voortgesette boeliery, intimidasie en teistering van ons joernaliste”.

Magopeni sê dié soort gedrag kalwe mediavryheid weg, ondermyn mense se reg om te weet wat om hulle aangaan en het geen plek in ʼn demokrasie nie. Sy het ʼn beroep op mense gedoen om joernaliste ʼn veilige ruimte te gun om hul werk te doen.

Sanef sê hy is ook bekommerd dat dié soort aanvalle ʼn direkte oortreding van Suid-Afrika se Grondwet is wat mediavryheid en toegang tot inligting beskerm, asook die reg van joernaliste om hul werk te doen.

“Die straffeloosheid waarmee Zuma-ondersteuners optree, sê heelwat van die klimaat wat moontlik gemaak is vir sulke aanvalle om sonder gevolge te gebeur.

“Ons doen ʼn beroep op Zuma en senior leiers wat hom steun om sulke aanvalle stop te sit en te veroordeel deur sy familie en ondersteuners te vra om hulle daarvan te weerhou,” sê Sanef.

Die forum sê ook hy is bekommerd oor die land se nasionale en provinsiale vergadering, asook wetstoepassingsowerhede in die streek, se “dawerende stilte” oor die afgelope naweek se gebeure. Dit wek die indruk dat die voortgesette boeliery en intimidasie van joernaliste goedgekeur word.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Sondagmiddag gesê die polisie se teenwoordigheid in die gebied is verhoog “na aanleiding van voorvalle waar dit lyk of mense die gesag van die staat ondermyn”. Dit het ingesluit die oortreding van afsonderingregulasies.

“Tydens ontplooiing het die polisiebevelvoerder en lede op die grond duidelike opdragte gekry dat ʼn reaksie op enige en alle situasies deur ʼn behoorlike ontleding gerig moet word.”

Naidoo sê elke situasie word dus op eie meriete oorweeg en hanteer.

John Steenhuisen, leier van die DA, het die afgelope naweek ook Zuma-ondersteuners se oortreding van die regulasies gekap en gesê indien die afsonderingsregulasies nie by Nkandla afgedwing word nie, moet dit oral opgehef word.

Sanef sê hy het ook opgemerk dat talle Zuma-ondersteuners nie maskers gedra het nie. Die forum het ʼn beroep op joernaliste gedoen om hulle te vergewis van alle Covid-19-regulasies, veral gegewe die nuwe Delta-variant van die virus wat nou versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nie Verbaas

Die gewone optrede, intimideer, breek en brand en verontagsaam die wet. Ek wonder of Ramaphosa weet wat buiteland van die sirkus dink maar hy soek beleggings? Die arrogansie, ontkenning en leuens is verstommend.

JJB

Groot Sirkus. Met hoofnar Zuma…

Oom Kaspaas

Gelukkig word dit toegelaat onder Level 4 …. moet net nie dat jy gevang word alleen in die straat af stap sonder ‘n masker nie, of met vrugtesap in jou voertuig nie dan SAL jy ‘n boete of 6 maande tronkstraf of altwee kry MET ‘n kriminele rekord. Sou jy wel gevang word moenie opdaag nie en dan dat jou skuldigbevinding tersyde gestel word want jy het nie ‘n verhoor gehad nie … Dis mos die voorbeeld en standaard wat gestel is

Etienne

Hulle maak net wat hulle wil, ek mag nie eens Gauteng verlaat om te gaan jag nie.

Chef

Dis duidelik dat wetgewing nie van toepassing is op ‘our people’ nie!