Joernaliste by skool in Kaapstad beroof

Joernalis neem foto (Foto: Argief)

ʼn Joernalis en ʼn kameraman van die televisiekanaal eTV is Maandag buitekant ʼn laerskool in Khayelitsha in die Wes-Kaap beroof. Hulle het ʼn storie gedek in die opbou na die munisipale verkiesing, toe hulle met vuurwapens gedreig is.

Volgens Nonceba Mhlauli, woordvoerder vir Mondli Gungubele, minister in die presidensie, is die joernalis, Natalie Malgas, en kameraman, Lance Manjoro, van hul persoonlike besittings en professionele toerusting beroof.

“Ek het die vreesaanjaendste dag by die werk oorleef. Ons is ongedeerd en veilig. Dit het als so vinnig gebeur,” het Malgas later op Twitter gedeel. Volgens haar was daar vier mans met twee gewere.

Mhlauli sê hoewel hulle fisiek ongedeerd is, is hulle emosioneel getraumatiseerd.

Volgens Gungubele is die aanval op joernaliste betreurenswaardig.

“Die media speel ʼn belangrike rol in ons demokratiese bestel en in die lewe van burgers. Misdadigers wat joernaliste viktimiseer, viktimiseer eintlik die gemeenskappe vir wie toegang tot inligting ʼn reg en ʼn belangrike vorm van bemagtiging is,” het Gungubele gesê.

“Gemeenskappe ly daaronder wanneer joernaliste nie hul werk kan verrig nie. Die werk van joernaliste is dikwels gefokus op die verbetering van die lewensomstandighede van gemeenskappe of om ʼn stem te gee aan mense wat andersins nie gehoor sou word nie.”

Gungubele het ook sy kommer oor die kuberboeliery van joernaliste uitgespreek.

“Ons het lank en hard baklei vir mediavryheid, en ons sal die opportunistiese of doelgerigte misdaad of mishandeling teen joernaliste nie ligtelik opneem nie.”

Die minister wens Malgas en Manjoro ʼn spoedige herstel toe ná die traumatiese voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

tweeling ·

Wanneer gaan julle leer om nie in die townships in te gaan met julle duur toerusting nie. Dit het al vorige kere gebeur dat joernaliste op soortgelyke wyse beroof is maar julle hou aan.

Francois Le Cochon ·

Stem volkome saam. Khayelitsha is die gevaarlikste plek in SA. Selfs Vodacom, Telkom MTN, en ander, neem gewapende sekuriteit saam as hulle daar gaan werk.

Pofadder ·

Dit help niks om die slagoffer te blameer nie. Hulle doen hulle werk. Die probleem is buite beheer misdaad, nie mense wat rondbeweeg met hulle uitrusting om hulle werk te doen nie.

Samuel ·

Joernaliste moet oral die nuus dek, selfs in townships. Hoe gaan hulle andersins gebalanseerde nuusdekking bied?

Misky ·

Die mense leer nie!!!! Media, vrywilligers en gesondheidsdienste moet liefs net wegbly daar. Daai kriminele is bang vir niemand en niks nie en sal jou doodmaak vir die skoene aan jou voete. Julle kan vir Mad-hatter dankie sê – berig daaroor sommer

Shakespeare ·

Here vergewe hulle. Hulle het nie n idee wat hulle doen nie.

Lourens CFG ·

In die bosse waar jy kamp, op die strande en selfs berge.
In ons strate, in ons huise en besighede, én ons hele regstelsel en regering.

Cherokee ·

Wanneer gaan een van julle PUNT-skrywers dit UITROEPTEKEN maak?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.