Joernaliste gevra om pryse terug te gee

Genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf

Die beoordelaarspaneel van die Taco Kuiper-prys vir ondersoekende joernalistiek het drie bekroonde joernaliste van Sunday Times gevra om hul 2012-pryse vir die storie oor die beweerde berugte Cato Manor-eenheid terug te gee.

Mzilikazi wa Africa, Stephan Hoffstatter en Rob Rose het die naaswennerprys ontvang vir hul Cato Manor-onthulling onder die opskrif “Shoot to Kill” wat in Desember 2011 gepubliseer is.

Wa Afrika en Hoffstatter is sedertdien weg by Sunday Times, terwyl Rose nou redakteur van Financial Mail is.

Anton Harber, sameroeper van die paneel, het gesê hoewel die beoordelaarspaneel die toekenning in goeder trou aan die joernaliste toegeken het op grond van die inligting wat destyds aan hulle beskikbaar was, is aspekte van die storie sedertdien betwis wat daartoe gelei het dat die paneel sy besluit heroorweeg het. Die koerant het verlede jaar erken dat die stories deel was van ʼn politieke projek wat na nuuskantore versprei het en het gevolglik alle artikels daaroor teruggetrek en om verskoning gevra aan genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal.

“In Oktober 2017 het ons ʼn brief ontvang van [Booysen] en nog ʼn persoon wat in die storie genoem word om te vra dat ons ons gesprekke oor die toekenning heropen. Dieselfde week, nog voor ons kon reageer, het Sunday Times ʼn reaksieberig gepubliseer om die Cato Manor-berig en twee ander terug te trek en daarvoor om verskoning te vra,” sê Harber.

Bongani Siqoko, die huidige redakteur van Sunday Times, het erken daar is foute begaan en Sunday Times het toegelaat dat hy gemanipuleer word deur mense met geheime motiewe. “Hy het gesê die koerant sal die pryse wat hy vir dié stories ontvang het teruggee,” het Harber in ʼn verklaring gesê.

Hy verduidelik die toekenning is egter aan die betrokke joernaliste toegeken en nie aan die koerant nie. “Sommige van hierdie individue en die destydse redakteur, Ray Hartley, het die besluit om die artikel terug te trek gekritiseer, wat onduidelikheid laat ontstaan het oor die status van die artikel,” sê Harber.

“Ná uitgebreide gesprekke het ons tot die jammerlike gevolg gekom dat hoewel daar ʼn geldige storie rakende die Cato Manor-eenheid was, was die verslaggewing, skryf en redigering daarvan swak en amateuragtig, wat gelei het tot ernstige foute en leemtes in die verslag. Met die inligting wat sedertdien aan die lig gekom het, is dit duidelik dat hierdie werk nie die toekenning regverdig nie. Ons trek daarom die naaswennerprys wat ons aan hierdie joernaliste toegeken het terug en versoek hulle om dit terug te gee.”

Booysen, wat destyds hoëprofiel ondersoeke hanteer het, was sentraal tot die sogenaamde Cato Manor “moordbende” wat bestaan het uit 29 polisiebeamptes en gebaseer was in Cato Manor in KwaZulu-Natal.

Die groep is van ʼn reeks misdade beskuldig, insluitend rampokkery en dat hulle minstens 28 mense doodgemaak het. Die beamptes is in 2012 in hegtenis geneem nadat Sunday Times die storie aan die lig gebring het. ʼn Regsgeding wat deur die beamptes begin is om al die aanklagte te laat vaar, sal later vanjaar weer in die hooggeregshof in Durban aangehoor word.

Booysen het in sy getuienis voor die Mokgoro-kommissie van ondersoek na Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi se bevoegdheid om hul amp te beklee, gesê die twee aanklaers het besluit om hom te vervolg sonder genoegsame bewyse. Hy het gesê sy probleme met Jiba het in Augustus 2012 begin nadat hy ʼn versoek van oudpres. Jacob Zuma se seun, Edward, geweier het dat hy moet toelaat dat die polisietesourie ʼn betaling van R15 miljoen aan die Durbanse sakeman Thoshan Panday maak.

Die sakeman het glo bande met Jacob Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Marinda ·

Kyk, ek kan nie help om breed te glimlag oor hierdie berig nie.

Johan ·

Dit voor kom asof die Vervolgingsgesag selektiewe vervolging toepas…..

Zorro ·

Mens sou ‘n hele vakansie kon visvang met daai ‘Can of worms’.

Carol ·

Gereg en geregtigheid! Sterkte Johan. Jy sal nog jou onskuld bewys maatjie.

bolla ·

Wat het geword van die beweerde verkragting-stories van minderjarige seuns deur destydse apartheids ministers in Port Elizabeth?

Cherokee ·

Interessant dat die DA graag die tema wil verander wanneer dit aan hul bas gevoel word.

Johann cb ·

Die beriggewing was in 2011/2012 nuuswaardig. Hoekom nóú die pryse terugtrek en vryheid van spraak/persvryheid aantas?

Dereck Le Roux ·

Sunday Times probeer die verantwoordelikheid van die koerant af weg kry net deur die joernaliste die skuld daarvoor te gee maar het self finansieel goed daaruit baat gevind en hulle het daartoe bygedra dat die lewens van Genl Johan Booysen en sy makkers se loopbane verwoes is en nou gerieflikheidshalwe die blaam van hulleself wil verskuif , Sunday Liar moet saam met die hoernaliste wat die leuens versprei het om hoe profiel ondersoeke te stop en Jacob Zuma se seun te beskerm volle verantwoordelikheid vat en die gevolge dra, ek hoop Genl Johan Booysen en sy oorblywende makkers dagvaar die lewende daglkg uit die leuenaars en bedrieers uit.

Adri ·

Die ministers van Bird Island faam het ek nooit ondersteun nie want hulle was NP, maar ek glo die ondersoek moet heropen word want ek glo vas dis snert.

Mirrie ·

En wat van die een man wat dood is in die tronk. Nou word saak uitgegooi. Sy familie gaan hom nie terug kry nie. Ek werk saam sy seun en broer. Al die aantuigings, drama en verlies spook elke dag by hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.