Joernaliste ‘moet beskerm word’ tydens verkiesing

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Amnestie Internasionaal het ʼn beroep op Suid-Afrikaanse owerhede gedoen om genoegsame beskerming aan joernaliste te bied wanneer hulle volgende week verslag oor die nasionale algemene verkiesing sal doen.

Die internasionale menseregteorganisasie het vandag op internasionale persvryheidsdag gesê joernaliste behoort hul werk te kan doen sonder om geïntimideer, geteister of gedreig te word.

“Joernaliste is die verdedigers van die reg op vryheid van uitdrukking. As hulle nie hul werk vrylik kan doen nie, word die kernwese van ons samelewing aangeval,” het Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van Amnestie Internasionaal SA, gesê.

“ʼn Lewenskragtige en vrye pers wat verslag lewer oor menseregte en ander verwante kwessies wat ons lewensbestaan uitmaak, is ʼn belangrike bousteen van enige samelewing.”

Volgens Mohamed het die digitale era ʼn ander aspek tot die media bygevoeg met die organisasie wat ʼn nuwe neiging tot beledigende kommentaar, dreigemente en teistering op sosiale media opgemerk het in aanloop tot die verkiesing.

Amnestie Internasionaal het dus ook ʼn beroep op owerhede, politieke partye asook verkiesingskandidate gedoen om ʼn bevorderlike omgewing vir joernaliste te skep waarin hulle hul werk kan doen.

“Joernalistiek is nie ʼn misdaad nie en dit is elkeen se reg om feitelik korrekte inligting en idees te gaan soek, te ontvang en te deel, sonder vrees of onwettige inmenging.”

Bheki Cele, minister van polisie, het Donderdag gesê 51 306 polisielede sal op verkiesingsdag by stemlokale ontplooi word. Betogings sal ook gemonitor word sodat niemand verhoed word om sy of haar stem uit te bring nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hans ·

Amnestie internasionaal is nie-regerings organisasie en het geen gesag nie!

marous ·

Dis juis waar die media dekking gee dat die narre begin met hul streke .

Jacobus ·

Beskerming van opregte en eervolle joernaliste wat die waarheid en niks anders as die waarheid weergee moet geskied.

Die oneervolle en haatdraende joernaliste wat vals nuus (fake news) en verdraaide stories versprei in vandag se samelewing om hulle eie agendas te pas moet in my oë geen beskerming ontvang nie.

Waar is Amnestie Internasionaal wanneer oneerlike joernaliste vals nuus versprei om hulle en hulle meelopers se donker agendas te pas.

Eerlike joernaliste en redakteurs sal nooit veilig wees totdat hulle opstaan en openlik die oneerlike joernaliste en redakteurs uitwys.

Ons as nuus verbruikers glo nie meer die nuus voorhandliggend nie want ons eerste gedagte is gewoonlik wat is die politieke motief van die joernalis en hoe linksgesind die joernalis is.

Die joernalistieke professie het hulle self in die voet geskied deur toe te laat dat oneerlike en vals joernaliste die beroep besmet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.