Joernaliste moet gereguleer word, sê SAUK-bedryfshoof

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, het Dinsdag aan LP’s gesê joernaliste moet gereguleer word, aangesien ander bedrywe gereguleer word.

“Die geagte Davis moet nie bang wees dat die media gereguleer word nie,” het Motsoeneng aan Gavin Davis, kommunikasiewoordvoerder van die Demokratiese Alliansie, tydens ʼn vergadering oor die prestasie- en uitgaweverslag van staatsmediainstansies, gesê. “Selfs die parlement word gereguleer. Die regters word gereguleer. Watter sonde sou dit wees as die media gereguleer word? Ek dink dit is baie belangrik dat alle persone gereguleer word, want wat ons probeer sê is dat mense professioneel moet wees wanneer hulle hul werk doen.

“Jy weet, soms praat mense van hul bronne. Wat is bronne? Daardie bronne moet geloofwaardig wees. Joernaliste moet soontoe kan gaan en die feite kan nagaan. Die bronne is soms nie net nie geloofwaardig nie, maar ook soms misleidend.

“Dit is waarom ons sê daar is niks mee verkeerd nie. Selfs julle, die DA, word gereguleer. So wat is die rede? Waarom kan ons nie joernaliste reguleer nie?”

Dié uitlatings volg ʼn dag nadat Motsoeneng aan ʼn paneelbespreking deur die New Age-koerant oor transformasie in die media, gesê het joernaliste is nie objektief nie en “lui”. Hy het bygevoeg die probleem met die Suid-Afrikaanse media is dat “hul houding en benadering tot nuus nie help om ’n nasie te bou nie”. Motsoeneng se standpunte is, volgens mediaberigte, deur Steven Motale, redakteur van The Citizen en Moegsien Williams, redakteur van The New Age asook verskeie hooggeplaaste ANC-gesindes ondersteun.

Davis het later in ʼn verklaring gesê dit is die “tipe nonsens wat veroorsaak dat Hlaudi Motsoeneng en die SAUK dwarsoor Suid-Afrika ʼn grap maak”. “As enigiemand ‘gereguleer’ moet word, dan is dit Hlaudi Motsoeneng self,” het hy bygevoeg.

Hy het die SAUK se nuwe uitvoerende hoof, Frans Matlala, aangemoedig om Motsoeneng af te dank.

Intussen het AfriForum Motsoeneng se onlangse aanval op mediavryheid behoort as wekroep te dien vir die versterking van onafhanklike media-instellings. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum het gesê dit is ironies dat die ANC homself as ’n demokratiese organisasie voorhou deur te verklaar dat hy ten gunste van mediavryheid is, maar terselfdertyd aktief ’n veldtog voer om dit aan bande te lê. “Staatsinmenging by die funksionering van die SAUK het alreeds tot ’n afname in die instelling se geloofwaardigheid gelei. Dit lyk of die SAUK-bestuur nie joernaliste is nie, maar politieke aktiviste.”

AfriForum het vroeër aangekondig dat hy later vanjaar ’n verskerpte veldtog vir mediavryheid van stapel sal stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

jennifer ·

Ek hoop almal sal Afriforum bystaan om te verhoed dat mediavryheid nie van ons weggeneem word nie. Dis juis die laaste paar weke dat die ANC se korrupte manier van doen , blootgestel is. Berigte oor Prasa, Eskom, Telkom , wangedrag in hospitale,skole ens,

Netta ·

Nogal ironies dat die liberale media nou gemuilband moet word. Wonder wat al die pro-ja-stem, linkse, onder die dekmantel ANC joernaliste daarvan dink? *lag in die mou*

Winston ·

Parlement reguleer? Kort kort eers hof beslissings kry om in lyn te bring.Net n kommunistiese staat reguleer die media. Dit is wat hier op pad is en n totale bedreiging vir ons “demokrasie” inhou. Dit lê te veel ongerymdhede bloot.

Magriet ·

Hoekom moet hulle gereguleer word. Omdat die paar goeies onder hulle julle wandade uitwys? Vee voor jou eie deur en dit sal nie nodig wees nie

Phil Holtzhausen ·

Motsoeneng is as ‘n leunaar en dief ontbloot maar bly in sy pos om, in ruil, die staatspresident en die ANC te probeer beskerm van die media se onthullings oor die Nkandla en menigte ander skandes

Berhalet Beukes ·

Nog ‘n domkop wat maak of hy weet waarvan hy praat!

susan ·

Los die media, of hulle nou die waarheid kwyt raak of lieg, hulle vertel ‘n storie. Is julle bang vir die waarheid, of hoe se hulle, waar daar ‘n rokie is – is n vuurtjie.

neelsie ·

Afriforum ons ondersteun julle.
Neem sterk standpunt in teen sulke uitsprake.

Griki ·

Hy’s nie in staat om hierdie muilbandstorie self uit te dink nie. Hy praat agter sy ewe domastrante minister aan. Natuurlik wil hulle die media muilband, nie bloot reguleer nie. Die media krap dan al hulle skandes oop. Dis makliker om die media te muilband as vir die ANC om eerlik en korrek op te tree.

Ghost ·

Hy se die joernaliste is lui. Het hy al gesien 3 kwart van die staatsdiens is lui en doen nie veel behalwe om vir betaaldag te wag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.