Johan Booysen: ‘NVG-hoof het Grondwet oortree’

Johan Booysen

Johan Booysen

Johan Booysen, die geskorste hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, het in ʼn hofaansoek gesê Shawn Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, het nie net die mag van sy posisie misbruik nie, maar ook die Grondwet oortree.

Booysen het saam met 18 lede van die voormalige Cato Manor-eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad ʼn aansoek by die Durbanse hooggeregshof ingedien. In die hofaansoek beweer Booysen dat Abrahams aangebied het om die regskostes van die 18 ander beamptes wat die aanklagte teen hulle teengestaan het, te betaal.

Booysen beweer ook Abrahams het die hof probeer ondermyn deur ʼn uitspraak wat reeds oor ʼn saak gegee is, te laat hersien. In die aansoek word daar aangevoer dat Abrahams se besluit om aanklagte van rampokkery teen Booysen en die 18 ander beamptes te laat instel nie gegrond was om enige nuwe inligting wat aan die hof voorgelê is nie.

Volgens Booysen was Abrahams se besluit gebaseer op dieselfde feite waarop die vorige aanklagte teen hom in 2012 gebring is en in Februarie 2014 deur regter Trevor Gorven tersyde gestel is. Booysen voer aan dat daar geen nuwe bewyse is wat Abrahams se besluit om hom weer te laat vervolg, regverdig nie.

“Ek sowel as ons regsverteenwoordiger is deur die polisie en die staatsaanklaer ingelig dat ‘niks verander het nie’ en dat adv. Abrahams nie staatmaak op enige inligting wat nie ook voor adv. [Nomgcobo] Jiba was nie. Dit wil blyk asof adv. Abrahams nie behoorlik nagedink het of hy die aanklagte moet goedkeur nie. Indien hy wel daaroor nagedink het, sou en kon hy nie goedkeuring gee dat iemand wat reeds dood is vervolg word nie. Dit is inderdaad wat hy gedoen het.”

Booysen het verder aangevoer dat indien Abrahams nie “addisionele en relevante bewyse” voor die hof kan bring nie, kan die NVG nie voortgaan om hom of die ander beamptes te vervolg nie. “Dit is doodgewonde misbruik van mag in ʼn poging om ʼn hof se bestaande besluit te ondermyn.”

ʼn Besluit om ʼn persoon op aanklagte van rampokkery te vervolg vereis dat ʼn sertifikaat deur die nasionale direkteur van openbare vervolging uitgereik word om die vervolging goed te keur. Booysen en die 18 ander beamptes sal na verwagting volgende jaar verhoor word op die aanklagte wat Abrahams teen hulle gebring het en wat Booysen en sy 18 medebeskuldigdes beweer is dieselfde aanklagte wat Jiba reeds in 2012 teen hulle gebring het.

Die bewering is dat Booysen ʼn groep bedryf het bestaande uit lede van die Cato Manor- eenheid wat mense, veral taxi-base, doodgemaak het om finansiële belonings, medaljes en bevorderings te kry. Die aansoek beklemtoon egter dat die Cato Manor-eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad reeds in 2006 ontbind het, terwyl die eerste beweerde oortreding eers twee jaar later begaan is.

“Sonder die bestaan van die groep kan daar mos nie rampokkery wees nie. Dit was daarom irrasioneel om hierdie aanklagte goed te keur,” het Booysen gesê. Die aansoek versoek dat die hooggeregshof die aanklagte teen die beskuldigdes ter syde stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nic ·

Moet iemand nie iewers ‘n besluit neem dat Abrahams onbevoeg is vir die pos wat hy beklee nie? Ek bedoel hierdie onsinnigheid teen Johan Booysen en die groter onsinnigheid teen Glynnis Breytembach! Komaan Solidariteit, bult bietjie julle spiere teen hierdie oppprtunis!

Koos1 ·

Ja Nic, daar is en die is Zuma. Hy sal dit egter nooit doen nie. Abrahams is deur hom persoonlik aangestel. Hy moet Zuma se belange dien. Van die ondersoeke in kzn tot Zuma se moontlike kriminele vervolging. Ek gaan vandag iets se wat ek dink gaan gebeur. Zuma gaan nie vervolg word nie en gaan amestie kry en “bedank” net na die verkiesing hierdie jaar!

Vos ·

Hy , Abrahams gaan ook nou werk selfmoord pleeg, hy probeer die lig van Zuma en al sy peanuts hou deur op die wat eintlik reg gewerk het te fokus.

Joann ·

Koos1 jou bek kort jam. Dit is net soos jy se en dit gaan so wees.

Hendrik von Wielligh ·

ondermyning. Tipiese Afrika werksmetode. Hoe roekeloos en deursigtig ookal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.