Johan Goosen: ‘Ek het ʼn fout gemaak’

Johan Goosen. Foto: rugbypass.com/ANA

Die voormalige Springbok Johan Goosen is spyt oor die manier wat hy sy skok-“uittrede” hanteer het om uit ʼn kontrak met die Franse klub Racing 92 te kom.

Goosen het einde 2016 die rugbywêreld onkant gevang toe hy Racing 92 op omstrede wyse verlaat en sodoende van ʼn multimiljoenrand-kontrak afstand gedoen het om as ʼn kommersiële bestuurder op ʼn perdeplaas in Bloemfontein te gaan werk.

Goosen het onder hewige kritiek deurgeloop met bewerings dat hy net na ʼn manier gesoek het om Racing 92 te verlaat aangesien hy nie meer gelukkig was daar nie.

Hy het vroeër vanjaar weer ʼn opskudding veroorsaak toe hy aangekondig het dat hy ʼn kontrak met Montpellier in Frankryk gesluit het. Hy het vroeër vanjaar ʼn paar keer vir die Cheetahs uitgedraf.

Goosen was tydens sy uittrede ook by ʼn jagongeluk betrokke. Hy het sy vriend, Armandt Stoman, op 24 Januarie verlede op die plaas Lilly Flanders, naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap, met ʼn jaggeweer in sy enkel geskiet. Stoman is ná die voorval na ʼn hospitaal in Bloemfontein gehaas en moes verskeie operasies ondergaan.

Goosen het intussen in ʼn openhartige onderhoud met die Franse koerant Midi Olympique erken hy het ʼn fout gemaak.

“Ek het nie goed gevoel in Parys nie. Ek is ʼn Suid-Afrikaner en ek kort spasie. In die buurte van Parys is die geboue so naby aan mekaar en dit het gevoel of ek versmoor. Ek het die ongemaklike gevoel gehad dat ek in ʼn boks bly. Die ergste was dat my seun ook ongelukkig was.”

Goosen het gesê hy kon nie nog vyf jaar bly nie.

“Geld het niks hiermee te doen nie. Ek het ʼn ander lewe gesoek, son, spasie en die natuur. Ek het dit alles in Montpellier.”

Volgens Goosen verwag hy ʼn vyandige ontvangs wanneer hy weer in Frankryk begin rugby speel.

“Dit was malligheid. Ek het ʼn fout gemaak. Ironies genoeg het ek ook baie gegroei die afgelope twee jaar. Ek het my kop skoon gekry en my lyf toegelaat om te herstel. Ek is deur moeilike tye. Ek was baie hartseer. Ek het gedink dit gaan nooit eindig nie.

“Partykeer het ek vir myself gesê: Miskien moet ek teruggaan Racing toe? En ander kere was ek oortuig dat dit my niks sou help om terug te gaan nie. Ek was verlore. As daar ʼn speler in my situasie is, sal ek vir hom sê: Moet dit nie doen nie, want jy sal spyt wees. Die prys om te betaal is te groot.”

Goosen word einde Julie 26 jaar oud en daar is ʼn kans dat hy steeds sy internasionale loopbaan kan laat herleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris ·

Nou gaan hy nie weer benoud voel daar waar hy gaan nie en is sy hart en kop werklik skoon of gaan dit maar net oor die geld wat hy daar gaan verdien. Hoelank sal dit neem voor hy weer sy speelgoed uitgooi.

Denise ·

Ek dink die ingehok het vir jou te veel geraak jy is gewoont aan spasie dink net hoe moet diere voel wat so in hokke aangehou word sterkte jong man geniet jou sport !!!!

Denise ·

Dit moet baie frustrende wees vir iemand wat gewoont is aan spasie en ja hoekom sal hy nou vir pennies vir hulle speel altyd iets wat jy moet opgee om iets te bereik !!!

Ek dink die ingehok het vir jou te veel geraak jy is gewoont aan spasie dink net hoe moet diere voel wat so in hokke aangehou word sterkte jong man geniet jou sport !!!!

Bart ·

Hy het sekerlik geweet wat die omstandighede in Frankryk gaan wees as hy daar gaan bly?? geen verskoning nie. Wat hy gedoen het was onprofessioneel.

kas ·

Johan Goosen was ‘n baie goeie rugbyspeler tot hy vir baie lank beseer was.Hy het daarna nog nooit sy topvorm herwin nieDie manier hoe hy weg is by sy vorige klub was nie professioneel nie maar as hy voel hy wil teruggaan dan kan hy gaan maar hoelank gaan hy daar wees voor hy weer ongelukkig raak.Speel eerder in Sa vir minder geld maar vir meer geluk of is die geld in Frankryk aanlokliker.Hy kan net vir solank rugby speel so hy moet dink aan sy toekoms

WWW ·

Weet jy waarvan jy praat Kas? Johan Goosen was aangewys as die beste speler in die Top 14, bo spelers soos Daniel Carter onder andere. So wat is volgens jou definisie “topvorm”?

Nouja ·

Hy het erken dat hy ‘n fout gemaak het, onprofesioneel opgetree het en ‘om verskoning gevra. Punt
Nog nie tevrede nie seg die publiek, wees ongenaakbaar en skop hom terwyl hy van die grond probeer opstaan – dit is hoe ‘n christen volk sy afvalliges lewenslesse leer.

Ruben ·

Vir 3 miljoen plus n jaar sal ek in n tronk gaan sit 5 jaar vir dit..mense kan kla oor niks en is bederf…sy seun was ook ongelukkig ai shame wat n verskriklike lewe moes hy nie gehad het.

Niklaas ·

Baie talentvol. Hoop hy kry nou vastigheid en speel tot sy volle potensiaal. Hy kan nog jare speel. Op sy beste is hy ‘ster.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.