Johann Botha-moord: Drie weer in hof

Johann Botha. Foto: Maroela Media

Die twee mans en ’n vrou wat daarvan beskuldig word dat hulle die televisie- en radiopersoonlikheid Johann Botha en ’n vriend van hom vermoor het, verskyn Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof.

Thembi Mbatha (19)‚ Nkosiyazi Phungula (27) en Ntobeko Hlatshwayo (32) staan tereg op aanklagte van moord, gewapende roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die saak is tydens die drie se vorige verskyning op 11 Augustus uitgestel  vir verdere ondersoek nadat Colleen Ryan, die staatsaanklaer, laat hoor het selfoonrekords en foto’s van die nadoodse ondersoeke is uitstaande.

Die drie is glo op kringtelevisiebeeldmateriaal betrap waar hulle die misdaad pleeg en met ʼn groot hoeveelheid geld van die toneel vlug.

Botha en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van die Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, het in Junie in die restaurant gekuier waar hulle doodgeskiet is. Dié restaurant was een van Botha se gunstelingkuierplekke. Hy en Swazi het sowat ʼn jaar gelede ʼn skaakklub in die Zebra Inn begin en mense uit alle agtergronde byeengebring om Dinsdagaande skaak te speel.

Vier verdagtes, drie mans en ʼn vrou, het omstreeks 19:20 by die restaurant ingestap en iets bestel om te drink. ʼn Ruk later het van die verdagtes vuurwapens uitgepluk en Botha en Swazi koelbloedig voor omstanders doodgeskiet. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld en twee vuurwapens van die toneel gevlug.

Botha, ʼn bekende in bewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was sedert begin vanjaar die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Dit is die beloning wat hulle gekry het deur opheffingswerk te probeer doen deur hulle te probeer leer om skaak speel, die moordenaars verdien die doodstraf.

NjS ·

Seker al drie potjies skaak (beste uit drie) verloor. Toe blameer hulle seker apartheid?!

Middie ·

Wens al drie kon die doodstraf kry vir Johann en sy vriend se dood, maar niks sal hulle terugbring nie. Soveel seer harte oor nog twee wie se lewens geneem is deur mense wat geen respek vir ‘n lewe het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.