Johann Botha: ‘Só sal ons hom onthou’

Rudolph Botha, Werner “Swazi” Perchtold en Johann Botha. Foto: Verskaf

Die koelbloedige moord op die televisie-en-radio-aanbieder, Johann Botha (53), het sy hegte gesin gebroke gelaat.

“Ons ouers woon in Pretoria en word deur familie bygestaan. Ek dink die skok is nog groot en alles het nog nie behoorlik ingesink nie,” het Johann se broer, Rudolph Botha (56), Woensdag vanuit Pretoria aan Maroela Media gesê nadat hy vroeër die dag sy broer se liggaam in Johannesburg moes gaan uitken het.

Johann en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, het Dinsdag omstreeks 19:00 in die restaurant gekuier waar hulle later doodgeskiet is. Die restaurant was een van Botha se gunsteling-kuierplekke. Hy en Swazi het sowat ʼn jaar gelede ʼn skaakklub daar begin wat ʼn rykdom van kulture byeengetrek het om Dinsdagaande skaak te speel.

Vier verdagtes, drie mans en ʼn vrou, het omstreeks 19:20 by die restaurant ingestap en iets bestel om te drink. ʼn Ruk later het van die verdagtes vuurwapens uitgepluk en Johann en Swazi voor omstanders koelbloedig doodgeskiet. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld en twee vuurwapens van die toneel gevlug en is steeds soek. Die Jeppestown-polisie ondersoek twee sake van moord en ʼn saak van sakeroof.

Johann, ʼn bekende in bewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was sedert begin vanjaar die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

Hy is in Rustenburg in Noordwes gebore en het in die ouderdom van sewe saam met sy ouers, twee broers en ʼn suster na Pretoria verhuis.

Hy het in 1981 aan die Hoërskool Centurion matriek behaal waarna hy drama aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer het. Ná sy twee jaar diens by die weermag het sy loopbaan by die SAUK as omroeper afgeskop. Hy het ʼn bekende gesig op die kassie geword.

“Die persoon wat ʼn mens op televisie gesien en oor die radio gehoor het, was presies die tipe mens wat hy was. Sagmoedig, altyd vriendelik en verskriklik lief vir die natuur,” het Rudolph gesê.

“Hy was ook mal oor opera, poësie, Afrikaans en skaak. Hy is die slimste mens denkbaar en het ʼn ongelooflike algemene kennis gehad. Hy het nooit ʼn begeerte gehad om ryk te word nie, hy wou maar net die basiese dinge gehad het en was daarmee tevrede. Hy was absoluut kleurblind as dit by ras gekom het en sou alles vir ons as familie gedoen het. Ons het die voordeel gehad om hom gereeld te sien en gaan hom ongelooflik mis.”

Volgens Rudolph was Johann nooit getroud of het kinders gehad nie. “Tog was hy ʼn groot gesinsmens en as hy ʼn pa was, sou hy ʼn baie goeie pa gewees het.”

Johann laat sy ouers, Hansie (85) en Mollie (84) Botha, broers, Hannes (58) en Rudolph, en suster, Tharina Botha (50), agter.

Reëlings vir sy gedenkdiens is nog nie getref nie.

Lees die vorige berigte oor Johann Botha op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

buks ·

Johan ek het jou werk so geniet veral dit wat jy vir my van die natuur geleer het. RIV

olie ·

Johann ons gaan jou mis, so onnodig. Sal ons president groot asseblief iets doen asseblief!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!! ek is kwaaaaaaaaaaaaaaaad. Johann se ouers kry ek sooooo jammer. Ek is regtig ongelukkig en kan iets oorkom.

jan van riebeeck ·

Voel soos gister toe hulle Corrie Sanders doodgeskiet het , en nou nog n bekende , hoeveel gaan daar nog wees voor ons ons voet neersit ? of is ons lewens minder werd as sommiges se teer gevoelens ?

humor ·

Van kop tot end gaan dit oor n gebrek aan morele waardes wat eiendomlik is aan Afrika. Ongelukkig word hul vermoens nie toegespits op hul verantwoordelikheid nie en bestaan daar ook geen roepingsbesef nie. In die meeste van hul tyd word daar aandag gegee om hulself te verryk al is dit op die grofste manier denkbaar. Natuurlik moet dit die burgery negetif beinvloed. Ja die heel beste vir die land is dat die anc moet weg. Daarin le ons redding opgesluit.

Mel ·

Ons as lede van die gewone publiek, wat Johann se programme op Radio en Tv gevolg het, is ontsettend hartseer oor sy dood! Dit is inderdaad n groot verlies om so n wonderlike tallentvolle persoon te verloor. Dis so onwerklik. Baie sterkte aan sy familie en vriende.

Ouma ·

Ja!! Weet jy? Hierdie soort het geen respek, geen gevoel, geenen genade ,geen toekoms , en geen vergifnis nie!! Mag hulle almal so gaan soos wat hulle die “bleekes” uitwis!!

OumaLien ·

Johann het so reg gelewe en so verkeerd gesterf. Rus in vrede jy SAL gemis word. Innige meegevoel ook aan Swazi se hartseer familie.

Meraai ·

‘n Mooi mens met net so ‘n mooi siel… Regtig hartseer dat iemand wat so onbevange sy waardes uitgeleef het, so gewelddadig moes sterf. Hy sal ‘n groot leemte laat.

Tina du Toit ·

Baie hartseer dat onskuldige mense so lewens s beiindig word. R.I.V. Baie sterkte aan sy familie en vriende.

thea ·

Ek is regtig jammer om te hoor van Johan Botha, maar daagliks word gewone burgers verkrag en vermoor, moenie dat die bekendes verhewe is bo sulke tragiese voorvalle, of jy bekend is of nie , niemand verdien om vermoor te word nie

Pastoor ·

Lees maar 2Kon 12.35. Hiskia het gebid en die Doodsengel van God laat sterf 185 000 assiries in een nag. God kan hierdie moordenaars uitwis in n oogwink. Bid tot hulle gevang word amen

Dirk Breytenbach ·

‘n Groot boom het geval wat onvervangbaar is. Johan ons sal jou lank onthou.

SARIE VAN HEERDEN ·

Jare gelede toe ‘n bossiekop nog half vreemd was het ons oor hare gepraat en het hy vir ons vertel hy het nog nooit ‘n kam of ‘n borsel besit nie. Hy was sy hare en dis dit. So ‘n vriendelike mens met wie se pad myne nie gereeld gekruis het nie maar ek het hom onthou vir die sagte kyk van sy oe en glimlagplooi langs sy mond. Wat ‘n jammerte.

John ·

Ek weet dis ‘n vreemde vraag, maar word gemene spel nie vermoed nie? Hy het soms op sekere mense se tone getrap deur sindikate wat met skaars wild en plante smokkel, oop te vlek.

MW ·

Ek voel hartseer Weet nie hoe om my emosieste te onderdruk nie Waarom? Wil ek weet. My plaas is ook deel van daardie grondeis. Miskien net moontlik dat hierdie vooraf beplan is. Dat die sg roof net n verskoning is? Groot man met n sagte hart Ons het iemand verloor wat ons nodig gehad het Sterkte aan die familie

Audrey Thom ·

Ek het groot bewondering vir Johann gehad…..sy musiek smaak, sy omgee vir diere en mense….

Sommige van mense se kommentaar hier, sou hom nooit aangestaan het nie….

#respekjohannbothamyrespek

Willie Johan Classen ·

Groot gees wat weg is. Johan is getroud in Kleinmond in 1999 te Kleinmond. Sien Bloubakkie se FB bladsye met fotos. ? Weet nie wanneer hulle geskei is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.