Johann van Loggerenberg bedank uit SAID

Argieffoto

Argieffoto

Johann van Loggerenberg, SAID se groephoof van belasting- en doeane-ondersoeke, het bedank.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en Van Loggenberg het Woensdag in twee afsonderlike persverklarings gesê dat hul paadjies op ʼn vriendskaplike wyse gaan skei.

“Die SAID het sy bedanking aanvaar, en bevestig dat dit op ʼn vriendskaplike wyse geskied, wat in die beste belange van die SAID is,” het die inkomstediens gesê.

Van Loggerenberg het die SAID gedien vir ʼn tydperk van meer as 16 jaar.

Hy is verlede jaar in September op spesiale verlof geplaas hangende die uitkoms van ʼn ondersoek oor beweerde wangedrag en betrokkenheid by ’n sogenaamde onderduimse ondersoekeenheid. Tom Moyane, SAID-kommissaris, het hom glo in November amptelik daaroor geskors.

Die SAID het Woensdag gesê hy beskou die kwessie as “finaal en in alle opsigte afgehandel”.

Van Loggerenberg het op sy beurt gesê sy bedanking is in goeie geloof gedoen wat in die beste belang van die SAID en die land is. Hy het erken dat hy ʼn oordeelsfout begaan het weens ʼn kwessie in sy persoonlike lewe, en dat dit tot onvoorsiene gevolge gelei het wat buite sy beheer was. Hy het die SAID, sy werknemers en die land daarvoor om verskoning gevra.

Die ondersoek het gevolg nadat die prokureur Belinda Walter, Van Loggerenberg se voormalige vriendin, verlede jaar ʼn klagte teen hom gelê nadat hul verhouding in Mei beëindig is.

Hul verhouding het glo begin skeefloop nadat Van Loggerenberg uitgevind het sy tree as prokureur op vir sigaret-smokkelaars wat deur Van Loggerenberg en die SAID ondersoek is vir belastingontduiking, bedrog en geldwassery. Walter het glo ook teenoor hom erken sy het as ’n spioen vir die Staatsveiligheidsagentskap gewerk.
Walter het aan die SAID gesê Van Loggerenberg het vertroulike inligting oor belastingondersoeke met haar gedeel.

Van Loggerenberg het Woensdag gesê dit was ʼn eer om vir die SAID te werk en het werknemers aangemoedig om Moyane en sy span te ondersteun.

“Ek bevestig dat die saak tussen my en die SAID ten volle en finaal in alle opsigte afgehandel is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.