Johannesburg: Boete as jy water mors

Argieffoto (Foto: EME, Pixabay)

Argieffoto (Foto: EME, Pixabay)

Inwoners van Johannesburg kan binnekort beboet word indien hulle nie aan die waterbeperkings voldoen nie, het die Stad Dinsdag gesê.

Die beperkings is spesifiek van toepassing op huishoudelike gebruikers wat meer as 20 000 liter water per maand gebruik.

Die nuwe beperkings en boetes, soos aangekondig deur Anthony Still, burgemeesterskomiteelid vir omgewingsake en infrastruktuurdienste, kom ná die departement van waterwese en sanitasie besluit het om die hoeveelheid water, wat uit die opvangsgebiede van die damme wat die Vaalrivier- en Oranjerivierstelsels bedien, te beperk.

Still het gesê die drastiese maatreëls wat ingestel word, sluit ʼn algehele verbod op die gebruik van sproeiers in en ʼn bykomende heffing op bestaande waterbeperkingstariewe.

“Ons stel ʼn reël in dat geen sproeiers gebruik mag word nie. Indien jy jou tuin wil natlei, moet jy dit voor 06:00 in die oggend of in die aand doen en dit met ʼn tuinslang of ʼn emmer doen,” het Still verduidelik.

Vlak 2-beperkings, wat verlede jaar in November ingestel is, sluit in dat munisipale water nie gebruik mag word om motors mee te was nie.

Still het gesê inwoners wat tussen 20 000 en 30 000 liter water per maand gebruik, sal 10% ekstra moet opdok, en diegene wat tussen 30 000 en 40 000 liter per maand gebruik, sal tot 20% ekstra moet betaal.

Persone wat meer as 40 000 liter per maand gebruik, se tariewe sal met 30% verhoog word.

Persone wat die waterbeperkings verontagsaam, kan beboet word met tussen R1 000 en R1 500 vir elke oortreding en dit sal by hul waterrekeninge bygevoeg word.

Still het gesê Rand Water, wat die stad van massawater voorsien, het die Stad versoek om sy watergebruik met 15% te verminder. “Die departement van waterwese is op ʼn nasionale vlak besig met droogtestappe, aangesien die Vaalrivier-stelsel tot minder as 60% gedaal het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Henk ·

Maroela – kan julle asb. die inligting in die artikel nagaan/bevestig, dalkies het African News Agency Mnr Still verkeerd aangehaal of verstaan. Want Johannesburg Water se webwerf artikel van gister ( https://www.johannesburgwater.co.za/media/ ) maak baie beslis geen melding dat sproeiers algeheel verbied is nie – bloot dat mens net met die hand mag natlei tussen 06:00 en 18:00.

JA ·

Ai Henk, as ‘n mens dan nou net met die hand mag natlei, dan mag jy mos nou nie met sproeiers nie. Dis mos logies, kan selfs logies bewys word.

Cherokee ·

So, jy verstaan nie Henk se vraag nie. In ontleding van die vraag en jou antwoord daarop is dit logies dat jy nie nie ‘n benul het waaroor die vraag gaan nie. Dit kan selfs logies bewys word.

Sune van Heerden ·

Dagsê Henk

Dankie vir jou terugvoer. Die mediaverklaring stipuleer duidelik dat slegs tuinslange en emmers tussen 06:00 en 18:00 gebruik mag word. Die munisipaliteit se persverklaring maak dit egter nie duidelik of sproeiers tussen 18:00 en 06:00 gebruik mag word nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

CommentQueen ·

Liewe JA, stem saam jou. Hoe moeilik is dit om te verstaan… nerens word gesê dat sproeiers algeheel verbied word nie – maar mense mag NET MET HAND natmaak…. duh
NET MET HAND beteken tog…. NIE MET OETS ANDERS…!??
Nee Cherokee, ons verstaan nie Henk se vraag nie….. versuidelik asb.

Ohna bouwer ·

Ek sal graag wil weet of die munisipaliteite wat water mors ook beboet sal word. Ons sukkel al van Donderdag af met water probleme in Brentwood Park. Pype bars die heeltyd en dan loop liters water in die strate af.

CHRISTA ·

Hier by ons in Ekurhuleni het ons dieselfde probleem. Ek ry elke week deur Kempton Park, Edenvale en Germiston en in AL DRIE gebiede loop water geduring die strate af. Dit is dieselfde met straatligte wat HEELDAG brand, maar ONS moet water en krag bespaar (en dan is dit nogal die party wat 22 jaar gelede GRATIS water en elektrisiteit beloof het)!!!

Lance ·

Alle ander reels en wette word verontagsaam maar NOU skielik wil hulle die wet toepas om water …wil nog sien of dit kan werk as al die ander reels soos rommel strooi en dumping GLADNIE nagekom word nie …ek dink hulle grap met die mense van jhb !

CommentQueen ·

Nou hou op na ander mense kyk wat VERKEERD DOEN en WEES N BETER MENS!!!!
Ek wens mense wil opjou ander die skuld gee om hul eie gewetes te sus.
HOU OP WATER MORS!! Dis nie jou buurman of sie lokasie of die regering se skuld nie
DAAR IS DROOGTE IN DIE LAND.
DOEN JOU DEEL OF BLY STIL.

KarooKlong ·

Kan nie glo dat ‘n huishouding tussen 20 000 en 40 000 lit water per dag kan gebruik nie. Dan klink dit of daar huishoudings is wat ook meer as 40 000 lit per dag gebruik. Is julle seker dit is nie dalk per maand nie?
Iets moet iewers lek!

Sune van Heerden ·

Dagsê KarooKlong

Dagsê Henk

Dankie dat jy ons hierop gewys het. Ons vra om verskoning.
Dit moet inderdaad “20 000 liter per maand” lees. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Irene ·

Ons het probleem met water wat loop in strate wie doen iets dasr aan het ons nie gestem vir beter diens nie wanneer word daar nuwe mense in die plek gesit

Scalla ·

Reg voor my huis in die straat het n pyp gelek, na vele oproepe en dae het hul 3 werkers met n 10 ton trok gestuur om oop te grawe, die lek is opgespoor en hul wou dit met n stuk tjoep en draad herstel, ek moes n klamp gaan koop het uit my sak en die faktuur aan hul gee sodat ek krediet op my rekening sou kry, wat tot vandag nog nie gebeur het nie. En die beste van alles ek gebruik die afgelope 8 jaar my eie boorgat met n drukpomp, tenk en filters, die meter staan stil en ek ontvang nie eens die gratis 6 kiloliter per maand nie. Die probleem is bestuur, instandhouding en integriteit.

Cherokee ·

Maar Scalla, dit was tog naief om vir die munisipaliteit voorraad te koop, die kontantstrokie aan die werkers te gee en op krediet staat te maak.

Ansie ·

Kan net se sterkte ek woon in Welkom by ons Straat is daar 3 water lekke het al so baie oproepe gemaak 2 maande terug.Water stroom nogsteeds.Wie gaan die water betaal- wonder hoe lank gaan dit vat vir vaaldam om op the droog. Klerksdorp dam kla leeg

Pastoor ·

Ek verstaan mooi ons het ook waterbeperkings in ons stad. Wat nou van die motorwasplekke. Kyk mense daar word water gemors 1000 e liters per dag. As daardie water na JoJo tenke gepomp kan word. Met n filter of 2 in kan dit herhaaldelik gebruik word. Ek landswyd word daar derduisende liter per u6r weggespuit

Theresa ·

Ek dink die hoëdruk spuite wat gebruik word, gebruik minder water en ook dat dit wel hergebruik word.

Marinda ·

Benoni : Ons het nou vir die afgelope week net n paar druppels water per dag, soms geen water. Water stroom in die strate af omdat instandhouding nagelaat is. Wie gaan betaal daarvoor?

KarooKlong ·

Hierdie plan werk 99%.
Neem ‘n goeie foto van die probleem, kry feitlike gegewens oor die probleem, gaan reguit na die plaaslike koerant en plaas dit.

Theresa ·

Wie gaan die plakkers in die Pta-Oos begrafplaas wat die water daar steel – reuse kanne vol (en nog die kraankoppe afbreek op plekke) dan loop die water die heeltyd gerieflik uit om in te slof .
WIE?! Die owerhede moet asseblief tog eers al die onwettige watergebruikers en stelers daarvan vasvat en wegvat, alvorens hul mense wat hul rekeninge getrou betaal vir die gerief probeer kortwiek. Waterbesparing is natuurlik noodsaaklik, maar gaan maak eers skoonskip van die mense wat dit werklik misbruik en steel. Dan praat ons weer.

neelsie ·

Boetes is te lig.
Inwoners met massiewe huise en erwe het geld om die klein boete te betaal.
Die wat oortree moet op beurtwater – stelsel geplaas word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.