Johannesburg help brandslagoffers met akkommodasie

Brand by die Cape York-gebou in die Johannesburgse middestad (5 Julie 2017) Foto: Johannesburgse nooddienste

Die Stad Johannesburg het Vrydag gesê hy ondersteun inwoners, wat dakloos gelaat is ná ʼn brand in die Cape York-gebou in die middestad, met alternatiewe akkommodasie.

ʼn Brand het Woensdagoggend by die gekaapte gebou op die hoek van Jeppe- en Nuggetstraat in sentraal Johannesburg uitgebreek. Sewe persone is dood en 50 is van die dak gered. Die gebou het nie enige elektrisiteit, water of enige vorm van sanitasie nie.

Die Cape York gebou, ook bekend as “Mnyamandawo”, huisves ook misdadigers wat betrokke was by misdaad in Johannesburg.

Mpho Phalatse, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, het gesê die tragedie is betreurenswaaardig. Sy het gesê meer as 85 geboue in die stad is verlate en gekaap en misdaad vier hoogty.

“Ons innige meegevoel aan die families wat geliefdes verloor het en ons wens diegene wat in die hospitaal aansterk, ʼn spoedige beterskap toe,” het sy gesê. Alternatiewe akkommodasie is intussen vir slagoffers aangebied in tente naby Wembley-stadion, en daar is ook skuilings geïdentifiseer vir behoeftiges.

“Byna 350 persone is as gevolg van die brand dakloos gelaat, en alhoewel die stad beperkte hulpbronne het, buiten die historiese agterstand van 300 000 huise, doen ons alles in ons vermoë om seker te maak dat daar vir dié inwoners gesorg word,” het Phalatse bygevoeg.

Sy het verduidelik haar departement en die rampbestuureenheid het ʼn assessering gedoen en sop en broodjies begin verskaf en komberse uitgedeel aan ma’s met kinders. Beradingsdienste word ook gelewer.

“Die gebou het ʼn privaat eienaar en dit is as ʼn misdaadtoneel verklaar en afgesper. Die inwoners sal nié kan terugkeer nie, aangesien die gebou onveilig en onhigiënies verklaar is.”

Die Johannesburgse metropolisie en die SAPD monitor deurgaans die gebied en die departement van binnelandse sake en immigrasiebeheer is ook gekontak om ongedokumenteerde persone by te staan.

Phalatse het R219 miljoen van die gewysigde begroting van die Johannesburgse maatskaplike behuisingsmaatskappy is geallokeer om die transformasie van dié geboue te fasiliteer na laekostebehuising vir inwoners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

piper ·

daar moes vele hofbevelle gewees het om die mense uit te sit maar niks het gebeur nie. ons wette beskerm besetters te veel. is dit nie so dat as n klag by die polisie ingedien word oor besetting dat die polisie moet optree nie. al daardie onwettiges moet terug gedepoteer word na hulle lande.

snoefie ·

die polisie weet dat misdadigers daar skuil en keer hulle nie aan nie!!! skandalig.

MissDemeanor ·

Kyk Lois Theroux se dokumenter oor ” lawlessness and disorder in JHB”. Enige polisieman wat by so n gebou gaan probeer instap sal nie lewend uitkom nie. Die polisie moet die KingPins wat die gekaapte geboue verhuur probeer opspoor.

Houtoog ·

Die derde par. behoort te lees: ‘. . . is die skuilplek ook van misdadigers wat betrokke is by . . . ‘.
Hoe raak die plek aan die brand?
Die vlgde. is afwesig: Elektrisiteit (kortsluitings); toilette (metaangas); meubelment (hout en matte). Selfs ‘n braaivuurtjie vir die ribbetjie geskenk deur die skaapboer en vir verwarming behoort nie die plek te laat brand. Alles is verstaanbaar maar hoe werk die toiletstories of eet die mense nie?

Hans ·

As die owerhede hul wetlike verpligting nagekom het toe die kaping van die geboue jare gelede begin,sou die huidige situasie nooit ontstaan het nie. Dit het mens van politiek korrekte optredes.

Vermeende ·

Ek wonder net, gaan die eienaar ook bygestaan word vir die skade en verlies aan inkomste??

MissDemeanor ·

Dis goed dat hul die dokloses help. Hulle moes dit al vroer gedoen het en hulle moes seker genaak het dat die 85 geboue nie gekaap word nie. Mense moet gehelp word voor hul situasie so versleg dat hul niks meer kan doen om hulself uit te kry nie. Jy kerm oor die begroting. Maar as mense vroegtydig maatskaplike hulp kry dan sal wanhoop en wetteloosheid nie die oorhand kry nie. As die geboue wat gekaap is ordentlik in stand gehou is dan kon mense daar bly met elektrisiteit en water en die eienaar kan munisipale belasting betaal. Jy wil die verkeerde mense straf. Moenie jou rug op die slagoffers draai nie, vind die wortel van die kwaad en genees dit.

Cas ·

80% van die brande in blyplekke soos die en in plakkerskampe het met dronkenskap te doen. 90% van brande in staatskantore is doelbewus gestig om spore van korrupsie en wanbestuur toe te smeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.