Johannesburg is Covid-19-middelpunt in SA

David Makhura.

Johannesburg is die middelpunt van die koronavirus in Suid-Afrika, met meer as 400 gevalle in die Goudstad, het die premier van Gauteng, David Makhura, Donderdag gesê.

Hy het uiteindelik toegegee aan druk op die Gautengse regering om ook distrikgebaseerde syfers rakende positiewe gevalle van Covid-19 bekend te maak soos die Wes-Kaap doen.

ʼn Totaal van 782 van die 1 854 landwye Covid-19-gevalle is in Gauteng. In Johannesburg is daar 440 mense wat positief vir Covid-19 getoets het, 111 in Ekurhuleni, 90 in Tshwane, 12 aan die Wes-Rand en ses in die Sedibeng-distrik (die Vaaldriehoek). Altesaam 123 mense wat in Gauteng positief getoets is vir die koronavirus is nog nie aan ’n distrik toegewys nie. Drie mense is in die provinsie dood.

Die hoë syfers vir Johannesburg en Ekurhuleni is deur Makhura daaraan toegeskryf dat die lughawens OR Tambo en Lanseria daar geleë is.

Meer as 600 mediese personeel en meer as 8 000 gemeenskapswerkers is reeds opgelei om toetsing te doen. Daar is reeds in al vyf distrikte met massatoetsing begin en die klem is op die armste gebiede, naamlik Alexandra, Winterveld, Hammanskraal, die Wes-Rand en die plakkersgebiede in die Vaaldriehoek.

Een van die eerste gebiede waar massatoetse uitgevoer is, was in Alexandra. Tot dusver is nog net een geval in die township positief, met 26 mense wat korona-simptome toon. Volgens Makhura is amper 27 000 mense al ondersoek en het 440 mense simptome getoon en is hulle vir toetsing verwys.

Wat die nasporing van diegene wat kontak met simptomatiese mense gehad het betref, is sowat 90% van hulle danksy selfoontegnologie suksesvol opgespoor.

Die provinsiale regering poog steeds ook om die aantal beddens te verhoog en volgens Makhura sal die Tshwane-distrikshospitaal as ʼn Covid-19-fasiliteit dien. Die hospitaal het 240 beddens.

Een van die grootste probleme in Gauteng is die vandalisering en afbrand van skole. Tydens die staat van afsondering is reeds by 22 Gautengse skole ingebreek, waarvan vier afgebrand is.

In die Wes-Kaap is die meeste gevalle van Covid-19 in Kaapstad met 407, gevolg deur die Tuinroete met 45. Die Kaapse Wynlande het 39 gevalle, die Overberg het 10, die Weskus het vyf en die Karoo geen gevalle nie. Vier gevalle is nog nie toegedeel nie. Die Wes-Kaapse dorpe met die meeste voorvalle is Stellenbosch, George en Knysna.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PieterP ·

Klink vir r my na ‘n onvoorbereide gegorrel. As dit die lughawens is dan sal die personeel van die lughawens mos goed uitgedun wees. Forest Gump het dit die beste gesê : stu… Is as stu… Does

Die Wolf ·

Die Stats klink vir my verdag. Ek is vas oortuig dat ons al by 3000 gevalle is. Wat word weggesteek en waarom? Is dit om goed te lyk in die oe van die buitewereld en/of plaaslik? Ek wens ons kan net vir n slag eerlikheid sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.