Johannesburg-man steeds vermis: ‘Jy besef die tyd stap aan’

Wayne Smith. (Foto: Verskaf)

Daar is steeds geen tyding van Wayne (Johnson) Smith, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir die Konferensiebedryf (Saaci), wat verlede maand in Johannesburg vermis geraak het nie.

Aan die einde van die werkweek sal dit presies ʼn maand wees sedert sy lewensmaat, Charl Smith, van hom gehoor het, vertel hy aan Maroela Media.

“Ek kan dit nie dink nie. Dit voel of dit gister gebeur het. Dit is net só absurd. Ons is nog heeltyd aan die soek,” verduidelik Charl.

Maroela Media het vroeër berig Wayne, ʼn bestuurder by Scan Display, het op 12 Junie omstreeks 12:00 vir sy werksmense gesê hy gaan gou vir ’n uur uit die kantoor wees.

Charl het die betrokke oggend omstreeks 10:20 vir die laaste keer met Wayne gesels en geweet dat Wayne deur die loop van die dag winkels toe moes gaan om ’n hemp en ’n das te koop vir ’n troue wat die egpaar daardie naweek sou bywoon.

Charl moes self ’n nuwe hemp en das aanskaf en het die oggend saam met Wayne se ma, wat in dié stadium by hulle gekuier het, na ’n ander winkelsentrum gegaan.

“Ons het op pad terug van die winkelsentrum vir Wayne gebel om hom te vertel van ons dag. Sy foon het net gelui en ek het eers gedink hy is net in ’n vergadering. Hy bel gewoonlik terug, maar het toe nie. Ek het teen 15:00 hom weer probeer bel en die foon het weer net gelui.”

Toe Charl teen 15:40 wéér bel, het Wayne se stemboodskap opgekom. “Ek het toe dadelik geweet iets is fout.”

Hy vertel dat hy daarna elke twee minute probeer bel het waarna hy Wayne se werk gebel het. Toe sou hy hoor dat Wayne nooit die middag teruggekeer het nie en ook ’n afspraak misgeloop het.

’n Paniekbevange Charl het daarna Wayne vroegaand as vermis by die Rosebank-polisiestasie aangemeld. Hiér was hy nog besig om die papierwerk in te vul, toe ’n private speurder wat Wayne se werk aangestel het, gebel het om te sê dat Wayne se selfoonsein in Tembisa opgevang is.

“Ons het in die motor gespring en op pad soontoe het die polisie gebel en gesê dat ons nie alleen kan gaan nie en dat hulle sal saamkom. Hulle het toe ook agtergekom iets is groot fout,” vertel Charl.

Wayne en Charl Smith (Foto: Verskaf)

Dié selfoon kon egter nooit opgespoor word nie, maar wat die polisie wel tans weet is dat die foon toe in Tembisa verkoop is. Later sou die polisie ’n man ondervra wat Wayne se simkaart in sy foon gehad het. Dié verdagte is egter daarna vrygelaat aangesien daar nie genoeg bewyse was wat hom kon verbind aan Wayne se verdwyning nie.

Met die verloop van die afgelope maand sou foto’s van Wayne se motor, ’n silwer Renault Clio, ook opduik waarin dit te koop aangebied word.

“Dié motor is ook nog nie opgespoor nie. Ons weet wel dat die foto’s onder mense versprei is en volgens informante het iemand die motor toe vir R15 000 gekoop,” verduidelik Charl. Hy klink raadop.

Hy verduidelik dat die polisie asook die private speurder alle leidrade opvolg. “Daar word baie gepraat oor die motor en oor die selfoon, maar daar is nog nie een woord oor Wayne nie. Dít is wat my rasend maak. Nêrens het iemand hom gesien nie.

“Jou kop sê vir jou een ding en jou hart sê iets anders. Jy besef die tyd stap aan.”

Kapt. Sifiso Mabizela, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê hoewel die saak aanvanklik by die Rosebank-polisiestasie aanhangig gemaak is, is dit sedertdien na die Parkview-polisiestasie oorgeplaas.

“Parkview werk nou saam met die provinsiale polisie. Dit is inderdaad ʼn taakspan [wat na Wayne soek],” het Mabizela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Onnie ·

Dis verskriklik. Ek kan my dit nie indink nie. Ek wil nie negatief klink nie, maar dinge lyk nie goed vir Wayne se veilige terugkeer nie. Dis baie hartseer.

Pik ·

Seker is daai cctv as hy ook na n mall gegaan het sterkte aan almal maar wat hier gekryf staan maak alles nie sn nie

Bedrog Slagoffer ·

Vandat al die vlugtelinge uit buurlande hier is, steek al hierdie ongewone misdaad kop uit. Ontvoering, afdreiging, eis van n losprys, internetbedrog, verdowingsmiddels. ens.

Liza ·

Sjoe dis vreeslik….Mens kan net bid dat ons Hemelse Vader hom veilig hou.

Joey ·

Kry die Siener van Kempton Park, Gerald Burger. Dalk kan hy lig op die saak werp, wie weet?!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.