Johannesburg-metro se begroting voorgelê

funzela-ngobeni

Funzela Ngobeni, die Johannesburgse metro se burgemeesterskomiteelid vir finansies, het Woensdag ʼn begroting van R64,5 miljard vir die finansiële boekjaar van 2019-’20 voorgelê. Foto: Joburg.org.za

Johannesburgers sal binnekort sowat 13% meer vir elektrisiteit in die ekonomiese middelpunt van Suid-Afrika moet opdok.

Funzela Ngobeni, die Johannesburgse metro se burgemeesterskomiteelid vir finansies, het Woensdag ʼn begroting van R64,5 miljard vir die finansiële boekjaar van 2019-’20 voorgelê.

Dit sluit ʼn bedryfsbegroting van R56,7 miljard in en ʼn kapitaalbegroting van R7,8 miljard met ʼn driejaar-kapitaalbegroting wat R24,5 miljard sal verteenwoordig.

Johannesburgse nuwe tariewe vir dienste soos elektrisiteit, water, vullisverwydering en eiendomsbelasting is ook voorgelê.

Elektrisiteit sal inwoners van Johannesburg voortaan 13,07% meer uit die sak jaag. Dit volg ná ʼn aanvanklike tariefverhoging van 12,20% voorgestel is.

“Die stad het alles in sy vermoë gedoen om die tariefverhogings van 15,63% wat Nersa vroeër vanjaar aan Eskom toegestaan het te absorbeer, maar ons het geen ander uitweg gehad as om die voorgestelde tarief met ʼn bykomende 0,87% te verhoog nie,” het Ngobeni gesê.

Hy sê die Johannesburgse metro het tydens die voorleggings by Nersa sterk kapsie teen die tariefverhogings gemaak.

“Sowat 45,2% van ons inwoners lewe onder die armoedsgrens en meer as 900 000 inwoners is werkloos terwyl ekonomiese vooruitsigte beroerd lyk. Die tariefverhogings is in dié lig beskou onaanvaarbaar. Dit is die armstes van die armes wat die swaarste gaan trek.

“Dit is waarom die metro, onder leiding van die uitvoerende burgemeester, met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wil vergader om die situasie rakende elektrisiteitstariewe, verskaffing en Eskom te bespreek.”

Die voorgestelde tariefverhoging van 9,9% vir Johannesburg Water se dienste is aanvaar en vasgestel vir die komende finansiële jaar.

Eiendomsbelasting is vasgestel op 5,5% en die vullisverwydering sal inwoners 7% meer uit die sak jaag.

“Die metro het sy interne doeltreffendheid verhoog en sal voortgaan om verligting te bied aan behoeftiges in die stad met ʼn uitgebreide kortingsprogram,” het Ngobeni gesê.

Huishoudings met geen formele inkomste sal steeds 15 kiloliter water per maand verniet ontvang, asook 150 kilowatt uur se elektrisiteit. Inwoners met laer formele inkomstevlakke sal tussen 10 en 12 kiloliter gratis water ontvang.

Ngobeni meen dit is ʼn fyn balans om inkomste in te vorder en die kwesbares in die stad te beskerm.

johannesburg-ponte-gebou

‘n Stadsprofiel van Johannesburg in Gauteng. Foto: Willie/Pixabay.com

Foute op diensterekeninge

Hy het erken die stad se rekeningstelsel laat egter steeds veel te wense oor.

“Tot op hede het ons sowat 9 000 uitstaande navrae op diensterekeninge. Dit is sowat 1% van alle fakture. In die verlede was daar 100 000 navrae, maar een rekening wat bevraagteken word, is ʼn rekening te veel.”

Ngobeni het gesê sedert sy aanstelling het hy hom daarop toegespits om die Johannesburgse finansiële stelsel te verstaan en te verbeter. Hy het egter erken die hantering van navrae neem steeds veels te lank om op te los.

“Ongelukkig is daar geen kitsoplossings vir die probleme met hierdie stelsel nie. Die metro het verskeie rolspelers betrek en ope dae gehou om te bepaal wat die verskillende streke se grootste uitdagings met die stelsel is. Ons sal die nodige hulpbronne toeken om inwoners se probleme met dié rekening te hanteer.”

Prioriteite vir Johannesburg

Volgens Ngobeni sal die grootste gedeelte van die begroting toegewy word aan die Diphetogo-projek wat beteken die stad sal daarop fokus om die lewensgehalte van Johannesburgers te verbeter.

Aandag sal gegee word aan die verbetering van openbare veiligheid en die ontwikkeling van basiese infrastruktuur terwyl die maatskaplike uitdagings en gesondheidsorg in Johannesburg ook voorkeur sal geniet.

Die driejaar-kapitaalbegroting van R3,5 miljard en ʼn bedryfsbegroting van R3,5 miljard is aan die behuisingsdepartement van die stad toegestaan.

Dit sal help om infrastruktuur en behuising in Diepsloot, Fleurhof, Kliptown, Lufheren, Vlakfontein en South Hills te ontwikkel.

  • Die Meadowlands-hostel sal teen R50 miljoen opgegradeer word.
  • Die Madala- en M2-hostelle in Alexander sal teen ʼn verdere R50 miljoen elk opgegradeer word.
  • Die Diepkloof-hostel sal teen R85 miljoen opgegradeer word.
  • ʼn Verdere 22 tehuise vir bejaardesorg sal ook teen R100 miljoen opgegradeer word.

ʼn Verdere driejaar-kapitaalbegroting van R440 miljoen is aan die omgewings- en infrastruktuurdepartement van die stad bewillig. R220 miljoen van die begroting sal aangewend word om afvalbehandelingstegnologie vir die stad in te stel. Die projek moet help om alternatiewe maniere te kry om vullis in die stad te hanteer aangesien die beskikbare spasie vir nuwe vullisterreine beperk is en bestaande terreine se gebruikstydperk binnekort uitloop.

ʼn Verdere R150 miljoen sal afgestaan word om beligting in openbare plekke te installeer terwyl R750 miljoen op medium termyn bestee sal word om informele nedersettings van elektrisiteit te voorsien.

In ʼn poging om die infrastruktuur vir watervoorsiening op te gradeer en nuwe waterreservoirs vir die stad te bou het die metro ʼn bedryfsbegroting van R11,5 miljard aan Johannesburg Water toegestaan wat ʼn driejaar-kapitaalbegroting van R3,2 miljard insluit.

Pikitup het ʼn driejaar-kapitaalbegroting van R427 miljoen ontvang.

Die stad se gesondheidsdepartement het ʼn kapitaalbegroting van R217 miljoen ontvang. Dit sal aangewend word om klinieke te bou en op te gradeer. ʼn Verdere R20 miljoen sal in die e-gesondheidstelsel belê word om 10 nuwe mobiele klinieke in dié boekjaar te open. Die stad beoog ook om bedryfsure vir klinieke te verleng.

Maatskaplike ontwikkeling het ʼn bedryfsbegroting van R253 miljoen ontvang.

Argieffoto

Veiligheid van inwoners

Ngobeni het gesê die misdaadsyfer van die metro het afgeneem tussen 2007 en 2017. Hy het dit toegeskryf aan verhoogde sigbare polisiëring en die samewerking tussen verskillende veiligheidsorganisasies, asook verbeterde gemeenskapsverhoudinge.

Openbare veiligheid het ʼn driejaar-kapitaalbegroting van R277 miljoen ontvang en ʼn bedryfsbegroting van R5,5 miljard.

“Ek is bly om te sê die metro is besig met die tweede fase van aanstelling van sekuriteitswagte wat direk vir die stad self werk.”

Nog ʼn bykomende 1 500 JMPD-rekrute sal in Oktober 2019 in die stad ontplooi word.

R70 miljoen is ook beskikbaar gestel vir die stigting van ʼn geïntegreerde intelligensiesentrum vir openbare veiligheid (IIOC).

“Die sentrum sal data van geslote kringtelevisiekameras en ander sensors in die stad kan insamel en ontleed wat die herkenning van gesigte en nommerplate insluit. Die beteken daar kan ook vinniger in noodgevalle opgetree word.”

R80 miljoen is bewillig vir die opknapping van sentrale brandweerstasies en R30 miljoen sal bestee word om brandweer en reddingstoerusting op te gradeer.

Die Johannesburgse parkeraad en dieretuin het ʼn kapitaalbegroting van R150 miljoen ontvang en bedryfsbegroting van R1 miljard. Die begroting moet aangewend word om al Johannesburg se parke, oop spasies, begraafplase en bewaringsgebiede te onderhou.

R65 miljoen sal aangewend word om Joburg City Theatres te help met opknappingswerk sodat die stad inkomste kan verdien uit plaaslike en internasionale produksies wat hier aangebied word.

Argieffoto.

Vervoer in Johannesburg

Die stad se vervoerafdeling wat die Rea Vaya-busstelsel en Metrobus insluit, het ʼn bedryfsbegroting van R1,9 miljard ontvang.

“Ons beoog om gratis openbare vervoer vir pensioenarisse en persone met gestremdhede in te stel, soos voorgestel is deur ʼn mosie van raadslid Jay Maharaj van Cope.”

Die Johannesburgse padagentskap het ʼn bedryfsbegroting van R1,4 miljard ontvang. Die toewysing sal die agentskap help om die Johannesburgse padnetwerk en stormwaterinfrastruktuur te onderhou, herstel en uit te brei. Die agentskap is ook verantwoordelik vir onderhoud van die stad se brûe, verkeersligte en aanwysingsborde.

“Op medium termyn het ons R30 miljoen beskikbaar gestel vir bykomende maatreëls om verkeersdruk deur die hele stad te hanteer. Meer as R1,1 miljard sal beskikbaar gestel word om paaie te herstel van byvoorbeeld slaggate. Nog ʼn verdere R1 miljard is op medium termyn begroot om grondpaaie vir verskeie gemeenskappe te teer.

“Ek glo die begroting wat die multiparty-koalisieregering van Johannesburg vandag hier voorgelê het, weerspieël die administrasie se volgehoue verbintenis om positiewe verandering vir die gemeenskappe in die stad te bring,” het Ngobeni afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vonkprop ·

Die lae-inkomste groepe sal weer gehelp word ten koste van die middel- en hoërklas groepe. Ons almal trek swaar en ek is persoonlik moeg daarvoor om pa te staan vir ander mense. Ek het ook uitgawes en ek het ook ‘n familie en ‘n gesin om na om te sien, maar nou kry ‘n vreemdeling gratis water en elektrisiteit deur ons duurder vir dienste te laat betaal. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is nie ongevoelig nie, maar ek is middelklas en moet ook maar planne maak in die maand om deur te kom. Dit sal makliker gaan as ek nie vir ander se dienste te hoef betaal nie.

Wonder net ·

Ek bly nie in JHB nie en het seker geen sê nie maar tog ‘n paar vrae.
Dieselfde senario van gratis krag en water vir lae inkomste huishoudings geld ook op ons kleiner dorpies.
Is daar meters by al die wonings vir water en krag?
Word verdere toevoer summier geblok as die gratis deel gebruik is en gaan die huishoudings dan oor op voorafbetaalde verbruik?
Op watter kriteria word besluit wie mag gratis kry en wie nie? Dink so daaraan:
A) Ek kry SASSA en kwalifiseer vir die gratis deel. Intussen woon my kinders wat werk by my. Saam verdien ons nou heelwat maar kry steeds alles gratis want ek het aansoek gedoen.
B) Ek en my man werk en verdien redelik maar kan niks gratis kry nie. Intussen is die gesamentlike inkomste minder as die in geval A.
Ek sien nêrens dat daar begroot is om onwettige verbindings te polisieër en met voorafbetaalmeters te vervang nie.
Weet die mense ooit hoe om krag en water spaarsamig te gebruik.
Almal moet weet: NIKS IS VERNIET NIE. As ek iets verniet kry het iemand anders daarvoor betaal.

Gert van Wierdapark ·

Mens sou dink hy sou die finansiele stelsel verstaan het VOOR sy aanstelling! Al wat hy en sy helpers moet doen is om dit te verbeter!

Hans ·

Word die inkomstevlak van die persone wat al die “gratis” dienste ontvang ooit geoudit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.