Johannesburg ‘onvriendelikste’ stad in die wêreld; Kaapstad een van die vriendelikste

Kaapstad Foto: www.charmingasiatours.com

Kaapstad Foto: www.charmingasiatours.com

Kaapstad is onlangs deur die reis-tydskrif Condé Nast Traveler aangewys as een van die vriendelikste stede in die wêreld, maar Johannesburg is egter as die onvriendelikste stad ter wêreld aangewys.

Lesers wat aan die peiling deelgeneem het, het Kaapstad as die agtste vriendelikste stad in die wêreld aangewys. “Kaapstad is een van die ongelooflikste plekke ter wêreld”, skryf een van die tydskrif se lesers. “Dit is die ideale mengsel van natuurskoon met sy see, berge, en strande. Dit was ook veilig om alleen rond te loop, al was ek vrou alleen.”

Sommige lesers het Johannesburgers egter as onvriendelik en onbehulpsaam opgesom, en groot kommer oor misdaad in dié stad uitgespreek. “Johannesburg is een van die mooiste stede in die wêreld, maar veiligheid bly kommerwekkend,” skryf ʼn leser. “Dit is nie veilig om alleen in Johannesburg te reis nie,” het ʼn ander leser gewaarsku. “Dit is gevaarlik, ʼn stad van misdaad.”

Een van die lesers het ʼn nare ondervinding gehad toe iemand in die stad op ʼn fooitjie aangedring het, al het die persoon dit nie verdien nie.

Ondanks die stad se slegte reputasie onder toeriste, word dit steeds erken as Suid-Afrika se grootste stad met ʼn toename in kultuurskatte en ‘n ongelooflike stedelike landskap. Daar is “uitstekende brouerye” en “groot winkelsentrums”, meen die lesers.

Melbourne in Australië en Auckland in Nieu-Seeland is gesamentlik as die vriendelikste stede aangewys.

Die top 10 vriendelikste stede in die wêreld volgens Condé Nast Traveler:

1. Gelyke telling – Auckland, Nieu-Seeland; Melbourne, Australië
3. Victoria, Brits-Columbië, Kanada
4. Charleston, Suid-Karolina (VSA)
5. Gelyke telling – Dublin, Ierland; Sydney, Australië
7. Siem Reap, Kambodja
8. Kaapstad, Suid-Afrika
9. Gelyke telling – Savannah, Georgia (VSA); Seville, Spanje
11.Boedapest, Hongarye; Salzburg, Oostenryk

Top 10 onvriendelikste stede:

1. Johannesburg, Suid-Afrika
2. Cannes, Frankryk
3. Moskou, Rusland
4. Parys, Frankryk
5. Marseille, Frankryk
6. Beijing, China
7. Frankfurt, Duitsland
8. Milan, Italië
9. Monte Carlo, Monaco
10. Nassau, Bahamas

Bron: CNTRAVELER.COM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

"Huh!" ·

Dit sal ek goed glo. Ek stem net nie saam dat Kaapstad so veilig is nie.

Elizabeth ·

Ai dis net sleg. Ek het altyd jare gelede toe ek nog baie oorsee gereis het altyd vir almal vertel van hoe vriendelik Suid Afrikaners is en behulpsaam ens. En dit was tog so, almal van alle rasse was baie meer vriendelik as nou. Maar ja ek glo dit, ek hoef net in ‘n winkel in te stap (en ek woon nie eers in een van die twee stede) en word mens meestal nie gegroet of mens word baie swak behandel. ‘n Glimlag is verniet en kos regtig nie veel inspanning nie en voel mens nie beter as jy net GAAF is met mense nie? Regtig nie moeilik nie…

Ekke ·

Ek moet saam stem met die Jo’burg ding. Die jaar wat ek daar gebly het was onaangenaam en ek dink nie ek sal ooit weer iets met Johannesburg te doen wil hê nie. Die mense in net te onaangenaam!

Louis du Plessis ·

‘n Faktor wat ‘n mens, sonder om hoogmoedig te raak, nie heeltemaal uit die oog moet verloor nie, is dít: Kaapstad is die enigste metro in die Suid-Afrika, en die Wes-Kaap die enigste provinsie, waar ons moedertaal so wyd gepraat en geskryf en gelees word. Trouens, in die Wes-Kaap is meer as die helfte van die bevolking Afrikaans. Dalk maak dit tog ‘n klein verskil aan gasvryheid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.