Johannesburg se geliefde grootpoot sterf

Kinkel (Foto: Verskaf)

’n Geliefde olifant van die Johannesburg-dieretuin is Dinsdag onverwags dood.

Nonhlanhla Sifumba, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsontwikkeling, het gesê personeel van die dieretuin is in rou gedompel ná die skielike dood van die 35-jarige olifantbul, Kinkel.

Kinkel het Maandag siek geword en dadelik mediese behandeling ontvang, maar tevergeefs. Hy is ’n enkele dag daarna dood. Dit is steeds onbekend presies wat die oorsaak van sy dood was.

Volgens Sifumba het Kinkel vir die afgelope tien jaar met koliek gesukkel. Sy koliek het egter verlede jaar vererger waarvan die ergste voorval drie koliekaanvalle in een week was. Die aanvalle was wel nie van lange duur nie – dit was gewoonlik ná vyf minute verby. Kinkel se laaste aanval was in Junie vanjaar. Volgens Sifumba is Kinkel se koliek fyn deur ’n veearts gemonitor en met ’n goeie dieet en behandeling onder bedwang gehou.

Sifumba vertel dat Kinkel baie spesiaal was, en geliefd was onder die dieretuinpersoneel en besoekers. Sy blyplek het deurgaans die meeste besoekers gelok.

’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word en die uitslae sal teen die einde van die week beskikbaar wees. Afhangende van die oorsaak van sy dood, kan die presiese oorsaak dalk eers bekend wees nadat laboratoriumtoetse oor ’n week of twee gedoen word.

Volgens Sifumba het Kinkel saam met ’n 39-jarige olifantkoei, Lammie, gebly. Die dieretuin het bevestig dat Lammie baie swaar kry ná Kinkel se dood, aangesien olifante baie sosiale diere is.

Dieretuinpersoneel het Maandag gesien hoe Lammie probeer om Kinkel op te help. Teen Dinsdag het sy geweier om te eet. Alice, haar dieretuinbewaarder, vermoed sy was toe reeds bewus daarvan dat iets verkeerd was.

Volgens Sifumba is die dieretuin steeds onseker hoe Lammie haar emosies rondom Kinkel se dood gaan uitdruk. Haar gedragspatroon sal dus gemonitor word en die dieretuin sal intensief met Lammie werk om haar te help om haar maat se dood te verwerk, aangesien olifante ’n besondere goeie geheue het en daarvoor bekend is dat hulle rou.

Personeel wat na Kinkel omgesien het sal ook berading ontvang, aangesien hulle baie emosioneel is ná sy skielike dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Thersia ·

Ag moet hom asb nou net nie probeer vervang nie. Hierdie arme diere hoort in die wild…

LouE ·

Ek stem saam, Thersia. Daar is nou genoeg TV programme en wildtuine. Ons hoef nie meer diere in hokke te sit nie. Ons respekteer diere en hulle Vryheid.

Vir Kinkel en Lammie ·

Rus in Vrede Kinkel. Jy is nou vry met geen verdere pyn of lyding. Ek hoop jy is nou in ‘n plek waar jy vry kan rondloop en die lekkerste blare van die bome kan afpluk en eet. Lammie gaan jou erg baie mis.

Lammie ek hoop hulle plaas jou terug tussen jou eie soort in die Wildtuin waar jy tussen ander Olifante kan wees en baie lekker sappige blare en die grootste boomwortels kan eet. Dit moet baie erg wees on jou hele lewe lank in ‘n hok aangehou te word en met ‘n ketting om die poot. Veral as jy ‘n Olifant is.

Staak ·

Maroela net so vir julle inligting, n mens skenk geboorte maar n dier lam of kalf of gee geboorte, n mens eet of nutig n maal maar n dier vreet, n mens stef of gaan heen waar n dier vrek.
Onthou dit in die vervolg asb.

Ellisras ·

Hier moet die Taalkundiges help asb. Mense sterf. Diere vrek. Om “menseregte” vir diere te gee is verkeerd. Natuurlik moet daar diereregte wees. Maar daar is ‘n verskil.

Hannelie ·

Ai ons het weer BAIE taalkundiges hier vandag. Kom ons sê maar net Kinkel is dood, dan voel almal beter. Sterkte aan die personeel wat so lank vir Kinkel geken het. Mens raak baie lief vir diere, veral as jy ‘n diereliefhebber is.

leser ·

“staak”
as jy dan wil sê dat jou kat vrek is dan doen jy so, as ek sê my hond is dood, dan is hy dood
jy wil sekerlik mm aanvat oor die olifantkoei wat saam met kinkel was, hoekom sê jy dan nie dit moet ñ olifant vroulike dier wees nie
moenie net halfpad praat nie

Daan Erasmus ·

Botswana het vyftig duisend olifante. Olifante word tussen 50 en 70 jaar oud. Met ‘n gemiddeld van 50 jaar. Maak die somme, hoeveel gaan per jaar van ouderdom dood. Dit is ‘n natuurlike proses.

Vreet, vrek en teef is lelike woorde ·

Ons twee honde eet en ons is baie lief vir hulle en hulle vir ons. Wanneer een van ons honde doodgaan sê ons hulle is dood of het gesterf. En ja ons treur erg as iets met hulle gebeur.

Vreet en vrek is nie woorde wat ons gebruik nie en ons wil ook nie hierdie woorde gebruik nie. Ons verwys ook nie na ons vroulike hondjie as ‘n teef nie. Ek moet egter eerlik wees en byvoeg dat ek al laasgenoemde woord in my gedagtes gehad het tydens interaksie met mense.

Kloekie ·

Dieretuine en sirkusse(met diere) moes laaaaankal al verban word. Dis mos belaglik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.