Johannesburg se IT-sentrum gesaboteer, sê burgemeester

Argieffoto (Foto: jarmoluk, Pixabay)

ʼn Inbraak en die diefstal van koperkabels ter waarde van R2 miljoen by Stad Johannesburg se datasentrum Saterdag in Braamfontein het ten doel om die stad se data- en infrastruktuuromgewing te saboteer, het burgemeester Herman Mashaba gesê.

Die stad is besig om sy datasentrum en rampbestuursentrum oor te bou, het hy bygevoeg.

“Ons belê in die beskerming van ons inwoners se inligting en maak seker dat ons kapasiteit intern bou sodat ons ons afhanklikheid van ander verskaffers kan minimaliseer.”

Inligting en data is bates wat beskerm moet word teen kwesbaarheid en dat enigiemand onwettig toegang kan bekom. Die Stad se groep- forensiese en ondersoekdiens (GFIS) stel ondersoek in oor die kontrakte wat met ICT-verskaffers aangegaan is.

“Ek wil die korrupte elemente in die stad uitroei, insluitend om onwettige ooreenkomste en kontrakte te ondersoek wat deur die vorige administrasie aangegaan is. Dit sluit ons tegnologiespasie in. Ek glo die inbraak het ten doel om die inisiatief te saboteer. Die oortreders kon gelukkig nie toegang kry tot ons sentrum waar die data-infrastruktuur gehou word nie.”

Die inbrekers het na bewering Saterdag in die vroeë oggendure toegeslaan en toegang bekom deur ʼn nooduitgang op die grondvloer van die gebou. Hulle het daarna ʼn deur afgebreek wat na ʼn stoorkamer lei, waar kontrakteurs, wat instandhoudingswerk doen, hul gereedskap bêre. Hulle het slypmasjiene en verlengingskoorde gesteel en die kabels gesny.

Hulle het kabels gesteel wat verbind is met twee kragopwekkers wat onlangs aangekoop is, en in die proses was om getoets te word. Geen kragonderbrekings is ervaar nie.

“Ons vermoed iemand aan die binnekant het met hulle saamgewerk, as mens kyk na die manier waarop die oortreders toegang bekom het tot die gebou. Daar is nie enige teken van gedwonge toegang by die deur wat hulle gebruik het nie.”

Die stad bied ʼn beloning van R100 000 aan enige inwoner wat inligting kan verskaf wat sal lei tot die inhegtenisneming en vervolging van die oortreders wat betrokke was by hierdie poging om die stad te “saboteer”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Inside job, solank daar n afset gebied vir die kabels is sal dit nie stop nie, skroot handelaars imoet strenger beheer word,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.