Johannesburg se skuldvooruitsig afgradeer

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die Stad Johannesburg het gesê die kredietgraderingsagentskap Moody’s het sy vooruitsig oor die stad se skuld van stabiel na negatief verander.

Moody’s het Johannesburg se langtermyn-uitreiker- en skuldgraderings van Baa3 (globale skaal en plaaslike geldeenheid) en Aa1.za (nasionale skaal, plaaslike geldeenheid) en korttermyn-uitreiker-graderings van P-3 (globale skaal, plaaslike geldeenheid) en P-1.za (nasionale skaal, plaaslike geldeenheid) bevestig.

Volgens Moody’s is van die faktore waarop hul kredietopinie gegrond is die feit dat Johannesburg die grootste stad in Suid-Afrika is met ongeveer vyf miljoen inwoners. Dit beteken die stad het ʼn groot en sterk belastingbasis soos bewys deur sy vermoë om meer as 80% van sy inkomste self te genereer.

Die stad het ook bestuurbare vlakke van netto direkte en indirekte skuld in verhouding tot sy bedryfsinkomste. Moody’s het gesê hy verwag dat Johannesburg sy skuldvlak van gemiddeld 38% van bedryfsinkomste oor die volgende drie jaar sal handhaaf.

Moody’s het wel gesê dat die likiditeitsdruk wat die stad in die gesig staar toegeneem het. Die agentskap het dit verwag aangesien die Stad sy kapitaaluitgawes verhoog het namate daar in 2019 inbeweeg word.

Die Stad het gesê hy het in ʼn poging om aandag te gee aan Moody’s se bekommernisse verskeie inisiatiewe van stapel gestuur, waaronder ʼn meer doeltreffende rekeningbestuurbeleid wat strook met wetlike voorskrifte en munisipale verordenings.

Die Stad sal ook standaardbedryfsprosedures vir inkomsteprosesse opdateer en implementeer om beheermaatreëls en stelsels te verbeter, streng kredietbeheerprosesse te implementeer, oninvorderbare skuld te verminder, ʼn faktuur- en betalingsportaal te ontwikkel en die gebruik van e-dienste uit te brei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alida ·

Moodys is seker nie bewus van al die miljoene wat onwettige kragverbindings het nie. Die stadsraad sit met hul hande in die hare om daai skuld in te vorder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.