Johannesburg sluit 85 jaar oue brandweerstasie

Die Sentrale Brandweerstasie in Kruisstraat sal moontlik in ’n museum omskep word.Foto: Google Maps

Die Stad Johannesburg sê hy het sy geskiedkundige brandweerstasie in die middestad gesluit ná ʼn inspeksie deur die departement van arbeid.

Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid, sê hulle het die besluit geneem in belang van die veiligheid van brandbestryders en personeellede wat by die stasie werk.

Die Sentrale Brandweerstasie in Kruisstraat is in 1933 opgerig om die brandweerstasie van 1906 te vervang en was destyds een van die die modernste gebou in sy soort ter wêreld, volgens die webtuiste artefacts.com.

Al is die brandweerstasie ʼn belangrike erfenisterrein vir die stad, sê Sun dit het moeilik geraak om dit in stand te hou as ʼn brandweerstasie wat doeltreffend gebruik kan word om aan die middestad se behoeftes te voldoen.

Hy sê personeel van die Sentrale Brandweerstasie is in die Fairview-brandweerstasie ontplooi word wat ook in Distrik 3 is. Hy sê dit sal nie dienslewering benadeel nie en dat werknemers se veiligheid nie in gedrang sal kom nie.

Met sy opening in 1933 was die Sentrale Brandweerstasie die modernste in sy soort ter wêreld. Foto: artefacts.co.za

“Al is dit hartseer dat die Sentrale Brandweerstasie sluit, beplan ons om die gebou op te knap as ʼn brandweermuseum aangesien dit so ʼn ryk geskiedenis het en ons die dapper brandbestryders moet gedenk wat die Stad Johannesburg gedien het.”

Voordat die ou stasie gesluit is, het die afdeling openbare veiligheid reeds begin om ʼn nuwe brandweerstasie te bou, wat ook in die middestad geleë is. Die ontwerpplan is reeds goedgekeur.

Omdat dit na aan ʼn uitgediende mynskag is, moet die afdeling openbare veiligheid eers op goedkeuring van die nasionale departement van mineralehulpbronne wag.

Hy meen die perseel van die nuwe stasie is ideaal vanweë die grootte daarvan en omdat dit naby vername padverbindings is. Die afdeling openbare veiligheid hoop bouwerk aan die nuwe gebou sal voor Junie volgende jaar begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieterv ·

Nou sit ek met n lastige knop in my keel!
My Pa het in die laat 1940’s en vroeë 1950’s daar diens gedoen. Sy gunsteling foto al die jare was een van hom en van sy makkers langs een van die voertuie. Blink “helmets” en al.
Ek’s net bly dit word as museum oorweeg.

Alida ·

Agge nee! Dit kon mos maar net opgeknap word en sy geskiedkundige waarde behou het. Veel goedkoper as n totaal nuwe gebou.

Magrietha ·

En so werk dit in sa yskort brandweer wat nog.Laat mense sonder werk sit maak (skep werk ) leker man hulle baie slim so dink hulle

Ella ·

As die gebou gereeld in stand gehou en opgeknap is sou dit nie nodig wees. Nou gaan dit onder vandale deurloop
Dit is ikabod vir SA onder die ANC.
Kry hulle nie skaam nie?

Estelle ·

Daardie gebou sal nou vir al wat vrotsel en vandaal is oopstaan om te plunder. Wys my een museum wat deur die staat onderhou word.

Peet Schabort ·

Estelle, ek kan jou ‘n hele paar wys MAAR hulle is almal die struggle-museums. Een goeie voorbeeld is die Bethalmuseum waar ek sukkel om ‘n tikmasjien op bruikleen uit hulle te kry. Ek glo egter nie dit is meer daar. Hou stil by die museum op Heilbron in die hoofstraat, dis die moeite werd!

Nico K ·

Hoe kry Europa dit reg om geboue wat ‘n paar honderd jaar oud is, nog steeds te gebruik. In Europa sal ‘n gebou van 1933 as modern beskou word.

ctd ·

Ek verstaan een ding nie . Daar is nie geld om die brandweer stasie op te knap en reg te maak om weer n diens te lewer nie maar daar sal iewers geld wees om dit in n museum te verander. Diens lewering is nou maar net pateties in Suid Afrika.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.