Johannesburg spog met 42 nuwe ambulanse

Die nuwe ambulanse. (Foto: Twitter)

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het Donderdag 42 nuwe ambulanse wat deur die Stad aangekoop is, amptelik in gebruik geneem.

Die Goudstad se vloot bestaan nou uit 101 ambulanse wat tot inwoners in nood se beskikking is.

Die burgemeester is heel in sy skik met die aankoop wat deel vorm van die Stad se vlootvervangingsprogram om ou en beskadigde voertuie te vervang.

Mashaba het gister met behulp van Michael Sun, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, en Nomathemba Mtshali, waarnemende uitvoerende hoof van die stad se nooddienste, die nuwe vloot by die Ivory Park-brandweerstasie amptelik bekendgestel.

Die ambulanse sal by verskeie brandweerstasies reg oor die stad versprei word om die druk op die Stad se huidige hulpbronne te verlig, het Mashaba gesê.

“Al 30 stasies [in die stad] sal elkeen ten minste een ambulans ontvang en sommige sal twee ontvang, op grond van die hoeveelheid noodoproepe wat binne daardie streek ontvang word. Daar sal ook gekyk word na van ons armste gemeenskappe wat van die meeste oproepe ontvang,” het Mashaba gesê.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, in een van die nuwe ambulanse. (Foto: Twitter)

Die noodinbelsentrum ontvang gemiddeld meer as 30 000 noodoproepe per maand.

Drie jaar gelede het Johannesburg ʼn beraamde bevolking van 4,4 miljoen inwoners gehad, terwyl die groter Johannesburgse metropolitaanse gebied ongeveer 8 miljoen inwoners gehad het.

“Die uitbreiding van hierdie vloot sal ons paramedici in staat stel om gehalte diens vinniger te lewer. Die Stad se reaksie op prioriteit mediese oproepe staan tans op ʼn gemiddeld van 85% binne 15 minute,” het Mashaba gesê.

“Ek is intussen ingelig dat die Gautengse provinsiale regering van voorneme is om die Stad Johannesburg se ambulansdiens oor te neem. Ek is baie bekommerd dat die veiligheid van ons inwoners in gedrang geplaas kan word indien dit sou gebeur.

“Hierdie kommer berus op die tragiese Life Esidimeni-voorval toe die Gautengse departement van gesondheid pasiënte uit private sorg verwyder het. Dit het tot die dood van 143 mense gelei,” het Mashaba gesê.

Mashaba het gesê terwyl die provinsie binne sy regte is om sy eie ambulansdiens te bestuur, meen hy dat die oordrag van stadsambulanse na die provinsie dienslewering aansienlik sal belemmer.


Indien die video nie speel nie, kyk dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJ ·

Veertig van die Ambulanse sal seker weer ingespan word as taxis

Swartwolf ·

No doubt. Hoeveel keer al gesien hoe so ambulans stop en ten minste tien perfek gesonde mense aflaai op die straathoek.

Janine ·

Dieselfde ding gedink toe ek dit lees…free uber taxi’s

Jan Botha ·

Mashaba roer dinge. As die DA Johannesburg Kan behou, gaan daar groot verbeterings wees.

Heksie ·

Al daar gesit en kyk hoe bring die verskeie ambulansdienste pasiente na Joburg Gen, lyk omtrent soos Parkstasie.
Ek hoop hierdie nuwe ambulanse sal die nood kan verlig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.