Johannesburg toe nie beurtkrag gespaar

‘n Lugfoto van Johannesburg vanaf die 51ste verdieping van die Ponte-toring (Foto: LUCA SOLA/AFP)

Nadat City Power oor die naweek gesê het Johnnesburg sou van beurtkrag kwytgeskeld wees, het die kragvoorsiener nou ’n ommekeer gemaak.

City Power het onlangs ’n ooreenkoms met die Kelvin-kragstasie aangegaan wat die kragvoorsiener bykomende kapasiteit van tot 220 MW gee. Die kragvoorsiener het toe die naweek gesê dit sal beteken dat hy nie fase 1‑ en fase 2‑beurtkrag hoef toe te pas nie.

Ondanks City Power se beloftes was dele van die stad die naweek steeds sonder krag wanneer beurtkrag toegepas is. Die kragvoorsiener het ook nou ’n ommekeer gemaak nadat daar met Eskom vergader is.

“City Power sal die stelseloperateur [Eskom] se direktiewe volg en implementeer en beurtkrag op sy klante in die stad Johannesburg toepas soos nodig is,” lui ’n gesamentlik verklaring deur City Power en Eskom.

Volgens die entiteite is daar ’n gesamentlike begrip daarvoor om die nasionale kragnetwerk te beskerm terwyl die impak van beurtkrag verminder word.

“Eskom en City Power sal voortgaan om te soek na ’n blywende tegniese oplossing om City Power-klante in die stad Johannesburg gedeeltelik van beurtkrag uit te sluit.”

City Power het nadat hy die bykomende kapasiteit bekom het, ’n versoek aan Eskom gerig om van fase 1‑ en fase 2‑beurtkrag uitgesluit te word.

“Tegnici van Eskom en City Power sal voortgaan om die tegniese aspekte rakende die ooreenkoms met die Kelvin-kragstasie te oorweeg en te verifieer of die bykomende kapasiteit tot die nasionale kragnetwerk gevoeg kan word. Die spanne sal ook tegniese moontlikhede ondersoek wat die stad Johannesburg in die toekoms gedeeltelik of ten volle teen beurtkrag kan beskerm.

Die DA sê intussen City Power se ommekeer het Mpho Moerane, burgemeester van Johannesburg, as ’n leuenaar ontbloot.

Mpho Phalatse, DA-burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, meen die aankondiging dat Johannesburg se inwoners van beurtkrag kwytgeskeld sou wees, was niks minder nie as ’n verkiesingsfoefie deur die ANC.

“Die verwarring oor of inwoners beurtkrag sou ondervind of nie, was onnodig en selfsugtig. Dit bewys weereens die onvermoë van die ANC om doeltreffend te regeer, en dat die party op blatante verkiesingsleuens staatmaak in ’n laaste poging om stemme te wen.”

Phalatse meen Moerane moet bedank weens sy gebrek aan verantwoordelike leierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Baardman ·

Die oomblik toe Eskom(regering) inmeng, is dit ‘n mislukking.

casper ·

City Power is ook net ‘n afdeling van die onbeholpe ANC so jy kan NOOIT glo wat hulle se nie — Klomp idijits !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.