Johannesburgse nierspesialis sterf

Dr. Hendrik Viljoen, ’n nefroloog van Johannesburg, is Woensdag dood. (Foto: Facebook / Annie Busse)

Dr. Hendrik Viljoen, ’n bekende Johannesburgse nierspesialis, is Woensdag in die ouderdom van 66 dood. Hy was 27 jaar lank verbonde aan Netcare Garden City-hospitaal in die stad.

Jacques du Plessis, besturende direkteur by dié hospitaal, sê Viljoen het in sy loopbaan meer as 600 nier- en 25 gekombineerde nier-en-pankreasoorplantings gedoen.

“Sy dood is ’n reuseverlies vir die Netcare-familie en sy medespesialiste. Ons gaan hom baie mis.

Du Plessis het sy meegevoel jeens Viljoen se geliefdes en kollegas uitgespreek en voorts gesê dat Viljoen ’n sterk nalatenskap agterlaat.

“Hy het ’n reusebydrae in die veld van nefrologie gelewer en die lewe van duisende pasiënte geraak.”

“Dr. Viljoen het ook ’n sterk akademiese nalatenskap vir die volgende geslag medici agtergelaat vanweë sy tyd as hoof van die Departement Nefrologie aan die Universiteit van die Vrystaat vroeër in sy loopbaan.”

In ’n huldeblyk aan Viljoen het ene Annie Busse op Facebook geskryf dat sy hom baie sal mis.

“As dit nie vir dokter was nie, was ek en Nathan nie vandag hier nie. Van dag een het dokter elke tree van my oorplanting saam met my gestap, saam met my baklei. Die beste omgee dokter ooit!”

Viljoen word oorleef deur sy vrou, Sandra, en vyf kinders, Gerrit, Hein, Marina, Luré en Arden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Innige simpatie en meegevoel aan sy familie en kollegas en pasiënte.

KhoiKhoi ·

Innie simpatie aan die familie maar ook dankie dat jul hom met die mensdom gedeel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.