Johannesburgse ontwikkelingshoof sterf

Christo Botes (Foto: ANA)

Die Stad Johannesburg het Donderdag die afsterwe van Christo Botes, uitvoerende hoof van die Johannesburgse ontwikkelingsagentskap (JOA), aangekondig.

Reuben Masango, lid van die burgemeesterskomitee vir ontwikkelingsbeplanning, het gesê Botes se dood kom as ʼn groot skok aangesien hy ʼn groot bate vir die Stad Johannesburg was wat eindelose toewyding deur sy werk getoon het.

Botes het tussen 2000 en 2005 as wyksraadslid vir wyk 102 van die stad gedien en het ʼn sleutelrol in die vestiging van die Randburg Sentrale Verbeteringsdistrik (CID) gespeel.

Volgens Masango het Botes se passie en kennis van omgewingsgebaseerde ontwikkeling ʼn beduidende bydrae tot die vernuwing en opknapping van die middestad gelewer.

“Hy was nie net ʼn goeie vriend en mentor vir baie nie, maar ook ʼn gewaardeerde lid van die JOA-span – selfs voor sy aanstelling as uitvoerende hoof in 2018,” het Masango gesê.

“Ons wil ons diepste en mees opregte meegevoel met sy familie en vriende, asook sy personeel by die JOA, betuig. Woorde kan nie ons hartseer uitdruk nie.”

Dit is nie in dié stadium duidelik hoe Botes gesterf het nie.

ʼn Gedenkdiens sal Saterdag om 15:00 ter ere van Botes gehou word by die Spark Gallery, Ivyweg, in Norwood in die stad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.