John Block op parool vrygelaat

John Block (Foto: Polity.org.za)

Die departement van korrektiewe dienste het bevestig dat John Block van Vrydag op parool vrygelaat is.

Block is op 6 Desember 2016 vyftien jaar tronkstraf opgelê vir korrupsie en geldwassery.

“Die besluit oor die paroolplasing is geneem deur die raad op korrektiewe toesig en parool (CSPB) kragtens artikel 73 van die Wet op Korrektiewe Dienste,” sê Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement.

“Die oortreder-rehabilitasiepad speel ʼn belangrike rol wanneer ʼn gevangene se geskiktheid vir paroolplasing deur die raad oorweeg word. Mnr. Block was ʼn aktiewe gevangene en het aan ʼn rits korrektiewe programme deelgeneem. Hy het ook ʼn diploma in ondernemingsbestuur bekom. Verslae deur spesialiste vorm deel van die materiaal wat by die CSPB ingedien word, aangesien dit besonderhede verskaf wat betref die gevangene se gereedheid vir sosiale herintegrasie.”

Volgens Nxumalo het Block voordeel getrek uit die Spesiale Kwytskelding van Vonnisoplegging 2019, 2020 en 2023. “Sy minimum-aanhoudingsperiode is dus verkort tot 13 September 2023. Die Spesiale Kwytskelding van Vonnis vir verdienstelike diens kragtens artikel 80 van die Wet op Korrektiewe Dienste is ook in ag geneem.”

Block sal die res van sy vonnis in ʼn stelsel van gemeenskapsverbetering uitdien. Hy word onderwerp aan toesig wat ooreenstem met paroolvoorwaardes tot sy vonnis op 26 Junie 2029 verstryk.

Block is in 2016 saam met Christo Scholtz, sy medebeskuldigde en voormalige sakevennoot, in die hooggeregshof in Kimberley tot effektief 15 jaar tronkstraf elk gevonnis. Die aanklagte het verband gehou met hul betrokkenheid by huurooreenkomste teen ongehoorde pryse met die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling. ʼn Verbeurdverklaringsbevel van R2 miljoen is teen Block uitgereik en een van R53 miljoen teen Scholtz en Trifecta.

Volgens Nxumalo is Scholtz nog nie op parool vrygelaat nie, omdat hy vermoedelik nie aansoek gedoen het vir die Spesiale Kwytskelding nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Hy is nou gekwalifiseerd vir die kabinet.

Johann ·

Ongelooflik wat als in plek is om gevangenes te akkomodeer?

George ·

Daar is beslis groot fout in ons regstelsel en Korrektiewe Dienste…al hoe meer gevangenisse word liggies oor die vingers getik net om maar weer betrokke te raak by kriminele aktiwiteite na ontslag…daar sal beslis weer van John Blok gehoor word…eenmaal n krimineel…altyd n krimineel

SjN ·

Volgens berigte is daar nog uitstaande sake teen Block wat nog nie afgehandel is nie, hy moes nie eens in aanmerking gekom het om te gekwalifiseer vir kwytskelding nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.