John Block terug in beskuldigdebank oor tenderbedrog

John Block (Foto: Polity.org.za)

John Block (55), voormalige ANC-leier in die Noord-Kaap en LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, was Dinsdag terug in die hof op aanklag van bedrog. Hy het vlugtig in die landdroshof in Upington verskyn.

Block dien tans 15 jaar tronkstraf in die Upington-gevangenis vir korrupsie uit.

Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, word daar beweer dat ʼn boukontraktender vir ʼn psigiatriese hospitaal buite Kimberley op bedrieglike wyse aan Babereki Consulting Engineers Beperk in 2003 toegeken is.

“ʼn Tender ter waarde van R51 miljoen vir struktuur- en ingenieursdienste is aan Babereki Consulting Engineers Beperk toegeken, hoewel hulle nie aan die spesifieke vereistes voldoen het nie,” sê Mnisi.

Patience Mercia Mokhali (65), voormalige provinsiale departementshoof van die departement van openbare werke en paaie, en Tshegolekae Motaung (59), asook sy maatskappy, Babereki Consulting Engineers Beperk, het verlede week reeds in die landdroshof in Kimberley oor die aangeleentheid verskyn.

Block sal saam met sy medebeskuldigdes op 11 Julie in die landdroshof in Kimberley verskyn.

Block is in 2016 saam met Christo Scholtz, sy medebeskuldigde en voormalige sakevennoot, in die hooggeregshof in Kimberley tot effektief 15 jaar tronkstraf elk gevonnis.

Die aanklagte hou verband met hul betrokkenheid by huurooreenkomste teen ongehoorde pryse met die Noord-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling. ʼn Verbeurdverklaringsbevel van R2 miljoen is teen Block uitgereik en een van R53 miljoen teen Scholtz en Trifecta.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Eish wonder wat het hy met al die geld gemaak. Smile seker lekker want hy gaan seker nooit weer hoef te werk as hy uitkom nie

Papsak ·

Ja jy kan sien wie is hy en watse vlag wapper langs hom dan kan jy maar dink wat jy wil sluit toe

JohanR ·

‘n ANC in die tronk! Dit was nou ‘n wonderwerk. As hy die dag uitkom staan hy seker vir president.

SjN ·

Reeds in die tronk, nuwe vonnis gaan seker verreken word vir die tydperk reeds uitgedien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.