Johrné groet ‘GROOT Ontbyt’

Johrné van Huyssteen verruil die TV-kameras vir die Oos-Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Johrné van Huyssteen, wat die afgelope ses jaar die anker van Die GROOT Ontbyt op kykNET was, roep die program in Februarie as aanbieder vaarwel toe.

Van Huyssteen verruil die Jakarandastad vir die Oos-Vrystaat nadat hy vroeër vanjaar ʼn aanbod gekry het om mede-eienaar van ʼn eiendomsagentskap op Clarens te wees.

Nie net is hy ʼn bekende in vermaakkringe nie, Van Huyssteen het ook in 2001 sy meestersgraad in praktiese teologie aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Hy was ook ʼn lid van die Afrikaanse groep Ddisselblom.

Van Huyssteen het in 2011 by OFM as omroeper aangesluit en in 2015 by GROOTfm 90.5 wat saam met kykNET ʼn hibried-konsep begin het vir ʼn regstreekse radio- en televisie-uitsending soggens. Vanjaar het die bestuur besluit om die twee programme weer te skei, Die GROOT Ontbyt op kykNET en Die GROOT Brekfis op GROOTfm 90.5.

“Johrné was deurlopend die anker van die program, en het hom uitstekend van sy taak gekwyt. Dit is sy veelsydigheid, objektiwiteit en intellek – om nie eens te praat van sy humorsin nie – wat Johrné ʼn  uitsonderlike omroeper en aanbieder maak. Sy kennis oor Jan Alleman, en boonop Jan se doen en late, hedendaagse nuus en tendense, maak dat hy enige gesprek en onderhoud, met enige ateljee-gas kan voer,” lui ʼn verklaring van GROOTfm.

“Johrné het ʼn X-faktor wat hom geliefd maak – by sy kollegas en by duisende kykers.”

“My net meer as ses jaar by GROOTfm 90.5 en Die GROOT Ontbyt was seker van die lekkerste tye en werk in die afgelope 21 jaar van my loopbaan in die vermaakbedryf,” sê Van Huyssteen.

Van Huyssteen en sy mede-aanbieder, Elsa Esterhuizen. (Foto: Verskaf)

“Om elke oggend, al is dit so vroeg, op te staan en nie een keer op te sien na jou werk nie, is ʼn geweldige voorreg. Die span, voor en agter die skerms, moet die meeste erkenning kry met wat ons op ʼn tegniese vlak kon regkry. Elke kyker en luisteraar was ook fantasties, al het ons soms verskil, vies geword en gelag vir mekaar. ʼn Mens moet nooit vergeet dat die medium en die mense voor hulle skerms en radio’s die belangrikste is nie. Sonder hulle is jy werkloos.”

Hoogtepunte van die afgelope paar jaar sluit in onderhoude met Elon Musk se ma, Maye, die Bosasa-fluitjieblaser Angelo Agrizzi, die internasionaal bekende skrywer Jeffrey Archer, die voormalige krieketspeler Gary Kirsten en die alternatiewe musiekgroep Wonderboom.

Maar eintlik was elke onderhoud ʼn hoogtepunt, sê Van Huyssteen.

Elsa Esterhuizen, Van Huyssteen se mede-aanbieder, sê hy het haar telkens laat lag – iets wat haar gereeld deur verskeie uitsendings gedra het.

“Hy het my terselfdertyd behoorlik op my tone en knieë gehou met sy onvoorspelbare kwinkslae en sêgoed, omdat ʼn mens doodeenvoudig net nooit weet wat om te verwag nie. Ek wonder ook steeds waar hy al sy kennis bêre…

“Wat sy nuwe avontuur betref, beleef ʼn mens uit die aard van die saak maar gemengde emosies. Ek wens hom, sy liewe vrou, Alet, en hulle dierbare hondekinders Mnandi en Stoffel alle voorspoed en sukses toe met hierdie opwindende nuwe hoofstuk en gaan my bes probeer om nie jaloers te wees op die feit dat sy wekker nou soggens héélwat later gaan raas as myne nie – om nie eens van die beeldskone uitsig te praat nie.”

Hoewel Johrné nie meer permanent langs die geel bank te sien gaan wees nie, gaan hy nog deeltyds betrokke wees waar hy via ʼn aanlyn platform sekere onderhoude gaan fasiliteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.