Jong boer onder lem ná kleinhoewe-aanval

Matthew Joubert voor die voorval. Foto: Verskaf

Matthew Joubert, die jong boer wat verlede week op ʼn kleinhoewe buite Pretoria geskiet is, moes Maandag sy 20ste verjaardag vier, steeds met ʼn koeël wat in sy borskas vassit en baie pyn veroorsaak.

“Hy het sy verjaardag baie rustig gevier. Hy het nog baie pyn en moet rustig wees, so hy boer maar in sy kamer of voor die televisie,” het Nicky Joubert (50), Matthew se ma, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Matthew is verlede Maandag omstreeks 19:00 op sy gesin se kleinhoewe buite Cullinan, oos van Pretoria, geskiet. Matthew en sy ouer broer, Gideon (23), boer daar met inheemse bokke terwyl hul pa, Gideon (51), as konsultant vir ʼn IT-maatskappy werk.

ʼn Onbekende aantal aanvallers het weggekruip en hom uit die bloute in die bors geskiet toe hy die duiwehok gaan toemaak het. Hy het teruggehardloop na die huis waar hy voor sy ouers inmekaargesak het.

Matthew is na ʼn private hospitaal in die noorde van die stad gehaas en is ʼn dag later ontslaan.

Volgens Nicky het ʼn dokter daar gesê hulle kan nie die koeël uithaal nie, want dit sit in sy bors in die senuwees van sy ribbe vas. Matthew se ouers is glo ingelig as die dokters die koeël verwyder, kan hy dalk die gebruik van sy linkerarm verloor.

Hy is verlede Woensdag vir ʼn tweede mening na ʼn chirurg wat Vrydag probeer het om die koeël, wat sowat 5 mm onder die vel was, onder lokale verdowing te verwyder.

“Die prosedure was ongelukkig onsuksesvol aangesien die glibberige koeël bly rondskuif het. Ons is verwys na ʼn chirurg by die Zuid-Afrikaans-hospitaal wat die koeël Woensdag onder narkose gaan verwyder. Die koeël bly nou rondskuif en is nou naby sy long. Die koeël moet nou uitkom sodat hy weer kan aangaan met sy lewe.”

Nicky het gesê polisiebeamptes het onderneem om tydens die operasie gereed te staan sodat die koeël as bewysstuk ingedien word sodra dit verwyder is.

Die Cullinan-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

realis ·

Die polisie staan by sodra die koeel verwyder is sodat hulle dit kan laat verdwyn.
Ons is nie dom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.