Jong boer sterf toe bakkie rol

Divan Schoonraad (20) is Maandag in ’n motorongeluk dood. (Foto: Facebook)

ʼn 20-jarige boer van die Noord-Kaap is Maandag op slag dood toe hy beheer oor sy Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie verloor en dié gerol het.

Divan Schoonraad was van Loxton in die Karoo na sy ma, Cornemari Viljoen (45), in Victoria-Wes onderweg toe die ongeluk plaasgevind het.

Schoonraad het gedurende die week op die plase Klipgat, Sandgat en Witbank in dié omgewing geboer en naweke huis toe gekeer.

Hy sou volgende jaar by die Grootfontein-landboukollege in die Oos-Kaap gaan studeer.

“Hy was onmenslik geliefd en gaan vreeslik gemis word,” het Viljoen Dinsdag aan Maroela Media gesê.

“My moederhart is verpletter, leeg en stukkend.”

Divan Schoonraad (20) is Maandag in ’n motorongeluk dood. (Foto: Verskaf)

Schoonraad se liefde vir ander, sê Viljoen, is een van die dinge waarna sy die meeste gaan verlang.

“Hy het my altyd so baie gedruk en gesoen. Hy was so oulik met kinders en vreeslik lief vir diere.”

Viljoen sê haar seun het die mooiste maniere en baie respek vir ander gehad.

“Hy het ʼn groot hart gehad en ʼn manier om mense om hom altyd beter te laat voel oor hulself.”

Viljoen sê haar seun het daarvan gedroom om eendag te boer en was lief vir jag, gholf en sosialiseer. Schoonraad was ook besig met opleiding om sy vlieglisensie te bekom.

Hy laat sy ma, kleinsus, Marné (17), en pa, David (53), agter.

Huldeblyke het intussen ook vir Schoonraad op sosiale media ingestroom.

Die sanger, Neil Somers (Rehnear Kleinhans), het op Facebook geskryf dat hy Schoonraad baie gaan mis.

Divan Schoonraad en sy ma, Cornemari Viljoen. (Foto: Verskaf)

“Dis nog onwerklik, ou bul. Jou omgee vir ander het bo alles uitgestaan. Jy’t my kinders soos jou klein sussies hanteer. Jou ouers kan ongelooflik trots wees op die jong man wat jy was … is.

Ons mis jou en wens ons kon net een laaste keer kuier,” het Somers gesê.

Viljoen sê daar sal waarskynlik twee roudienste vir Schoonraad gehou word – een in Victoria-Wes en een in Pretoria waar David en baie van sy vriende woon.

Schoonraad het in 2019 sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Menlopark in dié stad voltooi.

Amptelike reëlings is egter nog nie getref nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Di ·

Ai wat ‘n groot verlies! Mag ons Hemelse Vader die jongman se familie en vriende die krag gee om deur hierdie moeilike tyd te kom. Dis altyd so hartseer wanneer iemand so jonk sterf. Sterkte veral aan sy ouers wat nou deur ‘n baie moeilke tyd gaan.

Gerhardus coppenhagen ·

Dis werklik tragies,behou die mooi wat hy agterlaat,sterkte verder

TRP ·

Ek het nie woorde nie. So jammer.

So baie jongmans die afgelope tyd oorlede, my hart is so seer vir elke familie.

Racheltjie Debeer ·

Dis bitter hartseer, en soos jy sê, daar is soveel jong mense wat die afgelope tyd sterf.

Skappie ·

Sterkte aan julle as ouers, vriende. Mag onse Liewe Heer julle almal styf vas hou in Sy arms, in hierdie moeilike tyd wat nou vir julle voorle.

Charlie Brown ·

My innige simpatie aan sy Ouers, Sussie, familie en vriende. Niemand wil ‘n jong mens afstaan aan die dood nie. Mag julle omvou word met liefde en troos in hierdie tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.