Jong boer van die jaar kan (byna) alles met tang, draad regmaak

Henna du Plessis, TLU SA se Jonboerg van die jaar. Foto: TLU SA

Henna du Plessis, ʼn groenteboer van die Koedoesrand-distrik by Maasstroom in Limpopo, het vanjaar met die louere weggestap in TLU SA se Jong boer van die jaar-kompetisie.

Die 33-jarige Du Plessis, wat benewens groente ook met wild op die plaas Rockferry boer, het sewe ander finaliste van reg oor die land uitgestof toe hy vandeesweek op TLU SA se jaarkongres as die wenner aangewys is.

“Dit was hierdie jaar besonder moeilik om tot ʼn besluit te kom oor wie die wenner moes wees,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA en ook een van die beoordelaars. “Henna se spanwerk op die plaas sowel as sy passie vir die landbousaak, sy gemeenskapsbetrokkenheid en sy lojaliteit teenoor TLU SA maak hom ʼn waardige wenner.”

Du Plessis, wat onlangs sy eersteling saam met sy vrou, Candice, verwelkom het, is ook ʼn lid van TLU SA se dinamiese Jongboerkomitee wat geldinsamelings vir die Traumafonds bestuur en slagoffers van plaasmoorde bystaan. Hy het tydens die kongres ʼn bedrag van R30 000 vir hierdie doel ingesamel.

“Ek sal graag onthou wil word as ʼn eerlike persoon wat altyd sal help en graag betrokke wil wees,” sê hy. Op die vraag oor wat jy nie met ʼn tang en draad kan regmaak nie, is sy antwoord vinnig en eenvoudig: “liefde”.

AJ Wohlfarht (34) van Wohlfarht Pluimvee in Gauteng naby Magaliesburg is as die naaswenner aangewys. Hy boer met pluimvee. In die derde plek was Lukas Eksteen (33) van Buffelsfontein naby Mokopane, Limpopo. Hy boer met beeste en spesifiek Bonsmaras.

“Die kwaliteit van hierdie jong boere skep vir ons hoop vir die toekoms van landbou in Suid-Afrika,” sê Van Zyl. “Die uitnemendheid van elke finalis se boerdery is noemenswaardig en elke kandidaat het hom- en haarself in hulle spesifieke bedryf onderskei.”

Die TLU SA se Jong boer van die jaar-kompetisie word deur Old Mutual Insure Agri, Manitou en Mahindra ondersteun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vonkprop ·

Mag hulle gespaar word om vir dekades lank hulle passie te kan uitleef in hierdie stukkende land. In Jesus se Naam, Amen.

Deloris ·

Opskrif by fioto
Jonboerg… Seker wees Jong boer
Alle geluk wense vir jou Henna Ek het die program gekyk en jou hande staan stil vir niks.

Zoom Zoom ·

Die man behoort in die parlement. Met Sy werke kan hy dalk ons land ook regmaak.
JY is ‘n YSTER

sweis ·

Baie geluk en sterkte,ek wonder net oor een ding ry hy n ford bakkie dat hy so vernuftig is met tang en draad.?

Justice ·

Manne soos Henna is net wat die land nodig het – baie geluk!

Janbek ·

Jong as jy gewoond is om ford te ry kom die draad en tang storie tot sy volle reg. Maar knap gedaan met die toekenning.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.