Jong boer wat brand ontslaan: ‘Hy is vir seker ’n vegter’

Tewie Nel (Foto: Verskaf)

“Dit was ’n blye dag.”

Só vertel Gerhard Nel, die pa van Tewie Nel (25), nadat sy seun Maandag na 50 dae in die intensiewesorgeenheid uit die hospitaal ontslaan is.

Tewie, ’n jong boer van Hertzogville in die Vrystaat, het op 19 Oktober erg gebrand toe hy probeer het om ’n brand op hul plaas in bedwang te bring. Die brand is veroorsaak deur ’n veldbrand wat daardie Sondag te midde van ’n betoging op die R708 tussen Hertzogville en Christiana uitgebreek en in die rigting van Bultfontein, Hoopstad en Dealesville versprei het.

Volgens Nel het Tewie 50 dae lank in die intensiewesorgeenheid in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein om sy lewe geveg.

“Hy het drie keer by die dood omgedraai. Hy het die eerste Vrydag nadat hy opgeneem is, ’n hartstilstand gehad, maar die dokters kon hom weer terugbring. Twee weke later het hy akute brongospasma opgedoen en die dokters het gesukkel om hom daardeur te kry. Drie weke gelede het ons hom amper verloor weens septisemie, maar weereens het hy net deurgetrek.

“Hy is vir seker ’n vegter.”

Tewie die dag toe hy uit die hospitaal ontslaan is (Foto: Verskaf)

Tewie se ma, Sumaria Willemse, het dag en nag vir sewe weke lank langs sy bed gesit en sy persoonlike versorging hanteer. Omdat sy hande so erg gebrand het, kon hy niks vir homself doen nie.

Tewie het derdegraadse brandwonde aan sy gesig, albei sy arms, bene en hande asook oor sy lyf opgedoen. Hy het in die tyd in die hospitaal die nodige veloorplantings gekry.

“Ons sal weer moet teruggaan hospitaal toe, want hy sal nog veloorplantings moet kry. Ons moet ook dié wat reeds gedoen is, noukeurig monitor en behandel.”

Tewie kan nog nie sy regterhand gebruik nie, waarvoor hy oor die volgende paar maande fisioterapie moet ontvang. Die wonde in sy gesig het al goed herstel terwyl sy regterhand en bene nog met verbande verbind is.

“Tewie is baie meer positief vandat hy by die huis is. Gister toe ons hom met die rolstoel uit die hospitaal gestoot het, het hy gesê dit is die mooiste dag wat hy ooit gesien het.

“Hy het begin depressief word in die hospitaal, en nou kan hy sien daar is ’n lewe buite die hospitaal.”

Tewie sal eers op die plaas bly om ten volle te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vonnie

fabulous nuus! sterkte jong man!

Robert

Fantasties, hoop jy herstel volkome

Persheks Adri

Alle sterkte! Ons dien ‘n groot God en Hy’s tot alles in staat!

Willem

Ons dank en loof die Heer vir sy herstel. Alle sterkte

Jakes

Saam met hom en sy gesin dankbaar. Die Skepper is altyd goed.