Jong Bokke slaggereed vir reeks in Queensland

Die Junior Bokke skop die o.20-Rugbykampioenskap teen Nieu-Seeland af. (Foto: X)

Die Junior Bokke het Woensdagaand vir die o. 20-Rugbykampioenskap na Australië vertrek waar Bafana Nhleko se span aanstaande maand teen Nieu-Seeland in hul eerste wedstryd van die reeks op die Sonskynkus-stadion in Queensland te staan kom.

Die kampioenskap is die eerste van sy soort waar spanne uit die Suidelike Halfrond mekaar die stryd aansê. Die reeks dien as ʼn voorsmakie vir die o. 20-Wêreldbekertoernooi wat van 29 Junie tot 19 Julie in Kaapstad aangebied word.

Nhleko, breier van die span, het verlede week sy groep van 31 spelers aangewys. Die voorbereiding vir die reeks in Australië het Dinsdag geëindig met ʼn opwarmingswedstryd teen die Goue Leeus.

Die Bokke se breier is in sy noppies oor die voorbereiding vir die kampioenskap.

“Ons is baie opgewonde om na Australië te toer en aan hierdie toernooi deel te neem. Dit is ʼn wonderlike geleentheid vir die Junior Springbokke om ons vaardighede te toets en internasionale ervaring op te doen,” het Nhleko gesê.

“Die toernooi is ʼn wonderlike inisiatief en bied aan ons groep die geleentheid om ʼn identiteit te bou, bande te versterk en aan te hou groei op en van die veld af.”

Ná hul voorbereidingskamp op Stellenbosch waar die spelers in ʼn paar oefenwedstryde teen plaaslike provinsiale spanne in aksie was, het Nhleko gesê hulle het baie duidelike doelwitte vir die toernooi in Australië.

“Ons het gepraat oor die belang van prestasie. Om dit te doen moet jy konsekwent wees in jou gedrag en speelstelsels in ʼn mededingende toetswedstryd-omgewing,” het hy gesê.

“Die jong manne is opgewonde oor hierdie geleentheid om hulself te toets en in ʼn ander land te speel, om die Australiese kultuur te ervaar en om as ʼn groep aan te hou groei.”

Die kampioenskap behels ʼn rondomtalie-formaat van ses wedstryde waar Australië, Nieu-Seeland en Argentinië om die trofee sal meeding.

In Junie en Julie neem die Junior Bokke weer deel aan die jaarlikse Wêreldrugby- o. 20-kampioenskap, wat vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar in die Wes-Kaap aangebied word.

Die Junior Springbokke was verlede jaar vir die soveelste keer die bronsmedaljewenners in die kampioenskap. Hulle het Engeland met 22-15 in die uitspeelwedstryd om die derde plek in die Athlone-stadion in Kaapstad geklop.

20-Rugbykampioenskapbepalings:

2 Mei:

  • 09:00: Junior Springbokke teen Nieu-Seeland
  • 11:00: Australië teen Argentinië

7 Mei:

  • 09:00: Nieu-Seeland teen Argentinië
  • 11:00: Junior Springbokke teen Australië

12 Mei:

  • 05:30: Junior Springbokke teen Argentinië
  • 07:30: Australië teen Nieu-Seeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.